Verna Vels

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Verna Vels
Geboortenaam Verna Barbara Robertson Vels
Gebore 13 Junie 1933
Reitz
Oorlede 21 Augustus 2014
Johannesburg
Nasionaliteit Suid-Afrika
Bekend vir Liewe Heksie
Eerbewyse Tienie Hollowaymedalje

Verna Vels (*13 Junie 1933 – †21 Augustus 2014) was ’n Afrikaanse skryfster, radio-omroeper en storieverteller wat veral bekend was as die skepper en stem agter Liewe Heksie, ’n kinderprogram wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai is.

Biografie[wysig | wysig bron]

Verna Barbara Robertson Vels is op Reitz in die Vrystaat gebore waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Sy skryf in 1953 vir ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria in en voltooi haar studies in 1954 met drie hoofvakke in Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis. Vels begin in 1954 by die SAUK se kantore in Durban as omroeper te werk. Sy het die draaiboek geskryf vir die rolprent Lag met Wena: ’n Afrikaanse Filmkonsert. Vir die res van haar professionele loopbaan sou sy nou by die radio- en televisiewese betrokke wees. Sy was vir die laaste 12 jaar van haar lewe toesighoudende regisseur van 7de Laan.[1]

Kort voor haar dood is Vels gediagnoseer met borskanker.[2] Sy is in haar slaap in haar huis in Johannesburg oorlede.

Toekennings[wysig | wysig bron]

Sy is op 3 Februarie 2011 tydens kykNET se Fiestas vereer vir haar lewensbydrae tot die Afrikaanse woordkuns.[3] Die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur is in 2000 aan haar toegeken.

Ander pryse wat haar toegeval het:

  • Federasie van Rapportryers (1985) – Vir die Liewe Heksie-reeks
  • Artes-toekenning (1993) – Vir haar bydrae tot die uitsaaiwese
  • FAK-prys (1996) – Vir die bevordering van die Uitvoerende Kunste
  • Tienie Hollowaymedalje (2000) – Liewe Heksie en die rekenaar
  • ATKV-kinderboektoekenning (2001) – Liewe Heksie en die rekenaar
  • C.P. Hoogenhout-toekenning (2002) – Liewe Heksie en die rekenaar

Boeke[wysig | wysig bron]

Kinder- en jeugboeke wat sy geskryf het:

  • Liewe Heksie, Human & Rousseau, 1965
  • Liewe Heksie kom weer, Human & Rousseau, 1965
  • Liewe Heksie en Matewis, Human & Rousseau, 1968
  • Liewe Heksie in die pekel, Human & Rousseau, 1969
  • Liewe Heksie gaan maan toe, Human & Rousseau, 1973
  • Liewe Heksie vang vis, Human & Rousseau, 1973
  • Alet, Perskor, 1978
  • Liewe Heksie en die silwerrroos, Human & Rousseau, 1978 (TV-uitgawe)
  • Liewe Heksie en die sterretjieskombuis, Human & Rousseau, 1978 (TV-uitgawe)
  • Liewe Heksie in die helikopter, Human & Rousseau, 1979 (TV-uitgawe)
  • Liewe Heksie maak ’n plan, Human & Rousseau, 1981 (TV-uitgawe)
  • Liewe Heksie Stories, Human & Rousseau, 1983 (geïllustreer deur Dorothy Hill)
  • Die Groot Liewe Heksie Storieboek, Human & Rousseau, 1983
  • Liewe Heksie en die rugbywedstryd, Human & Rousseau, 1988 (geïllustreer deur Nikki Jones)
  • Liewe Heksie en die rekenaar en ander stories, Human & Rousseau, 1999 (geïllustreer deur Piet Grobler)
  • Die Liewe Heksie Omnibus, Human & Rousseau, 2002 (geïllustreer deur Piet Grobler)

Stemme op TV[wysig | wysig bron]

Vels was die stem agter die volgende TV-karakters:

  • Wielie Walie: - stem van Bennie Boekwurm.
  • Liewe Heksie: - stem van Liewe Heksie, Blommie kabouter en Matewis die kat.
  • Haas Das hou konsert - stem van Klein Stinkie Muishond.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

  • Vetseun se databasis van Vels se skeppings

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Mailovich, Claudi (27 Augustus 2014). "Harte seer oor Verna, 'maar moenie huil'". beeld.com. Beeld. Verkry op 27 August 2014. 
  2. "Liewe Heksie se 'ma' is siek" (html). Rapport. 26 Julie 2014.  Onbekende parameter |= geïgnoreer (help)
  3. kykNET deel eerste Fiestas uit, Die Burger, 4 Februarie 2011.