Pretoriase Kunsmuseum

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Syaansig van die Pretoriase Kunsmuseum

Die Pretoriase Kunsmuseum is 'n kunsmuseum in Arcadia, Pretoria in Suid-Afrika. Die museum is geleë in Arcadia Park wat die hele blok tussen, Park-, Wessels-, Schoeman-, en Johannstraat beslaan.

Die Pretoria Kunsmuseum het tot stand gekom om die Stadsraad van Pretoria se kunsversameling wat sedert die 1930's opgebou is te huisves. Die versameling het veral 'n hupstoot gekry toe Lady Michaelis in 1932, na haar man, Sir Max Michaelis, se dood 'n groot aantal kunswerke aan die stadsraad bemaak het. Die versameling het veral 17de eeuse werk van die Noord-Hollandse skool bevat. Suid-Afrikaanse werke het die van Henk Pierneef, Pieter Wenning, Frans Oerder, Anton van Wouw en Irma Stern ingesluit. Die versameling is aanvanklik in die Stadsaal gehuisves. Aangesien Suid-Afrikaanse museums in Kaapstad en Johannesburg reeds goeie versamelings van 17de, 18de en 19de eeuse Europese kuns gehad het, is besluit om te fokus op die saamstel van 'n verteenwoordigende versameling van Suid-Afrikaanse kuns. Benewens bogenoemde kunstenaars is werk van Hugo Naudé, Maggie Loubser en andere aangeskaf. Die aankoop van Internasionale werk was gefokus op meer bekostigbare grafiese drukke uit Europa en die VSA. Meer onlangs is groter klem gelê op kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns en die bou van 'n historiese meer verteenwoordigende versameling wat ook tradisionele kuns en nuwe-media insluit.[1]. Na die afsterwe van die beeldhouer Lucas Sithole 1994 is die helfte van sy onvoltooide werk deur die Haenggi stigting aan die museum geskenk nadat dit deur kunshistorikus Elza Miles gedokumenteer is. [2] Die Suid-Afrikaanse versameling sluit nou ook werk van Gerard Sekota en Judith Mason in.[3] Sedert die middel 1990's word die Nuwe Handtekeninge kompetisie ook by die Pretoria Kunsmuseum gehou. [4]

Die Pretoria Stadsraad het in 1954 besluit dat 'n gebou opgerig moes word om die kunsversameling te huisves. Die argiteksfirma Burg, Lodge en Burg en W.G. McIntosh, en die boukontrakteur J. Zylstra (Edms) Bpk is aangestel. Die kurator van die Johannesburg Kunsmuseum, Anton Hendriks het in adviserende hoedanigheid opgetree en die stadsklerk van Pretoria, Henry Preiss, wat die dryfveer agter die projek was, het in 1956 met vakansie in Europa getoer waar hy kunsmuseums bestudeer het.[1]

Bouwerk het op 26 Januarie 1962 begin en die hoeksteen is op 19 Oktober 1962 deur die destydse eerste minister Dr H.F. Verwoerd en die burgemeester van Pretoria, Raadslid E. Smith, gelê. Die gebou uit beton en glas is oor 'n tydperk van 18 maande teen 'n bedrag van R400 000 voltooi. Die ontwerp is in die modernistiese Internasionale Styl ontwerp en tegniese innovasies wat op daardie tydstip uitvoerbaar was is gebruik. Die museum is amptelik ingehuldig op 20 Mei 1964 deur die nuwe burgemeester van Pretoria, Dr P.J. van der Walt. . Die eerste kurator van die nuwe Pretoria Kunsmuseum was Dr Albert Werth wat vroeg in 1963 aangestel is en tot met sy aftrede in 1991 as Direkteur van die kunsmuseum in die diens van die museum was.[1]

Addisionele uitstalruimte is in 1975 geskep met die oprig van afskeiding van 'n oop gedeelte tussen die hoofingang en die Oos-Galery. Die gebou is in 1988 en weer in 1999 opgegradeer. In laasgenoemde geval in voorbereiding van die internasionale uitstalling, Leonardo da Vinci: wetenskaplike, uitvinder, kunstenaar. 'n Beeldetuin is ook op die stadium tot die museum toegevoeg.[1]

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 PAM, History, Besoek op 30 Desember 2006
  2. Museums.com, LUCAS SITHOLE VIRTUAL MUSEUM, Besoek op 30 Desember 2006
  3. SouthAfrica.info Art galleries in Gauteng, Besoek op 30 Desember 2006
  4. Sasol New Signatures, Besoek op 30 Desember 2006