Randall Abrahams

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Randall Abrahams

Randall Abrahams is 'n Suid-Afrikaanse radio- en televisiepersoonlikheid en is die meeste bekend vir sy rol as die "streng beoordelaar" op die Idols-televisiereeks.[1]

Agtergrond[wysig]

Abrahams is in Kaapstad gebore en het Harold Cressy High School bygewoon.[1] Hy het van 1988 tot 1992 aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer, waar hy 'n BA (Hons) behaal het.[1] Hy het ook verskillende bestuursrolle by handelsradiostasies van die SAUK beklee:[2] hy het in 1992 by die Kaapse stasie Good Hope FM as programmeringsassistent aangesluit, waarna hy tot stasiebestuurder bevorder is — 'n pos wat hy van 1994 tot 1997 beklee het.[1][2] Hy het Good Hope verlaat en na Johannesburg verhuis, waar hy gehelp het met die vestiging van die jeugradiostasie YFM en as stasiebestuurder van 1997 tot 2002 gedien het.[1] Van 2000 tot 2001 was hy ondervoorsitter van die National Association of Broadcasters (NAB), die bedryfsliggaam verantwoordelik vir die bevordering van die visie van die uitsaaisektor, en van 2001 tot 2003 het hy die amp van voorsitter beklee.[1][2]

TV-beoordelaar[wysig]

In 2002 was hy een van die oorspronklike beoordelaars op M-Net se werklikheidsangkompetisie Idols, wat op die internasionale formate Pop Idol en American Idol geskoei is.[1] Hy het sedertdien tydens elke seisoen van die reeks as beoordelaar opgetree, en vervul die nie-amptelike rol van "Mnr. Nors".[1] Randal was ook 'n beoordelaar op die World Idols-kompetisie in 2003, waarin Idols 1-wenner Heinz Winckler vierde geëindig het.[1]

Bestuursposte[wysig]

Van 2002 tot 2006 was jy Algemene Bestuurder van Kommersiële Radio by die SAUK[2][1] en was hy verantwoordelik vir die sukses van 5FM, Metro FM en Good Hope FM.[1] Sedert hy die SAUK verlaat het, tree hy as onafhanklike konsultant vir die digitale en openbarebetrekkinge-bedrywe[2][1] terwyl hy sy werk vir televisie voortduur.[1] Hy het ook as vryskutjoernalis gewerk en tot publikasies soos Financial Mail, Tribute, Y Mag, Advantage en Blink bygedra.[1] Hy was ook die eienaar en besturende vennoot van die openbarebetrekkingefirma Total Exposure (wat die publisiteit vir SA's Got Talent bestuur het), van die projekbestuurmaatskappy Mushroom Productions en van die multimediabemarkingsmaatskappy RAMM.[1]

SA's Got Talent[wysig]

Randall is een van die beoordelaars op die debuutseisoen van die SABC2-werklikheidsreeks SA's Got Talent, wat op die Britse Got Talent-formaat geskoei is en wat in Oktober en November 2009 uitgesaai is.[1] Weens sy streng kommentaar tydens talentreekse soos Idols en SA's Got Talent word hy soms die Simon Cowell van Suid-Afrikaanse televisie genoem.[3]

Verwysings[wysig]

  1. 1,00 1,01 1,02 1,03 1,04 1,05 1,06 1,07 1,08 1,09 1,10 1,11 1,12 1,13 1,14 1,15 Randall Abrahams (Webbladsy). TVSA. URL besoek op 2009-11-13.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 Mr Randall ABRAHAMS (Webbladsy). whoswhosa.co.za. URL besoek op 2009-11-12.
  3. Randall Abrahams: Summary (Webbladsy). tv.com. URL besoek op 2009-11-12.

Eksterne skakels[wysig]