Tenzin Gyatso

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Tenzin Gyatso
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Die Dalai Lama in San Francisco, 2014

Geboortenaam Lhamo Dondrub
Gebore 6 Julie 1935
Taktser, Amdo, Tibet
Nasionaliteit Vlag van Indië Indië
Ouers Choekyong Tsering die 9de
Diki Tsering
Titel Die 14de Dalai Lama
Termyn in amp 17 November 1950 – hede
Voorganger Thubten Gyatso
Eerbewyse Nobelprys vir Vrede (1989)
Religie Boeddhisme
Dalai Lama's Signature.svg

Tenzin Gyatso, die veertiende Dalai Lama en uitgeweke leier van die Tibetaanse volk, was die hoofkrag agter die behoud van Tibet se ryk en antieke kultuur sedert die Sjinese, vasberade om sy unieke identiteit uit te wis, Tibet in 1950 ingeneem het. Na sy vlug na Indië in 1959 het hy 'n demokratiese regering-in-ballingskap gestig wat toegewy was tot die bevryding van Tibet en die welsyn van die nou meer as 120 000 Tibetaanse vlugtelinge.

Hy het 53 landbou-vlugtelinggemeenskappe begin, die skepping van 'n Tibetaansse skoolstelsel bestuur, verskeie kultuurinstellings ingewy om Tibet se kuns en wetenskap te bewaar en meer as tweehonderd abdye weer hervestig om die Boeddhisteleer lewend te hou.

Sedert sy eerste oorsese besoek in 1967, het hy uitgebreid deur die wêreld gereis, lesings aangebied en ondersteuning gewerf vir die Tibetaanse saak. Waar hy ookal reis, word hy deur wêreldleiers genooi om oor wêreldvrede te praat. Ondanks die feit dat die Sjinese alles wat vir hom belangrik was, vernietig het, het hy gekies om hulle deur middel van geweldlose teenstand te opponeer en het hy daarom in die afgelope 40 jaar 'n simbool van vrede geword. In 1989 het hy die Nobelprys vir Vrede ontvang.

Lewensgeskiedenis[wysig]

Tenzin Gyatso in Wene, Oostenryk in 2012

Lhamo Dhondup, die vierde seun van 'n arm arbeidergesin, is op 6 Julie 1935 in die Tibetaanse dorpie Taktser in die Amdo provinsie gebore. Na die dertiende Dalai Lama oorlede is, is soekpartye uitgestuur om sy opvolger te vind. Na verskeie tekens en 'n reeks toetse het hulle die tweejarige Lhamo Dhondup (later Tenzin Gyatso genoem) gevind en herken as die veertiende reïnkarnasie van die Dalai Lama. In 1939, net na sy vierde verjaardag, is hy na die hoofstad Lhasa gebring, waar hy amptelik as die hoof van die staat van Tibet bevestig is.

Weens die aura wat sy posisie omring het, het hy die grootste deel van sy kinderlewe saam met leermeesters of op sy eie deurgebring. Sy opleiding as Boeddhistiese monnik het begin toe hy ses jaar oud was en het 'n bestudering van die enorme Boeddhistiese leer, gereelde meditasiesessies en die bemeestering van die vaardigheid om oor godsdienstige onderwerpe te debatteer ingesluit. Terwyl hy gedebatteer het, het kragte egter buite gewoed.

In 1949 het die kommuniste die burgeroorlog in Sjina gewen en op 7 Oktober 1950 het die Sjinese Volk se Bevrydingsmag Tibet ingeval. Die vyftienjarige Dalai Lama is geroep om vol politieke gesag te aanvaar. Sy eerste stap was 'n beroep op die Verenigde Nasies, maar sy beroep is afgewys.

Deur die daaropvolgende nege jaar het hy probeer om vreedsaam met die Sjinese invallers saam te leef. Dit het onmoontlik geword namate die teregstellings en verwoesting deur die Sjinese toegeneem het. Die woede en wrok van sy mense het gelei tot 'n massiewe opstand op 10 Maart 1959 in Lhasa.

Die Sjinese het die opstand gewelddadig onderdruk en die Dalai Lama het besef dat hy geen ander keuse het as om uit Tibet te vlug nie. Hy is gasvry deur die Indiese regering ontvang en asiel toegestaan. Sedert 1960 woon hy in Dharamsala in Noord-Indië, die setel van die Tibetaanse regering-in-ballingskap.