San Francisco

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

San Francisco
SF From Marin Highlands3.jpg

Kaart Wapen
California county map (San Francisco County enlarged).svg
SFSEAL.svg
Vlag
Flag of San Francisco.svg
 Land Flag of the United States.svg Verenigde State
 Deelstaat Flag of California.svg Kalifornië
 County City and County
of San Francisco
 Koördinate 37°46′N 122°25′W
 Gestig op 29 Junie 1776
 Geïnkorporeer op 16 April 1850
 Oppervlakte:  
 - Totaal 600,6 vk km
 Hoogte bo seevlak 16 m (0-282 m)
 Bevolking:  
 - Totaal (Stad en county 2012) 825 863
 - Bevolkingsdigtheid 6 803,2/vk km
 - Metropolitaanse gebied 4 335 391
 - Combined statistical area (CSA) 8 371 000
 Tydsone PST (UTC -8)
Somertyd: PDT (UTC -7)
 Klimaat  
 - Tipe Mediterreense klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 14,6 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 11,3 / 16,3 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 566 mm
 Burgemeester Edwin M. Lee
 Amptelike Webwerf sfgov.org

San Francisco [ˌsænfɹənˈsɪskoʊ] is die vierde grootste stad van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië na Los Angeles, San Diego en San Jose. Die stad aan die weskus van die Verenigde State staan sedert die sestigerjare, toe dit die hoofstad van die hippie-beweging was, ook bekend onder sy diminutief Frisco. San Francisco is die tweede belangrikste toeristebestemming in die VSA na New York.

San Francisco lê aan die noordelike kant van die San Francisco-skiereiland, met die Stille Oseaan en die San Franciscobaai aan weerskante, en het nagenoeg 826 000 inwoners (meer as 4,3 miljoen in die amptelike metropolitaanse gebied). Die nie-amptelike metropolitaanse gebied van San Francisco strek tot by San Jose in die suide en is met sowat 8,4 miljoen inwoners (2012) die vierde grootste in die Verenigde State na New York, Los Angeles en Chicago.

Die bekendste bakens van die stad is die Golden Gate-brug met 'n lengte van 2,7 kilometer en 'n maksimale hoogte van 227 meter, die voormalige gevangeniseiland Alcatraz, die Transamerica-gebou in die vorm van 'n piramide met 'n hoogte van 260 meter en die cable car-trem.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die samespel van terugkerende soldate, grootskaalse immigrasie, liberaliserende houdings en ander faktore bygedra tot die rol wat San Francisco gedurende die Summer of Love en as hoofstad van die gay-regte-beweging gespeel het. Hierdie ontwikkelinge het van die stad 'n sentrum van liberale aktivisme in die Verenigde State gemaak.

Geografie[wysig]

Die stad lê in die noorde van die San-Francisco-skiereiland, met die Stille Oseaan in die weste, die Golden Gate in die noorde en die Baai van San Francisco in die ooste.

Market Street, soos gesien vanuit die Twin Peaks-heuwel

San Francisco se ligging digby die geologiese San Andreas-breuk, 'n bron van voortdurende seismiese aktiwiteite, maak van die stad 'n gebied wat in 'n groot mate deur aardbewegings bedreig word. Die grootste aardbewing in die moderne geskiedenis het die stad in die jaar 1906 getref. Die Loma Prieta-aardbewing in 1989 eis tientalle menselewens en berokken groot skade in die stad en sy omgewing.

Die gevaar dat 'n soortgelyke aardbewing soos dié van 1906 die stad in die nabye toekoms sal kan skud spel 'n groot rol by die ontwikkeling van San Francisco se infrastruktuur. Nuwe geboue moet aan hoë veiligheidsvereistes voldoen om die strukturele skade van 'n groot bewing so klein moontlik te hou, terwyl miljoene dollar aan die opgradering van ouer geboue en brûe bestee word.

Die mees sorgwekkende geologiese gebiede is die landaanwinningsprojekte in die San Franciscobaai soos byvoorbeeld Marina en Hunters Point; die ondergrond bestaan hier uit modder, sand en afval wat in die gevolg van vroeër aardbewings opgehoop is. Hierdie grond blyk uiters onstabiel te wees en lei in die geval van 'n nuwe aardbewing moontlik tot groot skade soos in die Loma Prieta-bewing.

San Francisco staan bekend vir sy heuwels; in totaal is daar 42 heuwels van meer as 30 meter hoogte binne die stadsgrense. Sommige van die heuwels het tot woonbuurte soos Nob Hill, Pacific Heights, Russian Hill en Telegraph Hill ontwikkel, terwyl ander soos Twin Peaks, Mount Sutro, Mount Davidson en Buena Vista-park as publieke parke en onbeboude gebiede bewaar is.

Die bekende voormalige gevangeniseiland Alcatraz lê in die San Franciscobaai en is vandag 'n museum.

Geskiedenis[wysig]

Die poort van Chinatown

Die eerste bewoners van die San Franciscobaai is die Muwekma Ohlone ("die volk van die weste"), tog word hierdie Eerste Nasie in die 19de eeu byna uitgeroei.

Tydens die 16de eeu stuur die Spaanse veroweraars twee ekspedisies na die noorde om die weskus van Amerika te verken. Hernán Cortés het toe al "'n skiereiland tussen die golf en die oseaan" ontdek en dit California genoem, tog staan Juan Rodriguez Cabrillo, wat die gebied tien jaar later besoek, in die Spaanse geskiedenisskrywing as die ware ontdekker bekend. Ook ander Europese ekspedisies, onder meer een onder die leiding van sir Francis Drake, verken die weskus tydens die 16de eeu, tog bly die baai van San Francisco weggesteek en onsigbaar vir die Europeane agter sy tipiese misbanke.

San Francisco word in die jaar 1776 as 'n sendingstasie van die Spaanse Fransiskaner-orde gestig. Aanvanklik dra die gebied die naam El Parage de Yerba Buena ("Vallei van die Goeie Kruid"). As 'n gevolg van die Amerikaans-Meksikaanse Oorlog, wat in die jaar 1846 uitbreek, verloor Meksiko sy gesag oor Kalifornië. In 1848, toe Spanje die gebied aan die VSA afstaan, word die naam van die nedersetting verander na San Francisco.

Die Kaliforniese goudstormloop teen die middel van die 19de eeu lei tot 'n vinnige groei van die stad, wat van 'n klein dorpie met 900 inwoners tot 'n stad van 20 000 mense ontwikkel. Die grafstene op die plaaslike begraafplase begin geleidelik meer Ierse as Spaanse name te toon. Die naam Golden Gate verwys nog steeds na hierdie tydperk.

'n Uitsig oor San Francisco, soos gesien vanaf 'n hoogte van sowat 5 000 meter

Baie immigrante laat hulle skepe na hul aankoms in die hawe agter; hulle word later saam met aarde en puin vir landaanwinningsprojekte gebruik. Groot dele van San Francisco se binnestad is op hierdie landfills opgerig.

Die 19de eeu word ook deur die stigting van 'n aantal belangrike ondernemings gekenmerk, waaronder Wells Frago Bank, Levi Stauss & Co. en Ghirardelli Chocolate Company. San Francisco word die ekonomiese sentrum van Kalifornië.

In 1906 verwoes 'n aardbewing San Francisco, tog word die stad vinnig heropgerig.

Tydens die Konferensie van San Francisco in 1945 is die Verenigde Nasies gestig, en met die Vrede van San Francisco, wat in 1951 gesluit is, is die Tweede Wêreldoorlog in die Verre Ooste deur die VSA en Japan amptelik beëindig.

Vanaf die sestigerjare is San Francisco die Amerikaanse sentrum van verskillende teenkulture, soos byvoorbeeld die hippie-beweging. Danksy die liberale maatskaplike klimaat vestig baie gay mans hulle in die stad.

Klimaat[wysig]

San Francisco word aan drie kante deur water omring sodat sy klimaat sterk deur die koue stromings van die Stille Oseaan beïnvloed word. Die stad geniet 'n Mediterreense klimaat met milde temperature. Die somers is relatief fris met temperature wat tussen 15° en 20 °C lê en dikwels mistige weer, wat as gevolg van die kombinasie van koue Pasifiese en warm binnelandse lugmassas ontstaan, terwyl die winters deur gematigde temperature en hoë reënval gekenmerk word.

Besienswaardighede[wysig]

Kabelkarretjie
  • Die sendingstasie uit die jaar 1776 is een van die gewildste historiese besienswaardighede in San Francisco.
  • Die Golden Gate-brug, wat in 1936 voltooi is, is die bekendste baken van die stad. Die brug verbind die stad met die noordelike voorstede.
  • Chinatown, die Sjinese stadsbuurt van San Francisco, word met sy 80 000 inwoners as die grootste Sjinese nedersetting buite Asië beskou. Dit is 'n digbevolkte kwartier met talryke winkels, ateljees en restourante. Die Golden Gate Fortune Cookie Factory is 'n buitengewoon eksotiese bakkery wat besigtig mag word.
  • Die Cable Car, San Francisco se bekende berg-en-dal-trem, is al in 1873 in diens gestel en ry teen 'n snelheid van hoogstens vyftien kilometer per uur. Die oudste van die waentjies, wat nog steeds in bedryf is, dateer uit die jaar 1887.
  • Die stad beskik oor 'n aantal eersterangse museums soos die M.H. de Young-museum vir Asiatiese kuns, die Kaliforniese Museum en die Meksikaanse Museum.

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
San Francisco (kategorie)