Voerkraal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Vleisbeeste in 'n voerkraal in noord-Texas

'n Voerkraal is 'n soort diervoedingskema wat aangewend word in fabrieksboerdery vir die afronding van vee, veral vleisbeeste, maar ook varke, perde, skape, kalkoene, hoenders of eende, vir slagdoeleindes. Groot beesvoerkrale staan soms bekend as Gekonsentreerde Diervoedingskemas.[1] Voerkrale kan duisende diere huisves in 'n roosterrangskikking van krale. Meeste voerkrale benodig 'n toegekenne owerheidspermit en moet planne implementeer vir die wegdoening van die groot hoeveelheid afval wat gegenereer word. In die V.S.A. het die Omgewingsbewaringsagentskap byvoorbeeld die gesag by wyse van die Waterwet om alle intensiewe diervoedingskemas te reguleer. Hierdie gesag word in sekere gevalle na indiwiduele state gedelegeer.[2]

Skedulering en voeding[wysig]

Voor opname in 'n voerkraal, word beeste meestal aangehou op weiveld van plaaslande of op aangeplante graanvelde soos groenkoringweiding. Sodra beeste die nodige opneemmassa bereik, naamlik ongeveer 300 kg (650 pond), word hulle verplaas na 'n voerkraal om 'n gespesialiseerde dieet te volg van hooi, mielies, sorghum en verskillende ander graansoorte, neweprodukte van voedselprosessering, soos suikerbeetafval, molasse, sojaboonmeel, dierebyprodukte[3] of katoensaadmeel, en minerale. In die Amerikaanse noordweste en Kanada, word gars, laegraad hardetarwe, kekererte, hawer en by geleentheid aartappels aangewend as voeding.[verwysing benodig]

Voerkraaldieete is gewoonlik baie hoog in voedingsenergie, om die opbou van vet, of vleisvermarmering (spiervet) te bevorder. Hierdie vet mag gesog wees onder sekere verbruikers, aangesien dit die 'sappigheid' van die vleis bevorder.Sjabloon:Opinion. Die dier kan 180 kg (400 pond) aansit tydens die 3–4 maande verblyf in die voerkraal.[verwysing benodig]. Sodra die beeste afgerond is na hul beplande gewig, word hulle vervoer na abbatoirs om geslag te word.

Hersirkulering van afval[wysig]

'n Toenemende getal beesvoerkrale gebruik van winterbeddings gemaak van timmerhoutresidu.[4] Hierdeur word bemestingstowwe in die afvaltimmer opgevang en veeafval kan daarna in die plaasstelsel hersirkuleer word.

Kritiek[wysig]

Benewens etiese en omgewingskwessies, is kritiek uitgespreek oor voerkrale se invloed op menslike gesondheid. Die weefsel van beeste wat in voerkrale afgerond word, bevat veel meer opgelosde vet as dié van beeste wat op grasweiding gevoed word. Sekere bronne skat dit op tot 500 persent meer.[5] Voerkraalafgeronde beeste mag na lang periodes van voeding oor 'n kleiner hoeveelheid gesonde omega-3 vetsure beskik, weens hul koring-en-graan dieete.[6]

Geskiedenis[wysig]

Die vleisbedryf is vandag hoogsafhanklik van tegnologie, maar dit was nie altyd die geval nie. In die vroeë 20ste eeu, het voerondernemings onafhanklik van ander boerderybedrywe plaasgevind en het voerkrale nie bestaan nie.[7] Voerkrale het in die 1960s en 1970s ontstaan danksy nuwe graanbasters en besproeiingstegnieke, wat aansienlik groter graanoeste meegebring het. Dit was nou moontlik om groot getalle beeste in een lokaal te voer, en sodoende vervoerkoste te verminder, sodat graanplaas- en voerkraallokale aaneengeskakel is. In die V.S.A. is beeste toe nie meer oor al die suidelike state vervoer na hoofsentra soos Kalifornië, waar abbatoirs geleë was nie. In die 1980s, het vleispakkers ook by die voerkraalstelsel aangesluit sodat hul bedrywe nou ook in die nabye omgewing plaasvind.

Bemarking[wysig]

Vleis word volgens vele metodes aan vleispakkers verkoop. Kontantbemarking is die tradisionele en mees algemeen gebruikte metode. Pryse word beïnvloed deur huidige aanvraag en vasgestel volgens lewendige gewig per kop. Soortgelyk hieraan is vooruitkontraktering , waarin pryse soortgelyk vasgestel word, maar nie direk beïnvloed word deur fluktuasies in die markaanvraag nie. Vooruitkontraktering bepaal die verkoopprys tussen die twee partye, wat onderhandel word vir 'n vasgestelde tydsverloop. Hierdie metode word egter die minste gebruik aangesien dit sekere kennis van produksiekostes vereis, asook die gewilligheid van beide partye om die risiko van die afgeleide mark te aanvaar. Nog 'n metode, naamlik formuleprysbepaling, is besig om 'n gewilde proses te word, aangesien dit die waarde van die vleis, soos dit deur die pakker ontvang word, meer akkuraat voorstel. Dit vereis egter vertroue tussen die pakkers en voerkrale, en word deur voerkrale gekritiseer, aangesien die bedrag verskuldig aan die voerkrale, bepaal word deur die pakkers se waardeskatting van die vleis wat ontvang is. Laastens is lewendige of karkas-geweegde formuleprysbepaling 'n algemene metode. Ander prysbepalingstipes sluit in roosterprysbepaling, en verpakte prysbepaling. Die mees omstrede bemarkingsmetode het ontstaan uit die vertikale integrasie van voerkrale wat deur vleispakkers besit word, wat egter steeds minder as 10% van alle bemarkingsmetodes uitmaak, alhoewel dit oor die jare groei getoon het.[8]

Verwysings[wysig]

  1. Diervoedingskemas”. V.S.A. Omgewingsbewaringsagentskap. URL besoek op 20 Junie 2010.
  2. 2008 Finale CAFO Reël, USEPA, Kantoor vir Water, 2009. http://cfpub.epa.gov/npdes/afo/cafofinalrule.cfm
  3. Iowa State University Extension. “[http://www.extension.iastate.edu/Publications/PM1867.pdf Beef Feedlot Systems Manual]”. URL besoek op 3 Mei 2010.
  4. Augustenborg, C.A.; O.T. Carton; R.P.O. Schulte; en I. H. Suffet (2008) 'Silage Dry-Matter Yield and Nitrogen Response following Land Application of Spent Timber Residue from Out-Wintering Pads to Irish Grassland', Communications in Soil Science and Plant Analysis, 39:7, 1122—1137. [1]
  5. Hyman, MD, Mark, Ultrametabolism: The Simple Plan for Automatic Weightloss, Scribner (2006), pp.35-36.
  6. www.grassrootsbeef.com
  7. Clark, Georgia and Jaime Malaga. 2005. “West Texas Feedlots: Reality and Perspectives”. Texas Tech University.
  8. Ward, Clement. 2005. “Captive Supply Price Relationships and Impacts.” Oklahoma State University Oklahoma Extension Service. Bull. No. F-598.

Eksterne skakels[wysig]

Verdere leesstof[wysig]