Zapiro

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Jonathan Shapiro
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Zapiro op die Göteborg Book Fair in 2010.

Geboortenaam Jonathan Shapiro
Gebore 1958
Kaapstad, Unie van Suid-Afrika
Nasionaliteit Suid-Afrika
Beroep Spotprenttekenaar
Bekend vir Anti-apartheid-aktivis
Zapiro teken 'n spotprent van Nelson Mandela op die Göteborg Book Fair in 2010.

Zapiro is die pennaam van die Suid-Afrikaanse politieke spotprenttekenaar Jonathan Shapiro wie se werk sedert die 1980's in Suid-Afrikaanse koerante soos die Mail & Guardian, Sowetan en Sunday Times verskyn. Zapiro het reeds etlike toekennings vir sy uitdagende werk ontvang en in die 1980's is hy sonder verhoor aangehou vir anti-apartheid aktiwiteit.[1][2]

Vroeë lewe en loopbaan[wysig]

Shapiro is in 1958 as die seun van Gershon en Gaby Shapiro gebore. Sy pennaam, Zapiro, is afgelei van die bynaam van 'n mede leerling by Rondebosch Boys' High School, Martin Shapiro, wat in 'n bergklimongeluk oorlede is. Martin Shapiro se vriende het hom Zap genoem. Die eerste Zapiro karakter se naam was Preppy wat 'n prominente kuif gehad het en kommentaar gelewer het oor gebeure om die skool.[2]

Shapiro het argitektuur studeer aan die Universiteit van Kaapstad, maar later oorgeskakel na grafiese ontwerp die Michaeliskunskool.[3] Kort daarna moes hy vir sy, op daardie stadium verpligte, twee jaarlange militêre diensplig opleiding aanmeld. Terwyl hy in die weermag was het hy by die UDF aangesluit. Tydens sy diensplig het hy ook spotprente vir progressiewe publikasies begin teken. Na sy militêre opleiding het hy suksesvol vir 'n Fulbright scholarship aansoek gedoen om spotprentteken vir twee jaar by die Skool van Visuele Kunste in New York te studeer. Voor sy vertrek sou hy egter sonder verhoor deur die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie aangehou word as gevolg van sy anti-Apartheid bedrywighede.[2] In New York studeer hy satiriese spotprentteken, karikatuur, strokiesverhale en sekwensiële kuns en geskiedenis van visuele kommunikasie; teken, ets, skilder en 'n onafhanklike studie onder Art Spiegelman oor die grafiese roman.[3]

In 1991 keer hy na Suid-Afrika terug en vervaardig saam met Story Circle opvoedkundige strokiesverhale soos Roxy (Vigsvoorligting), Tomorrow People (Demokrasie opvoeding), en A Trolley Full of Rights (Kindermishandelingvoorkoming). In 1994 word hy aangestel as redaksionele spotprenttekenaar vir die Mail & Guardian en die Sowetan en in 1998 ook vir die Sunday Times. Van 1996 en 1997 is sy werk ook in die Cape Argus gepubliseer.[2]. Sedert September 2005 verskyn sy werk ook drie keer per week in die Cape Times, The Star, The Mercury en Pretoria News.[4]

Shapiro skroom nie om omstrede onderwerpe te takel en het reeds kritiese kommentaar gelewer op Suid-Afrika se VIGS beleid, die Minister van Gesondheid Manto Tshabalala-Msimang, Vlakplaas en ander sake wat voor die Waarheid en Versoeningskommissie verskyn het, die ramp in Zimbabwe en omkopery in Suid-Afrika se wapentransaksie.[5] [6]

In Mei 2006 het die ANC vise-president Jacob Zuma drie naamskendingeise van R5 miljoen elk teen die Zapiro en die Engelse dagblad The Star aanhangig gemaak.[7] Die eise teen Zapiro hou verband met drie spotprente wat verwys na Zuma se verkragtingssaak in 2006. Die eerste van die drie spotprente het verwys na Zuma se inswering voor hy getuienis sou lewer in die saak, in die tweede word verwys na 'n "Zuma moral handbook", en die derde het verwys na sy vryspraak in die saak.[8] Shapiro het reageer met 'n spotprent in die Star, en later ook in die Mail & Gaurdian, waarin hy 'n woedende Zuma uitbeeld waarin hy R15 miljoen by Zapiro eis en skree: "I'm suing for damage to my reputation!", die spotprent vertoon 'n verveelde, ongeërgde Zapiro wat antwoord: "Would that be your reputation as a disgraced, chauvinistic demagogue who can't control his sexual urges and who thinks a shower prevents Aids?"[9]

Toekennings en erkenning[wysig]

Zapiro het reeds talle toekennings ontvang en is op andere maniere vereer. Die vernaamste hieronder sluit in:

  • In 2001 het hy die eerste spotprenttekenaar geword om 'n katagorie prys te wen in die CNN African Journalist of the Year Awards;[2]
  • In 2003 was hy die enigste spotprent uit Afrika wat genooi is om die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland by te woon;[2]
  • In 2003 en 2004 het hy die Mondi Koerant Toekenning vir Grafiese Joernalisme ontvang; [4]
  • In 2004 het die Universiteit van Transkei hom 'n ere doktorsgraad in letterkunde toegeken.[4]
  • In Oktober 2005 is aangekondig dat hy die gesogte Prins Claus Toekenning van €100 000 gewen het. Dit is op 7 Desember 2005 by die Muziekgebouw aan ‘t IJ in Amsterdam aan hom toegeken ter erkenning van sy rol die stimulering van maatskaplike en kulturele ontwikkeling;[10] en
  • Ook in 2005 het hy 'n ere toekenning in die Sunday Times Alan Paton Literêre Toekenning ontvanmg en is hy benoem as Kommunikeerder van die Jaar deur die Tshwane-Universiteit van Tegnologie se department van Openbare Betrekkinge en Sake Kommuniksie. Hy het in die jaar ook die Mondi Shanduka Joernalis van die jaar toekenning ontvang;[4]
  • In 2006 het hy die eerste Mondi Shanduka Joernalis van die Jaar toekenning en die eerste Vodacom Spotprenttekenaar van die Jaar Toekenning gewen.[4]
  • In 2007 was hy die wenner van die Cartoonist's Rights Network International (CNRI) se Dapperheid in redaksionele spotprentwerk toekenning.[1][11]

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 Mail & Guardian, Zapiro's truth to power lauded, Besoek op 7 Julie 2007
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 2,5 SOUTH AFRICAN CARTOONISTS & ILLUSTRATORS, ZAPIRO, Besoek op 7 Julie 2007
  3. 3,0 3,1 24.com se Who's Who, Mr Jonathan "Zapiro" SHAPIRO, Besoek op 7 Julie 2007
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 Design Indaba, Zapiro (SA), Besoek op 7 Julie 2007
  5. Herman Wasserman, Response for discussion: Public lecture by Zapiro, ‘Cartoons and critique in South Africa’, aangebied deur die Department van Joernalisme en Department van Sosiologie and Sosiale Antropologie, Universiteit van Stellenbosch, 13 Mei 2005, Afgelaai op 7 Julie 2007
  6. Die Sack Manto Campaign, Zapiro Cartoons, Besoek op 7 Julie 2007
  7. Beeld, Katrien Smit Zuma, ‘Rapport’ in Februarie na hof, Besoek op 7 Julie 2007
  8. IOL, Zuma seeks millions from newspaper group, Besoek op 7 Julie 2007
  9. news24, What reputation? asks Zapiro, Besoek op 7 Julie 2007
  10. 2005 Prince Claus Award for the South African Cartoonist Zapiro, Besoek op 7 Julie 2007
  11. Cartoonist's Rights Network International, Besoek op 7 Julie 2007