Bullebak

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

ʼn Bullebak, of ʼn boelie, is ʼn persoon wat doelbewus iemand anders skade aandoen. Dit kan gebeur deur die ander persoon te dreig of seer te maak.[1] Boelies, veral op skool, teiken meestal kinders wat blyk om weerloos te wees of wat sensitief is vir persoonlike aanvalle. [2] Die invloed van bullebakgedrag kan fisies sowel as sielkundig wees, waarvan laasgenoemde meestal langdurig kan wees. [3]

'n Bord by 'n skool in Ohio in die VSA wat aandui dat kinders nie by hierdie skool mag boelie nie.

Vorme van bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

Fisiese bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

Hierdie vorm van bullebakgedrag is onder meer: stamp, wurg, slaan, of om ʼn slagoffer te dreig met fisiese aanranding. [1] Wanneer ‘n persoon geslaan of geskop word, het dit nie net ‘n negatiewe invloed op die slagoffer nie, maar ook op die getuies. [4]

Emosionele bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

Hierdie vorm van bullebakgedrag is onder meer: om skinderstories te versprei, af te pers, of om valse berigte oor ʼn persoon te versprei. [1] Emosionele bullebakgedrag is ingewikkeld om te verstaan en die moeilikste vorm van boelie om te identifiseer. Hierdie gedrag vernietig emosies soos tevredenheid, vertroue en waardigheid om plek te maak vir angs, vrees en onsekerheid. [5]

Verbale bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

Hierdie vorm van bullebakgedrag is onder meer: om iemand te vloek, te verkleineer, rassistiese aanmerkings te maak, of om afbrekende boodskappe via 'n selfoon of e-pos te stuur.[1] Die uitwerking van verbale bullebakgedrag is soms baie subtiel. Oor lang tydperke breek dit ‘n persoon se selfbeeld en selfvertroue af. Slagoffers glo nie meer in hulle eie vermoëns nie en is traag om uitdagings aan te pak. [6]

Nie-verbale bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

Hierdie vorm van bullebakgedrag is onder meer: om vir ʼn persoon gesigte te trek, te gluur of beledigende tekens te wys.[1]

Kuber-bullebakkery[wysig | wysig bron]

ʼn Kuberboelie is ʼn persoon wat doelbewus ʼn ander persoon teister deur van tegnologie gebruik te maak. Voorbeelde van sosiale media platforms wat kuberboelies gebruik is Facebook of Twitter. Dit kan ook deur e-posboodskappe gebeur. Kuberbullebakgedrag word veral gedefinieer as aanhoudende gedrag. Dié gedrag kan ernstige wetlike gevolge laat ontstaan, moontlik kan ʼn oortreder selfs tronkstraf opgelê word. [7] [8]

Verskillende tipes bullebakke[wysig | wysig bron]

Die aggressiewe bullebak[wysig | wysig bron]

Hierdie bullebakke is gewoonlik geweldadig en dominerend. Hulle het nie impulsbeheer nie en is onsensitief teenoor ander se gevoelens.[1]

Die angstige bullebak[wysig | wysig bron]

Angstige bullebakke het gewoonlik ʼn lae selfbeeld en tree aggressief op. Hulle is ook afbrekend teenoor mense waarmee hulle nie 'n waardevolle verhouding het nie en is uitdagend teenoor ander boelies. [1]

Groepsaanhangers[wysig | wysig bron]

Groepsaanhangers is gewoonlik die bullebak se volgelinge wat passief betrokke is wanneer die bullebak aggressief optree. Hulle sluit meestal aan by die groep om 'n gevoel van sekuriteit te hê. [1]

Voorvalle in die media van bullebakgedrag in Suid-Afrikaanse skole (2015 – 2018)[wysig | wysig bron]

In die media is daar talle voorbeelde van bullebakgedrag waar dit sy kop in Suid-Afrikaanse skole uitgesteek het.

  • In Mei 2018 het ʼn storie aan die lig gekom van ʼn groep seuns wat in 2015 ʼn meisie van ʼn ander skool op sosiale media gedreig en gevloek het. Die meisie is op die selfoonboodskapdiens Whatsapp deur 26 seuns op ʼn groep bygevoeg waar sy die slagoffer van kuberbullebakkery geword het. Die slagoffer het ʼn hofsaak aanhangig gemaak teen dié 26 skoolseuns. [9]
  • In September 2017 het ʼn 13-jarige seun van Benoni die opskrifte gehaal toe hy gesterf het ná beweerde aanslae wat boelies op hom gehad het. Louis de Jonge is onderskeidelik beseer toe ʼn knie teen sy kop gestamp is en hy ook deur ʼn sokkerbal op die kop getref is. [10]
  • ʼn Skokkende video het in Maart 2017 op sosiale media versprei, wat wys hoe ʼn hoërskoolleerder van die Wes-Kaap ʼn ander leerder met ʼn baksteen gooi. [11]
  • In September 2015 neem 14 laerskoolseuns deel aan ʼn video waar ʼn leerder aangerand word. Die leerders lag en maak aanmerkings terwyl die slagoffer huil en bloei. ʼn Paar maande vroeër in Februarie 2015, is twee meisies van KwaZulu-Natal geskors na die verspreiding van ʼn video waarin die twee ʼn ander meisie skop en slaan. [12]

Die uitwerking van bullebakgedrag[wysig | wysig bron]

ʼn Kind wat op skool ʼn slagoffer van bullebakkery is, sal sekere tekens begin toon. Bullebakkery het fisiese-, emosionele- en sosiale gevolge vir die slagoffer.[1] Dit is moontlik dat hy of sy nagmerries begin kry of sukkel met slapeloosheid en weier om te eet. Sommige kinders weier om skool toe te gaan en te sosialiseer. Kinders se akademiese prestasie begin ook drasties af te neem. Daar is selfs kinders wat sukkel met depressie en selfmoordgedagtes. [13]

Boelies sal as volwassenes hulle huweliksmaats of kinders mishandel. Hulle sukkel om vriendskappe te onderhou en maak hulle in sommige gevalle ook skuldig aan dwelmmisbruik, alkoholmisbruik of ander kriminele dade. [1]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 1,6 1,7 1,8 1,9 Louw, D; Louw A. 2013. Die ontwikkeling van kind en adolessent. Tweede druk. Universiteit van die Vrystaat
  2. Putter, J. 2014. Wenplan vir jou kind se lewe. Vereeniging: Christelike uitgewersmaatskappy.
  3. Huddleston, B. 2016. Digital Cocaine. Vereeniging: Christian Art Publishers
  4. http://www.bullyingstatistics.org/content/physical-bullying.html
  5. http://www.the-positive-parenting-centre.com/emotional-bullying.html
  6. https://novakdjokovicfoundation.org/verbal-bullying-in-schools/
  7. https://www.stopbullying.gov/cyberbullying/what-is-it/index.html
  8. https://cyberbullying.org/what-is-cyberbullying
  9. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/jong-mans-3-jaar-na-skoolvoorval-hof-toe-gesleep/
  10. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/oorsaak-van-boelie-slagoffer-se-dood-bekend/
  11. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/video-skool-reageer-na-baksteen-voorval/
  12. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/skokvideo-van-boelie-aanval-by-jhb-skool/
  13. https://solidariteit.co.za/boelies-die-skool/