John Couch Adams
John Couch Adams | |
---|---|
Adams omstreeks 1870. | |
Gebore | |
Sterf | 21 Januarie 1892 (op 72) |
Nasionaliteit | Brits |
Beroep | Wiskundige, sterrekundige |
John Couch Adams FRS (5 Junie 1819 - 21 Januarie 1892) was ’n Britse wiskundige en sterrekundige. Sy bekendste prestasie was om die bestaan en posisie van die planeet Neptunus te voorspel deur net wiskunde te gebruik. Die berekenings is gebruik om afwykings in Uranus se wentelbaan en die wette van Kepler en Newton te verduidelik. In dieselfde tyd het die Fransman Urbain Le Verrier onafhanklik dieselfde berekenings gedoen. Le Verrier het egter sy koördinate aan Johann Gottfried Galle van die Berlynse Sterrewag gestuur om te verifiseer, en hy het die bestaan van die planeet op 23 September 1846 bevestig nadat hy dit net 1° van Le Verrier se voorspelde posisie af ontdek het.
Ná die ontdekking was daar ’n kwaai nasionalistiese wedywering tussen die Franse en Britte oor wie saam met Galle die krediet daarvoor moet kry. Eindelik was die internasionale konsensus dat Le Verrier en Adams albei erkenning moet kry. Sedert 1966 het die Amerikaanse sterrekundige en historikus Dennis Rawlins die geloofwaardigheid van Adams se aanspraak as mede-ontdekker bevraagteken en historici het die saak heroorweeg met die terugbesorging in 1998 van die "Neptunusdokumente" (historiese dokumente) aan die Royal Observatory in Greenwich.[1] Nadat hulle dit bestudeer het, het hulle voorgestel dat "Adams nie gelyke aanspraak as Le Verrier gehad het op die ontdekking van Neptunus nie. Daardie eer kom net die persoon toe wat daarin geslaag het om die planeet se plek te voorspel asook om ander sterrekundiges te oorreed om daarna te soek."[2]
Adams was van 1859 tot met sy dood ’n professor in sterrekunde en geometrie aan die Universiteit van Cambridge. Hy het in 1866 die goue medalje van die Royal Astronomical Society gewen.
’n impakkrater op die Maan is gesamentlik na hom en die sterrekundiges Walter Sydney Adams en Charles Hitchcock Adams genoem. Neptunus se heel buitenste ring en die asteroïde 1996 Adams is ook na hom genoem. Die Adamsprys van die Universiteit van Cambridge gedenk sy voorspelling van Neptunus se posisie.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Kollerstrom, Nick (2001). "Neptune's Discovery. The British Case for Co-Prediction". University College London. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 November 2005. Besoek op 19 Maart 2007.
- ↑ William Sheehan; Nicholas Kollerstrom; Craig B. Waff (Desember 2004). "The Case of the Pilfered Planet – Did the British steal Neptune?". Scientific American. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Maart 2011. Besoek op 20 Januarie 2011.
Skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie John Couch Adams.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.