NG gemeente Crosby
Die NG gemeente Crosby is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die voorstad Crosby in die weste van Johannesburg.
Die gemeente het op 6 Augustus 1946 met 500 lidmate en 22 kerkraadslede van die moedergemeentes Johannesburg-Wes (wat toe self net twee jaar oud was) en Langlaagte afgestig. Die gemeente het geen gebou of plek vir samekoms gehad nie, maar wel Johannesburg-Wes se pastorie bekom omdat dit binne die grense van die nuwe gemeente gestaan het.
Op uitnodiging van Johannesburg-Wes besluit die gemeente dat lidmate saam met die moedergemeente in sy kerkgebou sou aanbid totdat Crosby sy eie geboue kon oprig. Dié samewerking was besonder geslaagd en geseënd. Die groot taak van die leraar, kerkraad en lidmate was uiteraard die oprigting van 'n eie kerkgebou. Op 14 April 1947 begin hulle 'n boufonds en reeds in Maart 1948 begin die gemeente met die bou van 'n kerk, wat op 7 Mei 1948 ingewy is en £14 000 gekos het.
Eers nadat die derde beroep uitgebring is, kon die gemeente sy eerste leraar, prop. Theunis Botha, op Saterdag 22 Februarie 1947 bevestig. Hy sou die gemeente meer as 40 jaar dien.
Terwyl sewe omliggende gemeentes deur die jare in die NG gemeente Vergesig verenig het, het Crosby steeds afsonderlik voortbestaan, hoewel herderloos en in 2011 met net 18 doop- en 138 belydende lidmate,[1] vergeleke met 170 doop- en 550 belydende lidmate in 1985. Geografies is Crosby een van die kleinste gemeentes in die land, naamlik 400 by 800 meter.
Ligging
[wysig | wysig bron]Die kerkgebou is geleë in Kilmorelaan in Crosby.[2]
Enkele leraars
[wysig | wysig bron]- Theunis Botha, 1947 – 18 November 1984, toe hy sy emeritaat aanvaar
- Christiaan Christoffel Johannes Olivier, 19 Mei 1989–1996
Getal lidmate
[wysig | wysig bron]- 1973: doop 378, belydend 895
- 1979: doop 331, belydend 794
- 1985: doop 170, belydend 550
- 1990: doop 191, belydend 545
- 1994: doop 149, belydend 412
- 2006: doop 34, belydend 220
- 2011: doop 18, belydend 138
- 2016: doop 9, belydend 87
- 2021: doop 7, belydend 74
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Sinode Hoëveld". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2016. Besoek op 6 Desember 2010.
- ↑ Kilmorelaan, Crosby, Google Maps
Bronne
[wysig | wysig bron]- Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.
- Symington, Johan (et. al.), Jaarboek van die NG Kerke, Tydskriftemaatskappy, Kaapstad en Wellington, 1985, 1990, 1994, 2010.