Robert McBride

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Robert McBride
Geboortenaam Robert John McBride
Gebore 6 Julie 1963 (1963-07-06) (55 jaar oud)
Durban
Nasionaliteit Suid-Afrika
Beroep Polisiebeampte
Bekend vir Bomaanvalle
Politieke party ANC
Huweliksmaat Paula

Robert McBride (gebore 6 Julie 1963) is die hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Onafhanklike Ondersoekdirektoraat (Opod). Hy was voorheen die hoof van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se verkeerspolisie. In sy jeugjare was hy betrokke by Umkhonto we Sizwe, die ANC se gewapende vleuel.

Biografie[wysig | wysig bron]

Beide McBride se ouers was onderwysers. Hy is in Addington-hospitaal gebore en het in Wentworth, 'n voorstad 11 km vanaf Durban, grootgeword.[1]

Op 14 Junie 1986 speel hy 'n leidende rol met die opblaas van die "Why Not"-restaurant en die Magoo's Bar in Durban. Drie wit vroue is tydens die ontploffings dood en 69 mense is beseer. Hy is vervolgens in hegtenis geneem en ter dood veroordeel, maar is later begenadig. In 1992 word hy vrygelaat nadat sy optrede as "polities gemotiveerd" geklassifiseer is. Hy ontvang amnestie by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) nadat die ANC aanvanklik alle betrokkenheid by die gebeure ontken het.[2] Ten spyte van die amnesie beskryf die WVK die aanval as 'n "growwe skending van menseregte".[3]

Op 9 Maart 1998 is hy, destyds as hooggeplaaste amptenaar in die departement van buitelandse sake, op aanklagte van wapensmokkel in Mosambiek in hegtenis geneem. Sy verweer was dat hy die smokkel van wapens namens die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensie (NIA) ondersoek het. Na 'n tyd in aanhouding is alle klagte teen hom laat vaar.[4] Mangosuthu Buthelezi, die hoof van die Inkatha-Vryheidsparty, het beweer dat die wapens vir sluipmoorde op IVP-leiers bedoel was.[5]

In 2003 is McBride as hoof van Ekurhuleni se metropolisie (verkeersafdeling) aangestel. Op 21 Desember 2006 is hy alleen in Centurion in 'n nagtelike motorongeluk betrokke.[6][7] Hy word in 2011 op aanklagte van dronkbestuur en dwarsboming van die gereg met vyf jaar gevangenisstraf gevonnis en is gevolglik uit sy pos ontslaan. In April 2013 word hy op parool vrygelaat.

Ondanks omstredenheid, word hy in Maart 2014 as die hoof van die Suid-Afrikaanse Polisie se Onafhanklike Ondersoekdirektoraat (Opod) aangestel.[8]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. South African History Timelines: Robert McBride”. South African History Online. URL besoek op 20 Maart 2008.
  2. The Citizen 1978 (Pty) Ltd v McBride (277/08) [2010] ZASCA 5; 2010 (4) SA 148 (SCA) ; [2010] 3 All SA 46 (SCA) (26 Februarie 2010)”. Saflii.org. URL besoek op 6 Oktober 2012.
  3. The Liberation Movements from 1960 to 1990” (PDF). Truth and Reconciliation Commission of South Africa Report 2.
  4. Daley, Suzanne (16 Maart 1998). "Official's Arrest Puzzles South Africa". The New York Times. 
  5. Neilan, Terence (11 Februarie 1999). "World Briefing". The New York Times. 
  6. "Police probe McBride reckless-driving claims". Mail & Guardian. 23 Desember 2006. Besoek op 4 Januarie 2007. 
  7. "McBride 'received medical care'". News24. 17 Januarie 2007. Besoek op 17 Januarie 2007. 
  8. McBride is Opod se nuwe hoof, PRAAG, 28 Februarie 2014