Sarah Gertrude Millin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Sarah Gertrude Millin
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Sarah Gertrude Millin

Geboortenaam Sarah Gertrude Liebson
Gebore (1889-03-19)19 Maart 1889
Žagarė, Litaue
Oorlede 6 Julie 1968 (op 79)
Johannesburg, Suid-Afrika
Nasionaliteit Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Beroep Skrywer
Huweliksmaat Philip Millin

Sarah Gertrude Millin (gebore Liebson 19 Maart 1889Johannesburg, 6 Julie 1968) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer.

Millin is gebore in Žagarė, in die Kowno-goewerneurskap in die destydse Russiese Ryk (nou Litaue) as een van ’n gesin met sewe kinders. Vyf maande later het haar ouers, Isaiah en Olga, na Suid-Afrika geïmmigreer as van die 40 000 Jode uit Litaue en omstreke wat van 1881 tot die begin van die Eerste Wêreldoorlog na Suid-Afrika gekom het.

Die gesin het hulle op Beaconsfield by Kimberley gevestig. In 1894, toe sy ses jaar oud was, het hulle na die diamantdelwery aan die oewers van die Vaalrivier in Griekwaland-Wes verhuis, waar haar vader ’n winkel geopen het. Dié omgewing sou as die agtergrond van baie van haar skryfwerk dien, wat ’n liefde getoon het vir die Suid-Afrikaanse landskap en ’n afkeer van die armoede en haglike omstandighede waaronder die meeste delwers gewoon het.

Nadat sy in 1904 aan die Hoër Meisieskool Kimberley gematrikuleer het, het sy besluit om nie 'n beurs te aanvaar om haar naskoolse studie aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad voort te sit nie, maar om musiek in Kimberley te studeer. Sy het ’n klavieronderwysdiploma verwerf, maar nooit dié loopbaan beoefen nie. Reeds van die ouderdom van ses jaar af was sy daarvan oortuig dat sy bestem was om ’n skrywer te wees; van kleins af het sy kortverhale geskryf. Van haar eerste werke het in die jare van 1910 tot 1912 in koerante verskyn.

Op 1 Desember 1912 is sy getroud met Philip Millin en het die paartjie hulle in Johannesburg gevestig. Philip, ’n advokaat wat later ’n regter in die hooggeregshof geword het, het haar aangespoor om haar droom van ’n skrywersloopbaan te bewaarheid. Hy is oorlede weens hartversaking terwyl Millin pas begin skryf het aan haar outobiografie, The Measure of My Days. Dit het haar diep geraak. Sy is in Johannesburg oorlede.

Bronne[wysig | wysig bron]