Gaan na inhoud

Soria

Koördinate: 41°45′48″N 2°27′53″W / 41.76333°N 2.46472°W / 41.76333; -2.46472
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Soria
Stad
Die hoofplein van Soria
Die hoofplein van Soria
Vlag van Soria
Vlag
Wapen van Soria
Wapen
Soria is in Spanje
Soria
Soria
Koördinate: 41°45′48″N 2°27′53″W / 41.76333°N 2.46472°W / 41.76333; -2.46472
LandVlag van Spanje Spanje
Administratiewe gewes Kastilië en León
Provinsie Soria
StreekSoria
DistrikSoria
Regering
 • BurgemeesterCarlos Martínez Mínguez (PSOE)
Oppervlak
 • Totaal271,77 km2 (104,93 vk. myl)
Hoogte
1 065 m (3 494 ft)
Bevolking
 • Totaal40 147
 • Digtheid147,72/km2 (382,6/vk. myl)
TydsoneUTC+01:00 (MET)
 • SomertydUTC+02:00 (MEST)
Poskode
42001-42005
Skakelkodes975
Webwerfsoria.es

Soria is die hoofstad van die gelyknamige, yl bevolkte Spaanse provinsie in die ooste van die Outonome Gemeenskap van Kastilië en León. Soria is met 'n bevolking van 40 147 mense (2012) die tweede kleinste provinsiale hoofstad in Spanje ná Teruel. Sowat veertig persent van die totale bevolking van die provinsie is in Soria saamgetrek.

Die bedevaartskerk San Saturio aan die oewer van die Duero-rivier dateer uit die 18de eeu
Die kluis van die Jonkvrou van Mirón

Soria, wat aan die boloop van die Duero-rivier geleë is, pronk met 'n ryk erfenis van Romaanse bouwerke, waaronder veral stadsmure en kerkgeboue. Die konkatedraal San Pedro, wat in die 16de eeu in die platereske styl omgebou is, behoort met sy klooster en kruisgang saam met die kloosterkerk Santo Domingo en die bouvalle van die kerk en kruisgang van die klooster San Juan de Duero tot die belangrikste argitektoniese besienswaardighede in Soria.

San Pedro dien sedert die jaar 1959 as die tweede biskopskerk van die bisdom Osma-Soria, naas die katedraal in El Burgo de Osma sowat 60 kilometer van Soria af. Twee 18de eeuse bedevaartskerke in die Barokstyl, die Ermita de la Virgen del Mirón en die Ermita de San Saturio, wat aan Soria se beskermheilige gewy is, kan aan die stadsrand besigtig word.

Die bouvalle van Numantia is agt kilometer noord van Soria naby Garray geleë. Hierdie Keltiberiese oppidum dateer oorspronklik uit die Bronstydperk en is in 133 v.C. ná 'n reeks aanvalle en 'n lang beleg deur Romeinse troepe onder die bevel van die Jongere Scipio Aemilianus ingeneem en verniel. Die bouvalle staan oop vir die publiek, terwyl die argeologiese vondse uit die gebied in die Museo Nmantino in Soria besigtig kan word.

Volgens 'n hofbesluit van die Soriaanse statevergadering, die Cortes, uit die jaar 1380 is die Joodse bevolking hul reg ontneem om hul eie strafsake te bereg. Daarnaas is 'n dekreet van wyle koning Hendrik II van Kastilië († 1379) bevestig waarvolgens Jode van loopbane in die koninklike administrasie en adellike huise uitgesluit was. Hierdie besluite het die grondslag vir die haatpreke van die aartsdiaken Ferran Martinez gevorm wat in 1391 tot bloedige anti-Joodse pogroms gelei het.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]