Holistiese genesing

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Omdat die Nuwe Era-beweging 'n "holistiese" wêreldbeskouing het waarvolgens alle elemente (mens, natuur, God, ensovoorts) in die heelal met mekaar verbind en van mekaar afhanklik is, word baie klem op genesing en gesondheid geplaas as weg tot die komende Nuwe Era. Verskillende groepe binne die beweging beklemtoon verskillende oorsake vir siekte. Só kan die oorsaak van 'n siekte gevind word in die metafisiese terrein (karma van vorige lewens); die biologiese (byvoorbeeld ongesonde lewenswyse of omgewingsbesoedeling); die psigologiese vlak (byvoorbeeld angs, stres en skuldgevoelens); die geestelike of spirituele vlak (byvoorbeeld 'n fundamentalistiese wêreldbeskouing); die sielkundige terrein (byvoorbeeld kortsigtige of beperkte denkpatrone); of die psigiese terrein (byvoorbeeld die uitwerking van vloeke). Hoe dit ook al sy, die individu is altyd self verantwoordelik vir dit wat hom of haar oorkom en daarom word siekte ook beskou as deel van 'n leerproses waardeur die persoon uiteindelik kan groei. Daarom is die doel van holistiese genesingsmetodes nie net om die siekte te genees nie, maar om die totale mens - liggaam, siel en gees - gesond te maak en gesond te hou. Enkele voorbeelde van holistiese genesingsmetodes is:

Akupunktuur[wysig]

Hoofartikel: Akupunktuur

Hierdie eeue-oue Sjinese genesingsmetode leer dat die liggaam 'n netwerk van energiebane (meridiane) het wat verskillende organe met mekaar verbind. Wanneer hierdie bane geblokkeer word, veroorsaak dit siektes en word naalde op sleutelpunte in die netwerk gesteek word om energievloei na siek of aangetaste liggaamsdele of organe te herstel.

Bioterugvoer[wysig]

Hierdie relatief nuwe metode behels dat die individu se breingolwe elektronies gemonitor word terwyl hy leer om die breingolwe te beheer ten einde 'n ander bewussynstoestand in te gaan en onwillekeurige liggaamsfunksies soos hartklop en liggaamstemperatuur willekeurig te beheer. Só kan hoofpyn byvoorbeeld verlig word of hoë bloeddruk verlaag word.

Homeopatie[wysig]

Hoofartikel: Homeopatie

Die beginsel van homeopatie, gebaseer op die werk van dr Samuel Hahnemann, 'n negentiende-eeuse Duitse wetenskaplike, is dat soortgelyke stowwe mekaar genees. Siektes word veroorsaak deur 'n wanbalans in 'n persoon se lewenskrag of lewensenergie (Engels: "vital force"), en daarom word natuurlike middels soos kruie en minerale met bestandele wat ook in die liggaam voorkom, gebruik om dié krag in die liggaam te herstel.

Iridoliogie[wysig]

Hoofartikel: Iridoliogie

Iridiologie is 'n metode om siektes te diagnoseer waar die iris van die persoon se oog ondersoek word ten einde vas te stel wat elders in die liggaam fout is. Die iris is dus 'n "venster" waardeur die liggaam bestudeer word om probleme te diagnoseer.

Kristalle[wysig]

Die gebruik van kristalle om genesing te bewerk of om 'n balans van die energie in die liggaam te handhaaf, is algemeen by Nuwe Era-aanhangers. Hulle glo kristalle, met hul kenmerkende simmetriese oppervlaktes (veroorsaak deur die wyse waarop hul molekules in geordende patrone gerangskik is), het die vermoë om genesende energie uit die kosmos te ontvang en op iemand of iets te fokus. Verskillende soorte kristalle het unieke eienskappe en help om spesifieke probleme op te los. Kristalle word ook tydens meditasie gebruik om "innerlike reiniging" te bewerk deurdat alle negatiewe gedagtes vrygelaat en in die kristal versamel word. Die kristal word later met soutwater gewas en dan in die son- en maanlig laat lê om dit skoon te maak sodat dit weer gebruik kan word.

Refleksologie[wysig]

Hoofartikel: Refleksologie

Refleksologie berus op dieselfde beginsel as akupunktuur, naamlik dat die hele liggaam en organe verbind word met energiebane waardeur energie vloei en dat blokkasies in hierdie stelsel siektes en ongesteldhede veroorsaak. In refleksologie word gefokus op die sleutelpunte aan die onderkante van die voete. Deur spesifieke sleutelpunte te masseer, word die blokkasies verwyder en organe wat daarmee verbind word, word genees.

Geestelike transformasie[wysig]

Hoewel holistiese genesing bydra tot die Nuwe Era-aanhanger se geestelike transformasieproses, is daar ook sekere praktyke en beginsels wat spesifiek gebruik word om geestelike transformasie te bewerk:

Meditasie is waarskynlik die belangrikste metode wat deur 'n Nuwe Era-aanhanger gebruik kan word om sy "kosmiese bewussyn" en volle potensiaal as mens te ontwikkel. Hierdie eeue-oue Hindoeïstiese praktyk behels dat die persoon sy of haar gedagtes en gees deur selfdissipline, konsentrasie en/of die gebruik van 'n mantra tot stilstand bring sodat positiewe energie in hom of haar vrygestel kan word. Tydens meditasie word die gedagtes dus "leeggemaak" van steurnisse terwyl daar net op een saak gefokus word om nuwe wysheid en insig daaroor te kry. Sodoende word ontslae geraak van negatiewe gedagtes en energie terwyl die kosmiese bewussyn ontwikkel word.

  • Nuwe Era-musiek

Musiek word algemeen deur Nuwe Era-aanhangers gebruik as 'n hulpmiddel om te ontspan en oor te skakel na 'n hoër vlak van bewussyn. Hulle glo ook dat die vibrasie wat deur sommige soorte musiek vrygestel word, genesing kan bewerk. Veral musiek met 'n rustige melodie en sagte, strelende klanke is baie gewild. Baie Nuwe Era-aanhangers beskou Barok-musiek as die ideale musiek om hulle te help ontspan en te fokus.

  • Visualisering

Nuwe Era-aanhangers glo dat omdat die heelal uit energie bestaan en alles aan alles verbind is, veranderinge in die sigbare wêreld teweeggebring kan word deur sodanige veranderinge in die gedagtes te visualiseer. Deur visualisasie word energie dus vrygestel wat die veranderings teweegbring. Beoefenaars van dié praktyk glo dat visualisering gebruik kan word om siektes te genees (byvoorbeeld deur te visualiseer hoe kankerselle uit die liggaam verwerp word en vervang word met gesonde selle), maar ook om omstandighede of selfs mense te verander.