Lensvormige sterrestelsel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Spil-sterrestelsel (NGC 5866), ’n lensvormige sterrestelsel in die sterrebeeld Draak. (Bron:Nasa/ESA)

’n Lensvormige sterrestelsel is tussen ’n elliptiese en spiraalsterrestelsel volgens Edwin Hubble se klassifikasie.[1] Hulle het ’n skyf (soos spiraalstelsels) wat die meeste van hul interstellêre materiaal opgebruik of verloor het en dus baie min stervorming handhaaf.[2] Hulle kan egter ’n aansienlike hoeveelheid stof in hul skyf oorhê. Daarom het hulle meestal ouer sterre (soos elliptiese stelsels) – hul sterre is gewoonlik meer as ’n miljard jaar oud.

Vorm en struktuur[wysig]

Klassifikasie[wysig]

Lensvormige sterrestelsels is uniek omdat hulle ’n sigbare skyf en prominente bol het. Nes elliptiese en spiraalstelsels kan hulle ook ’n sentrale staaf hê. Hulle het nie so baie vorms soos byvoorbeeld spiraalstelsels nie en daarom word hulle geklassifiseer volgens die hoeveelheid stof wat teenwoordig is of die teenwoordigheid of afwesigheid van ’n sentrale staaf. Die verskillende klasse is S01, S02 en S03 wanneer dit gebaseer is op die hoeveelheid stof in die skyf en SB01, SB02 en SB03 wanneer dit op die sentrale staaf gebaseer is.[3]

Bolswerms word meer dikwels in lensvormige sterrestelsels aangetref as in spiraalstelsels met dieselfde massa en helderheid.

Vormingsteorieë[wysig]

Spiraalstelsel-oorblyfsels[wysig]

Die vorm en beweging van lensvormige stelsels gee in ’n mate ’n aanduiding van hoe hulle gevorm word. Hul skyf en moontlike stowwerige voorkoms dui aan dat hulle spiraalstelsels kan wees waarvan die arms verdwyn het. Die afwesigheid van gas, teenwoordigheid van stof en die gebrek aan onlangse stervorming is alles eienskappe wat ’n mens van ’n spiraalstelsel sal verwag wat al sy gas vir die vorming van nuwe sterre opgebruik het.[4] Moore en ander meen ook dat swaartekraginvloede van ander, nabygeleë sterrestelsels, die proses in digte gebiede kan aanhelp.[5]

Samesmeltings[wysig]

Lensvormige stelsels is egter helderder as spiraalstelsels,[6][7] wat daarop dui dat hulle waarskynlik nie oorblyfsels van laasgenoemde is nie. Dit lyk eerder of hulle ontstaan deur die samesmelting van twee stelsels, wat die totale stermassa vergroot en die nuwe stelsel sy skyfagtige, armlose voorkoms gee.[4] Dit verduidelik ook die voorkoms van groot hoeveelhede bolswerms in dié stelsels. Dié teorie het egter ook tekortkomings wat nog nie bevredigend opgelos is nie.

Voorbeeld[wysig]

Die Wawiel-sterrestelsel in die sterrebeeld Beeldhouer.

Verwysings[wysig]

  1. R. J. Buta, H. G. Corwin, Jr., S. C. Odewahn (2007s). The de Vaucouleurs Atlas of Galaxies. Cambridge: Cambridge University. ISBN 9780521820486. 
  2. DeGraaff, Regina Barber; Blakeslee, John P.; Meurer, Gerhardt R.; Putman, Mary E. (December 2007). “A Galaxy in Transition: Structure, Globular Clusters, and Distance of the Star-Forming S0 Galaxy NGC 1533 in Dorado”. The Astrophysical Journal 671 (2): 1624–1639. DOI:10.1086/523640.
  3. Binney & Merrifield (1998). Galactic Astronomy. ISBN 0-691-02565-7. 
  4. 4,0 4,1 Blanton, Michael; John Moustakas (2009). “Physical Properties and Environments of Nearby Galaxies”. Annual Review of Astronomy and Astrophysics 47 (1): 159–210. DOI:10.1146/annurev-astro-082708-101734.
  5. Moore, Ben; George Lake, Neal Katz (1998). “Morphological Transformation from Galaxy Harassment”. The Astrophysical Journal 495 (1). DOI:10.1086/305264.
  6. Burstein, D; Ho LC, Huchra JP, Macri LM (2005). “TheK‐Band Luminosities of Galaxies: Do S0s Come from Spiral Galaxies?”. The Astrophysical Journal 621 (1): 246–55. DOI:10.1086/427408.
  7. Sandage, A (2005). “The Classification of Galaxies: Early History and Ongoing Developments”. Annual Review of Astronomy and Astrophysics 43 (1): 581–624. DOI:10.1146/annurev.astro.43.112904.104839.


Sterrestelsels
Soorte stelsels   Elliptiese sterrestelselLensvormige sterrestelselSpiraalsterrestelselOnreëlmatige sterrestelselDwergsterrestelselSteruitbarsting-sterrestelselDonker sterrestelsel
Strukture   SwartkolkGalaktiese uitbultingStaafSkyfSpiraalarmGalaktiese haloInterstellêre mediumKwasar
Interaktiewe stelsels   SterrestroomAktiewe sterrestelselInteraktiewe sterrestelselSatelliet-sterrestelselSterrestelselswermSuperswermGalaktiese filamentGroot kwasargroep