Mark Shuttleworth

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Mark Shuttleworth
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Geboortenaam Mark Richard Shuttleworth
Gebore 18 September 1973
Welkom, Vrystaat, Suid-Afrika
Nasionaliteit Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Beroep entrepreneur
Webblad www.markshuttleworth.com
Mark Shuttleworth in die ruimte, 27 April 2002

Mark Shuttleworth (gebore 18 September 1973) is 'n Suid-Afrikaanse entrepreneur. Shuttleworth is gebore in Welkom in die Vrystaat. As 'n vroeë ruimtetoeris, was hy die eerste burger van 'n Afrika-land in die ruimte. Hy woon tans in Londen en het burgerskap van beide Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk.

Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan aan die Diocesan Kollege, het Shuttleworth 'n sake- en wetenskapgraad in finansies en inligtingstelsels aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Shuttleworth het op 25 April 2002 wêreldwyd bekend geword as 'n burgerlike ruimtevaarder aanboord die Russiese Sojoes TM-34-missie, waarvoor hy ongeveer VSA $20 miljoen betaal het. Twee dae later, het die Soyuz-ruimteskip by die internasionale ruimtestasie aangekom, waar hy agt dae lank gebly het. Shuttleworth het deelgeneem aan eksperimente oor vigs- en genoomnavorsing. Op 5 Mei keer hy terug na die aarde. Ten einde aan die vlug deel te neem het Shuttleworth 'n jaar lank opleiding en voorbereiding ondergaan, sewe maande daarvan by Sterrestad in Moskou.

Thawte[wysig]

In 1995, het Shuttleworth Thawte gestig, wat gespesialiseer het in digitale sertifikate en internetveiligheid. Hy verkoop Thawte in Desember 1999 aan VeriSign vir R3,5-miljard.

HBD Venture Capital[wysig]

Hy stig HBD Venture Capital, 'n besigheidsbroeikas en waagkapitaalvoorsiener.

Die Shuttleworthstigting[wysig]

In 2001 stig hy die Shuttleworthstigting, 'n nie-winsgewende organisasie toegespits op sosiale inovasie wat ook onderwys en oopbronprojekte in Suid-Afrika befonds, byvoorbeeld The Freedom Toaster sagtewareprojek.

Canonical en Ubuntu[wysig]

Shuttleworth het deelgeneem as 'n Debian-ontwikkelaar in die 1990s, en in 2004 het hy teruggekeer na die Linuxwêreld deur die befondsing van die ontwikkeling van Ubuntu Linux, 'n gebruikersvriendelike weergawe van Linux, deur sy maatskappy Canonical Ltd. In 2005 stig hy die Ubuntustigting en maak 'n aanvanklike belegging van VSA $10 miljoen. Fondse van die stigting word gebruik om Ubuntu medewerkers te vergoed. In September 2005, het hy 'n 65% aandeel in ImpiLinux gekoop.

Eksterne Skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Mark Shuttleworth (kategorie)