2MASS
2MASS is die mees ambisieuse projek tot dusver om hemelliggame waar te neem en te kategoriseer. Waarnemings vir die Two Micron All-Sky Survey[1] het in 1997 begin en is in 2001 voltooi.[2]
Twee teleskope is gebruik, een in die Noordelike Halfrond (in Arizona) en een in die Suidelike Halfrond (in Chili) sodat die hele hemelruim gedek kon word. Die finale data van 2MASS is in 2003 gepubliseer. ’n Fotometriese stelsel van drie infrarooi-golfbande van sowat 2 mikrometer (m) is gebruik: J (1,25 m), H (1,65 m) en Ks (2,17 m).
Die doel van die opname was onder meer:
- Die waarneming van sterrestelsels in die deel van die lug wat in sigbare lig deur ons eie stelsel, die Melkweg, verberg word.
- Die eerste waarneming van bruindwergsterre soos 2MASS 0939-2448, 2MASS 0415-0935, 2M1207 en 2MASS J04414489+2301513. Soos in 2003 het 2MASS altesaam 173 bruindwerge ontdek.[3]
- ’n Uitgebreide opname van sterre met ’n klein massa, die mees algemene soort ster in sowel die Melkweg as ander sterrestelsels.
- Die katalogisering van alle waargenome sterre en stelsels.
Die laaste doel is uitstekend behaal. Numeriese beskrywings van alle puntbronne (sterre, planete, asteroïede) en uitgebreide bronne (sterrestelsels, nebulae) tot ’n gemiddelde magnitude van 14 is deur geoutomatiseerde rekenaarprogramme gekategoriseer. Meer as 300 miljoen puntbronne en 1 miljoen uitgebreide bronne is aangeteken. In November 2003 het ’n span wetenskaplikes die ontdekking van die Canis Major-dwergsterrestelsel aangekondig gebaseer op die ontleding van 2MASS-data. Dit was in daardie stadium die naaste bekende sterrestelsel aan die Melkweg.
Die data en beelde van die opname is tans in die publieke domein en kan deur enigiemand gratis aanlyn besigtig word.[4]
2MASS- bruin- en witdwerge binne 30 ligjare van die Aarde af sluit in:
Voorwerp | Tipe | Lig- jare |
Spektraal- tipe |
Sterrebeeld | Regte klimming |
Deklinasie |
---|---|---|---|---|---|---|
2MASS 0036+1821 | bruindwerg | 29 | L3.5 | Visse | 00h 36m 16.17s | 18° 21′ 10.4″ |
2MASS 0415-0935 | bruindwerg | 18 | T8V | Eridanus | 04h 15m 19.54s | -09° 35′ 06.6″ |
2MASS 0727+1710 | bruindwerg | 28 | T7 | Tweeling | 07h 27m 18.24s | 17° 10′ 01.2″ |
2MASS 0937+2931 | bruindwerg | 20 | T6 | Leeu | 09h 37m 34.9s | 29° 31′ 41″ |
2MASS 0939-2448 | bruindwerg | 17 | T8 | Lugpomp | 09h 39m 35.48s | -24° 48′ 27.9″ |
2MASS 1114–2618 | bruindwerg | 18 | T7.5 | Noordelike Waterslang | 11h 14m 51.337s | -26° 18′ 23.56″ |
2MASS 1507–1627 | bruindwerg | 24 | L5 | Weegskaal | 15h 07m 47.69s | -16° 27′ 38.6″ |
2MASS 1835+3259 | bruindwerg | 18 | M8.5 | Lier | 18h 35m 37.902s | 32° 59′ 54.59″ |
Gliese 293 | witdwerg | 26 | DC8.8 | Vlieënde Vis | 07h 53m 08.15s | -67° 47′ 31.4″ |
Gliese 440 | witdwerg | 15 | DQ6 | Vlieg | 11h 45m 42.9205s | -64° 50′ 29.459″ |
Gliese 518 | witdwerg | 27 | DZ10.0 | Maagd | 13h 36m 31.81s | 03° 40′ 45″ |
Gliese 915 | witdwerg | 27 | DAP5.8 | Feniks | 00h 02m 10.766s | -43° 09′ 56.02″ |
GJ 1087 | witdwerg | 26 | DAP8.9 | Jagter | 05h 56m 25.47s | 05° 21′ 48.6″ |
GJ 1221 | witdwerg | 20 | DQP9.0 | Draak | 17h 48m 08.17s | 70° 52′ 35.3″ |
GJ 1289 | rooidwerg | 26 | M4.0V | Andromeda | 23h 43m 06.289s | 36° 32′ 13.24″ |
Van Maanen se Ster | witdwerg | 14 | DZ8 | Visse | 00h 49m 09.90175s | 05° 23′ 19.0117″ |
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "About 2MASS (A Brief Explanation of 2MASS)" (in Engels). University of Massachusetts, Infrared Processing and Analysis Center (JPL/ Caltech), NASA, NSF. 1 Februarie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 September 2018. Besoek op 21 September 2008.
- ↑ "Two Micron All Sky Survey (2MASS)" (in Engels). NASA/IPAC Infrared Science Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2019. Besoek op 22 Oktober 2011.
- ↑ Kirkpatrick (2003). "2MASS Data Mining and the M, L, and T Dwarf Archives" (PDF). IAU Symposium Vol. 211 ("Brown Dwarfs"). 211. arXiv:astro-ph/0207672v1. Bibcode:2003IAUS..211..189K. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 20 Augustus 2020. Besoek op 12 Maart 2013.
- ↑ "2MASS Data Access" (in Engels). The Two Micron All Sky Survey at IPAC. 20 Desember 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2018. Besoek op 2 September 2012.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- 2MASS by IPAC
- 2MASS by UMass Geargiveer 9 Mei 2008 op Wayback Machine