Henry Watson
Henry Arthur Ingress Watson (Wynberg, Kaapkolonie, 10 Mei 1904 – Plettenbergbaai [moontlik], Suid-Afrika, September 1982) was ’n argitek.
Watson is in die Kaapse Skiereiland gebore, maar nadat sy ouers na Pretoria verhuis het, het hy sy skoolopleiding aan die Pretoria Boys' High School ontvang. In 1921 het hy aangesluit by die Suid-Afrikaanse Ingenieurskorps en lid daarvan gebly tot 1925. Luidens sy inskrywing in Wie is wie in Pretoria (1952) het Watson argitektuur in Suid-Afrika en Londen studeer, maar geen datums word vir dié studie aangegee nie. Moontlik het hy tekenaatkursusse voltooi terwyl hy in die Ingenieurskorps was.
Teen 1926, nadat hy die korps verlaat het, was hy werksaam in die kantoor van die argitek Gerard Moerdyk. Sowat 12 jaar lank het Watson heelwat werk vir Moerdyk verrig en was hy dikwels die enigste assistent in sy kantoor. Hy was betrokke by die ontwerp en teken van die planne vir Libertas, die eerste minister se ampswoning in Pretoria, nadat Moerdyk in 1935 ’n kompetisie vir die ontwerp daarvan gewen het.
In 1938 het Watson ’n vennootskap met Moerdyk aangegaan en die Voortrekkermonument in Pretoria help ontwerp.
Saam was hulle onder meer ook verantwoordelik vir die ontwerp van:
- Gereformeerde kerk Kroonstad, hoeksteen gelê op 6 Maart 1948.
- Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes, hoeksteen gelê op 10 April 1948.
- NG moederkerk Nigel, hoeksteen gelê op 11 November 1950.
- Gereformeerde kerk Johannesburg-Oos, hoeksteen gelê op 16 Junie 1951.
- Gereformeerde kerk Kaapstad, hoeksteen gelê op 11 Augustus 1951.
- NG kerk Sannieshof, hoeksteen gelê 5 September 1953.
- NG kerk Hartbeesspruit, opgerig omstreeks 1962 .
- NG kerk Krokodilrivier, hoeksteen gelê op 8 September 1951.
Teen 1952 as hy ’n direkteur van Saambou Nasionale Bouvereniging. In 1969 het hy afgetree en op Plettenbergbaai gaan woon. In 1979 is hy verkies tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nadat dié instansies in 1963 sy erepenning vir argitektuur en beeldhoukuns aan hom toegeken het.
Galery geboue
[wysig | wysig bron]-
Die vooraansig van Kroonstad se Gereformeerde kerkgebou.
-
'n Argitekskets van die Gereformeerde kerk Kroonstad deur Moerdyk of Watson. Die hoeksteen is gelê op 6 Maart 1948.
-
Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes, ontwerp in vennootskap met Moerdyk. Die hoeksteen is gelê op 10 April 1948.
-
Die Gereformeerde kerk Kaapstad is ingewy op 6 April 1952. Watson het dit in vennootskap met Gerard Moerdyk ontwerp.
-
'n Perspektieftekening deur die firma Moerdyk en Watson van die Gereformeerde kerk Kaapstad.
-
Die NG kerk Sannieshof is ontwerp deur Watson en Moerdyk. Ds. N.E. de Kock het die hoeksteen gelê op 5 September 1953.
-
Watson was Gerard Moerdyk se vennoot in die ontwerp van die Voortrekkermonument.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (en) Biografiese besonderhede op die webtuiste artefacts.co.za. URL besoek op 28 April 2017.
- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.