Katharina I van Rusland
Katharina I | |
---|---|
Keiserin van die Hele Rusland | |
Dinastie | Romanof |
Bewind | 1741–1762 |
Volle naam | Katharina Aleksejewna (Marta Skawronskaja) |
Ander titels | Tsarina |
Gebore | 15 April 1684 |
Gesterf | 17 Mei 1727 |
Voorganger | Pieter die Grote |
Opvolger | Pieter II |
Gade | Pieter die Grote |
Kinders | Anna Petrowna Elisabeth Petrowna |
Vader | Samoeil Skawronski |
Moeder | Elisabeth Moritz |
Katharina I Aleksejewna (Rengen, Estland, 15 April 1684 – Sint Petersburg, 17 Mei 1727) was van 1741–1762 keiserin van Rusland. Sy was die tweede vrou van keiser Pieter die Grote.
Vroeëre lewe
[wysig | wysig bron]Katharina I is gebore as Marta Skawronskaja, dogter van ’n Litause boer, Samoeil Skawronski. Sy word aangeneem deur die Baltiese Duitser Ernst Glück, ’n Lutherse dominee en onderwyser in Marienburg. Op 17-jarige ouderdom trou sy met ’n Sweedse dragonder. Toe Russiese troepe die stad binneval, word sy gevange geneem.
Ná haar vrylating word sy die minnares van prins Aleksander Mensjikof, die beste vriend van Pieter die Grote. In 1703 neem Mensjikof haar gereeld saam na sy huis en so leer sy die keiser ken.
Gou hierna word sy Pieter die Grote se minnares. In 1705 neem sy die Ortodokse geloof aan en verander haar naam in Jekaterina Aleksejewna. Sy trou (nie-amptelik vermoedelik al op 19 November 1707, maar amptelik eers op 1 Maart 1712) met die keiser en baar vir hom elf kinders. Die meeste sterf kort ná hul geboorte. Die enigste twee wat oorleef, is Anna en Elisabeth (albei voor die amptelike huweliksdatum gebore). Elisabeth was self van 1741–1762 keiserin en Anna se afstammelinge sou ná Elisabeth regeer tot met die Russiese Rewolusie van 1917.
Bewind
[wysig | wysig bron]In 1724 maak Pieter haar medeheerser. Die volgende jaar sterf hy sonder om ’n troonopvolger aan te wys. Hoewel sy erken word as sy opvolger, berus die ware mag in die hande van haar ou beskermheer Mensjikof en die Hoë Kroonraad.
By die volk is sy – self ’n ongeletterde vrou uit die volk – bemind, maar sy regeer nie lank nie. Sy sterf op 17 Mei 1727 op 43-jarige ouderdom. Voor haar dood het sy probeer om haar dogter Elisabeth as haar opvolger erken te kry, maar die hof besluit om die kleinseun van Pieter I as Pieter II op die troon te plaas.
Ná haar dood
[wysig | wysig bron]Katharina was die eerste vrou wat oor keiserlike Rusland regeer het en het so die weg gebaan vir ’n nuwe neiging in die land se geskiedenis. Gedurende feitlik die hele 18de eeu is Rusland deur vroue regeer, onder andere Anna, Elisabeth en Katharina II. Almal het op Pieter die Grote se regeringstyl voortgebou en elk het op haar eie manier probeer om Rusland te moderniseer.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Catharina I van Rusland