Oriëntale Ortodoksie
Deel van ’n reeks oor |
Oosterse Ortodoksie |
---|
Geskiedenis |
Oosters-Ortodokse Kerk Nicea I • Konstantinopel I • Efese • Chalcedon • Konstantinopel II • Konstantinopel III • Nicea II |
Oosters-Ortodokse kerke |
Ekumeniese Patriargaat van Konstantinopel Grieks-Ortodokse Kerk van Alexandrië Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië Grieks-Ortodokse Patriargaat van Jerusalem Russies-Ortodokse Kerk Georgies-Ortodokse en Apostoliese Kerk Serwies-Ortodokse Kerk Roemeens-Ortodokse Kerk Bulgaars-Ortodokse Kerk Kerk van Siprus Kerk van Griekeland Pools-Ortodokse Kerk Ortodokse Kerk van Albanië Ortodokse Kerk van Tsjeggië en Slowakye (Ortodokse Kerk in Amerika) |
Geloof |
Askese • Diofisitisme • Eerste onder gelykes • Heilige liturgie • Ikonografie • Jesusgebed • Kruisteken • Miafisitisme • Monofisitisme • Monoteletisme • Nestorianisme • Raskolniki • Teose • Teotokos |
Oriëntale Ortodoksie is die geloof van die Oosterse Christelike kerke wat net die eerste drie ekumeniese konsilies aanvaar – die Eerste Konsilie van Nicea, die Eerste Konsilie van Konstantinopel en die Konsilie van Efese. Hulle verwerp die dogmatiese definisie van die Konsilie van Chalcedon, wat in 451 n.C. gehou is. Daarom word dié kerke ook soms die Ou Oriëntale, Miafisitiese of Nie-Chalcedoniese kerke genoem. Hulle is ook bekend as die Monofisitiese kerke, maar beskou self dié naam as onakkuraat omdat hulle die leerstellings van beide Nestorius en Eutyches verwerp het.[1]
Die kerke is in volle gemeenskap met mekaar, maar nie met die Oosters-Ortodokse Kerk nie. Versigtige samespreking om gemeenskap met laasgenoemde te herstel het in die middel van die 20ste eeu begin.[2]
Ondanks die moontlik verwarrende naam (die woord "Oriëntaal" is sinoniem met die Ooste) onderskei dit die Oriëntaal-Ortodokse kerke van die Oosters-Ortodokse Kerk. Die Oriëntaal-Ortodokse gemeenskap bestaan uit ses kerke: die Kopties-Ortodokse, Ethiopies-Ortodokse, Eritrees-Ortodokse, Siries-Ortodokse, Malankara-Ortodokse Siriese en Armeens-Apostoliese Kerk.[3] Hoewel die kerke in gemeenskap met mekaar is, is hulle hiërargies onafhanklik.[4]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Oriëntaal-Ortokse kerke en die res van die Christendom het geskeur oor verskille in Christologiese terminologie. Die Eerste Konsilie van Nicea (325) het verklaar dat Jesus Christus God is, dus van dieselfde wese, en die Konsilie van Efese (431) dat Jesus, hoewel goddelik en menslik, net een persoon is. Twintig jaar ná Efese het die Konsilie van Chalcedon verklaar dat Jesus een person in twee volledige nature is: een goddelik en een menslik. Teenstanders van Chalcedon het dié leerstelling vereenselwig met die Nestoriaanse dwaalleer dat Christus twee aparte entiteite was, die een goddelik (die Logos) en die ander menslik (Jesus). Dié idee is by Efese verwerp.
Patriarg Dioskoros I van Alexandrië en die ander 13 Egiptiese biskoppe het geweier om die besluit van die Konsilie van Chalcedon te aanvaar. Die Oriëntaal-Ortokse Kerke word dus dikwels monofisities genoem. Hulle self verkies egter die term miafisities.
Christologie, hoewel dit belangrik was, was nie die enigste rede dat die Alexandriese kerk geweier het om die besluite van die Konsilie van Chalcedon te aanvaar nie; warm debatte is in dié tyd gevoer oor politieke, kerklike en keiserlike kwessies.
In die jare ná Chalcedon het die patriarge van Konstantinopel met tussenposes in kommunie gebly met die nie-Chalcedoniese patriarge van Alexandrië, Antiogië en Jerusalem, maar Rome het nie. Eers in 518 het die nuwe Bisantynse keiser, Justinus I (wat Chalcedon aanvaar het), gelas dat die kerk in die Romeinse Ryk die konsilie se besluite aanvaar.[5] Hy het opdrag gegee dat al die nie-Chalcedoniese biskoppe vervang word, ook dié in Alexandrië en Antiogië.
Ná die skeuring het die volgende Oriëntaal-Ortodokse kerke ontstaan:
- Die Siries-Ortodokse Kerk van Antiogië, of Jakobitiese Kerk
- Die Kopties-Ortodokse Kerk (in Egipte) wat ontstaan het uit die patriargaat van Alexandrië
- Die Armeens-Apostoliese Kerk, wat nie teenwoordig was by Chalcedon nie weens ’n oorlog teen Persië, maar hulle het in 505 miafisitisme gekies
Later het ontstaan:
- Die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk
- Die Eritrees-Ortodokse Tewahedo-kerk
- Die Malankara-Ortodokse Siriese Kerk (in Indië)
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Betts, Robert B., Christians in the Arab East, Lycabbetus Press (Athene, 1978)
- Charles, R.H. The Chronicle of John, Bishop of Nikiu: Translated from Zotenberg's Ethiopic Text, 1916. Herdruk 2007. Evolution Publishing, ISBN 978-1-889758-87-9. [1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Davis, Society of Jesus, Leo Donald (1990). The First Seven Ecumenical Councils (325-787): Their History and Theology (Theology and Life Series 21). Collegeville, MN: Michael Glazier/Liturgical Press. p. 342. ISBN 978-0-8146-5616-7.
- ↑ Syrian Orthodox Resources – Middle Eastern Oriental Orthodox Common Declaration
- ↑ "Oriental Orthodox Churches". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2010. Besoek op 11 April 2013.
- ↑ "An Introduction to the Oriental Orthodox Churches". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2012. Besoek op 11 April 2013.
- ↑ Catholic Encyclopedia: Pope St. Hormisdas
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Oriëntaal-Ortodokse kerke Geargiveer 24 Junie 2013 op Wayback Machine
- Orthodox Unity
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia