Igor Strawinski

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Igor Fjodorowitsj Strawinski
Igor Stravinsky LOC 32392u.jpg
Igor Strawinski, foto sonder datum
Geboorte 17 Junie 1882
Oranienbaum, Rusland
Afsterwe 6 April 1971
New York, Verenigde State
Beroep(e) Komponis, pianis, dirigent
Genre(s) Klassieke musiek, Nuwe Musiek
Aktiewe jare 1910 - 1971
Assosiasies Ballets Russes
Portal.svg Musiekportaal

Igor Fjodorowitsj Strawinski (Russies: Игорь Фёдорович Стравинский, getranslitereer: Igorʹ Fëdorovič Stravinskij; Russiese uitspraak: [ˌiɡərʲ ˌfʲjodɐrɐvʲɪtɕ strɐˈvʲinskʲɪj]; * 17 Junie (5 Junie volgens die Juliaanse kalender) 1882, † 6 April 1971) was 'n Russiese, later Franse en Amerikaanse komponis, pianis en dirigent. Hy word algemeen beskou as een van die belangrikste en invloedrykste komponiste van die 20ste eeu asook as een van die belangrikste verteenwoordigers van die Nuwe Musiek-styl.

Strawinski se loopbaan as komponis is deur sy verskeidenheid van musiekstyle gekenmerk. Hy het internasionale bekendheid met drie ballette verwerf wat hy in opdrag van die impresiario Sergei Diaghilef gekomponeer het en wat vir die eerste keer deur Diaghilef se balletgeselskap Ballets Russes in Parys opgevoer is: L'oiseau de feu ("Die Vuurvoël", 1910), Pétrouchka ("Petroesjka", 1911) en Le Sacre du printemps ("Die Lentewyding", 1913).

Die laasgenoemde ballet het die manier, waarop latere komponiste oor ritmiese struktuur gedink het, ingrypend verander en het aan Strawinski sy reputasie as musikale rewolusionêr besorg wat die grense van musikale ontwerp verskuif het. Sy "Russiese fase" is in die 1920's deur 'n periode opgevolg waartydens hy hom op neo-klassieke musiek toegespits het. Werke uit hierdie periode maak dikwels gebruik van tradisionele musiekvorme soos concerto grosso, fuga en simfonie en bring hulde aan die musiek van vroeëre meesters soos Johann Sebastian Bach en Pjotr Tsjaikofski.

In die 1950's het Strawinski seriële prosedure begin volg. Sy werke uit hierdie periode toon kenmerke van sommige van sy vroeëre komposisies: ritmiese energie, die konstruksie van uitgebreide melodiese ideeë uit enkele selle met twee of drie note en die klaarheid van vorme, instrumentasie en musikale uiting.