Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die tempel op Salt Lake City se Tempelplein is die bekendste argitektoniese simbool van die Mormone-beweging

Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (Engels: The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints) is die grootste Mormoonse kerk en die vyfde grootste geloofsgemeenskap in die Verenigde State wat byna twee persent van die Amerikaanse bevolking en ook die meerderheid in die deelstaat Utah verteenwoordig.

Saam met ander geloofsgemeenskappe soos die liberale Community of Christ en kleiner splintergroepe wat naas die Bybel ook die Boek van Mormon as 'n heilige skrif aanvaar word na hierdie denominasie ook as Mormone of Mormoonse Kerk verwys.

Die kerk is deur Joseph Smith jun. op 6 April 1830 in Fayette in die VSA-deelstaat New York amptelik gestig. As gevolg van die Mormone se groot trek na die weste in die 19de eeu het die kerk sy hoofkwartier tans in Salt Lake City, die administratiewe hoofstad van Utah. Volgens die kerk se eie statistieke is daar tans sowat 13 miljoen lede in meer as 160 lande en gebiede wêreldwyd, waarvan 5,5 miljoen in die VSA en 48 112 in Suid-Afrika. Die eerste Mormoonse sendelinge het op 19 April 1853 by Kaapstad in Afrika aangekom.[1]

Lede van die kerk, wat na hulself as "Heiliges van die Laaste Dae" verwys, beskou hul geloof as 'n deur God geïnspireerde herstigting van die oorspronklike kerk wat volgens die Christelike tradisie deur Jesus van Nasaret ("Jesus Christus") gestig is. Die kerk staan volgens sy eie leerstellings nie in die Katolieke, Ortodokse of Protestantse tradisie nie en gebruik naas die Bybel - wat as "onvolledig" beskou word - ander religieuse geskrifte soos die Boek van Mormon.

Die kerk word deur ander Christelike denominasies gevolglik as 'n sinkretistiese nuwe religieuse beweging geklassifiseer (die Duitse Handbuch Religiöse Gemeinschaften und Weltanschauungen, 'n Evangelies-Lutherse standaardwerk oor religieuse gemeenskappe, beskou die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae nie as 'n Christelike gemeenskap nie), en sy dope word nie deur ander kerke en sektes erken nie, terwyl die Mormone-kerk die geldigheid van ander kerke en sektes se sakramente betwis. Die geloofsoortuigings van ander Christene word nogtans gerespekteer, en naas die samewerking met ander Christelike gemeenskappe op humanitêre gebied spreek Mormone hulle ten gunste van religieuse verdraagsaamheid uit en maak finansiële bydraes tot die oprigting van kerke en tempels van ander religieuse gemeenskappe soos die Gereformeerde Joodse sinagoge in Salt Lake City en die Hindoeïstiese tempel in Spanish Fork (Utah).

Omstrede aktiwiteite van die kerk sluit sy diskriminasie van homofiele[2], sy kritiek op aborsies[3] en sy sendingprogram in waarvolgens jongmense as sendelinge in ander lande optree. Die kerk het vroeër ook teen Swartes gediskrimineer en tot by die jaar 1978 geweier om hulle as priesters toe te laat.[4]

Eksterne skakels[wysig]

Die Boek van Mormon - elektroniese teks (Engels)

The Joseph Smith Papers - Die Joseph Smith Papiere (Engels)

Verwysings[wysig]