Themistokles

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Themistokles
c. 524 v.C. – 459 v.C.
Themistokles

Borsbeeld van Themistokles

Geboorteplek Athene, Antieke Griekeland
Plek van afsterwe Magnesia aan die Meander
Lojaliteit Athene (tot c. 471 v.C.)
Persië (469–459 v.C.)
Rang Generaal (Strategos)
Veldslae/oorloë Eerste Persiese Oorlog

Tweede Persiese Oorlog

  • Veldslag van Artemisium
  • Veldslag van Salamis

Themistokles (Grieks: Θεμιστοκλῆς; "Glorie van die Wet"[1]); c. 524459 v.C., was 'n Atheense politikus en generaal. Hy was een van 'n nuwe geslag politici wat opgang gemaak het in die vroeë jare van die Atheense demokrasie, tesame met sy groot teenstander Aristides. As politikus was Themistokles 'n populis, met as steungroep die laer Atheense klasse, terwyl hy meerendeels met die Atheense adelstand oorhoeks was. In 493 v.C. verkose as archont, het hy stappe gedoen om die Atheense vlootmag te versterk, wat 'n herhalende tema in sy politieke loopbaan sou word. Tydens die eerste Persiese inval in Griekeland, het hy geveg in die Veldslag van Marathon,[2] en was moontlik een van die 10 Atheense strategoi (generaals) in daardie konflik.

In die jare ná Marathon, en in die aanloop tot die tweede Persiese inval het hy die mees vooraanstaande politikus in Athene geword. Hy was steeds 'n voorstaander van 'n sterk Atheense vloot, en in 483 v.C. het hy die Atheners oorreed om 'n vloot van 200 trireme te bou; hierdie vaartuie sou deurslaggewend wees in die daaropkomende stryd teen Persië. Tydens die tweede inval, was hy effektief die bevelvoerder oor die Griekse bondgenote se vloot by die seeslae van Artemisium en Salamis. Danksy dié strategiese skuif deur Themistokles, het die Bondgenote by Salamis oor al die voordele beskik, en die deurslaggewende Griekse sege daar was die draaipunt van die inval, wat die volgende jaar beëindig is deur die oorwinning oor die Perse by die Veldslag van Plataia.

Na beëindiging van die konflik, was Themistokles steeds toonaangewend onder die Atheense politici. Hy het hom egter die ergernis van Sparta op die hals gehaal, deur opdrag te gee dat Athene se skanse herbou moes word, terwyl 'n opvatting dat hy arrogant sou wees, begin het om hom van die Atheners te vervreem. In 472 of 471 v.C., is hy geostrakeer, en het in bannelingskap na Argos gegaan. Die Spartane het nou die geleentheid gesien om weg te doen met Themistokles, en het hom geïmpliseer in die verraderlike komplot van hulle eie generaal Pausanias. Themistokles het gevolglik uit Griekeland gevlug, na Klein-Asië, waar hy in diens getree het van die Persiese koning Artasasta I. Hy is aangestel as goewerneur oor Magnesië, waar hy dan gewoon het vir die res van sy lewe.

Themistokles is oorlede in 459 v.C., waarskynlik aan natuurlike oorsake. Themistokles se reputasie is postuum in ere herstel, en hy is erken as 'n held van die Atheense (en inderdaad Griekse) saak. Themistokles kan steeds redelikerwys beskou word as "die man wat die mees intrumentele bydrae gelewer het tot die heil van Griekeland" in die aangesig van die Persiese bedreiging, soos Plutarchus hom dan ook beskryf. Sy maritieme beleid sou ook 'n blywende gevolg op Athene hê, aangesien die vlootmag die hoeksteen sou word van die Atheense ryk en die goue era. Thukydides was van mening dat Themistokles "'n man was wat die onmiskenbare tekens van genialiteit vertoon het; inderdaad, in hierdie opsig maak hy aanspraak op ons bewondering op 'n heel buitengewone en ongeewenaarde wyse".

Verwysings[wysig]

Bibliografie[wysig]

Antieke bronne

Moderne bronne

  • Butler, Howard (2005). The Story of Athens. Kessinger Publishing. ISBN 1-4179-7092-8. 
  • Hanson, Victor Davis (2001). Carnage and Culture: Landmark Battles in the Rise of Western Power. DoubleDay. 
  • Holland, Tom (2005). Persian Fire. Abacus. 
  • Simon Hornblower, Anthony Spawforth (1996). The Oxford Classical Dictionary. Oxford University Press. .
  • Green, Peter (2007). Alexander the Great and the Hellenistic Age. Orion. 
  • Lazenby, JF (1993). The Defence of Greece 490–479 BC. Aris & Phillips Ltd.. 
  • Strauss, Barry (2004). The Battle of Salamis: The Naval Encounter That Saved Greece—and Western Civilization. Simon and Schuster.