Abdoellah II van Jordanië

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Abdoellah II
Koning van Jordanië
King Abdullah portrait.jpg
Bewind 7 Februarie 1999 – tans
Voorganger Hoessein
Erfgenaam Kroonprins Hoessein
Gade Rania al-Jassin
Koningshuis Hasjim
Gebore 30 Januarie 1962 (1962-01-30) (57 jaar oud)
Amman, Jordanië
Vader Hoessein
Moeder Moena al-Hoessein
Volle naam Abdoellah bin Hoessein bin Talal bin Abdoellah
Godsdiens Soenni-Islam
Handtekening King Abdullah II of Jordan's signature.png

Abdoellah II bin al-Hoessein (Arabies: عبدالله الثاني بن الحسين, ʿAbdullah al-thani bin Al-Husayn, gebore 30 Januarie 1962) is sedert 1999 koning van Jordanië. Hy behoort tot die Hasjemitiese familie, wat sedert 1921 oor die land regeer en hulleself beskou as afstammelinge van die profeet Mohammed deur sy dogter Fatimah.

Vroeë lewe[wysig | wysig bron]

Abdoellah is in Amman gebore as die oudste kind van koning Hoessein en sy tweede vrou, die Brits gebore prinses Moena. As die koning se oudste seun was Abdoellah die regmatige troonopvoler, todat koning Hoessein in 1965 die titel aan sy broer, prins Hassan, oorgedra het.

Abdoellah het sy skoolopleiding in Amman begin en sy opvoeding oorsee voortgesit. Hy het sy militêre loopbaan in 1980 in die Jordaniese weermag begin en 1994 beheer van die land se spesiale magte oorgeneem. In 1998 het hy ’n generaalmajoor geword.

In 1993 het Abdoellah getrou met Rania al-Jassin (van Palestynse afkoms); hulle het vier kinders: kroonprins Hoessein, prinses Iman, prinses Salma en prins Hasjem. ’n Paar weke voor sy dood het koning Hoessein Abdoellah as sy erfgenaam aangewys, en hy het sy pa opgevolg.

Bewind[wysig | wysig bron]

Abdoellah, ’n konstitusionele monarg, het gesorg vir ’n ekonomiese oplewing in sy land wat tot in 2008 geduur het. In die daaropvolgende jare het Jordanië se ekonomie teenspoed ervaar weens die gevolge van die Groot Resessie en van die Arabiese Lente, insluitende ’n afname in sy petroleumvoorraad en in handel met sy buurlande.

In 2011 het grootskaalse protesaksies in die Arabiese wêreld uitgebreek en dit het in baie ander lande tot ’n burgeroorlog gelei. Abdoellah het egter vinnig op binnelandse onrus gereageer deur die regering te vervang en hervormings aan die grondwet en wette oor openbare vryhede en verkiesings in te stel. Die hervormings het plaasgevind te midde van ongeëwenaarde uitdagings wat gespruit het uit streekonstabiliteit, insluitende die instroming van 1,4 miljoen Siriese vlugtelinge na die land, wat nie veel natuurlike hulpbronne het nie, en die opkoms van die Islamitiese Staat in Irak en die Levant (ISIL).

Abdoellah is plaaslik en internasionaal gewild omdat hy Jordaniese stabiliteit handhaaf. Hy is ook bekend daarvoor dat hy dialoog tussen godsdienste en ’n algemene begrip van Islam aanmoedig. Hy is die derde langs regerende Arabiese leier en is in 2016 deur die internasionale Sentrum vir Islamitiese Strategiese Studies in Jordanië aangewys as die Moslem met die meeste invloed ter wêreld.[1] Hy is beskermheer van die Moslemse en Christelike heilige terreine in Jerusalem, ’n posisie wat sy dinastie sedert 1924 beklee.[2]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. "Profile: King Abdullah II of Jordan". themuslim500.com. 1 Januarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Desember 2016. Besoek op 13 Februarie 2017.
  2. "Jerusalem deal boosts Jordan in Holy City: analysts". AFP. The Daily Star. 2 April 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2017. Besoek op 22 Februarie 2017.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]