Amiese Doopsgesindes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Kontras in vervoer in Pennsylvania
Tradisionele klederdrag
Landbougebied met Amiese boerderye

Die Amiese Doopsgesindes (Engels: the Amish) is 'n Christelike protestantse geloofsgemeenskap in Noord-Amerika. Die groep woon afgesonder van ander mense in Pennsilvanië en Ohio in die VSA. Hulle volg streng gedragsriglyne en verkies 'n eenvoudige lewenstyl. Hulle dra byvoorbeeld tradisionele klere en mag nie telefone, motors en ander moderne uitvindsels gebruik nie.[1] Hulle praat 'n ou dialek van Duits, bekend as Pennsilvaniese Duits.

Amiese Doopsgesindes is volgelinge van die Switser Jakob Amman (1644–1730) wat in 1693 van die minder radikale mennonistiese hoofstroom afgeskei het. As gevolg van gedwonge geloofsvervolging in Switserland trek baie van hulle na die platteland van Elsas (Frankryk) en Palts (Duitsland). Kleiner groepe het ook na Nederland, Pole en Rusland verhuis. Vanaf 1737 emigreer talle Amiese gemeenskappe van Europa om hulle in Noord-Amerika te vestig.

Die Amiese Doopsgesindes is oor die algemeen vriendelik en waai meestal vir verbygaande persone. Hulle woon egter in landelike gemeenskappe en meng nie met die hoofstroom Amerikaanse samelewing nie. Dit is teen hul geloof om vir foto's te poseer. Hulle sal dikwels hulle kop wegdraai as iemand 'n kamera in hulle rigting mik.

Getroude mans mag nie hulle baarde skeer nie, maar word ook nie toegelaat om snorre te hê nie. Slegs ongetroude mans skeer hul gesigte.

Die aantal Amiese Doopsgesindes word op 230 000 tot 250 000 geskat. As gevolg van hul tradisioneel groot gesinne groei die bevolkingsgroep in 2012 nog sterk.[2][3]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Amish Population Growth: Numbers Increasing, Heading West, huffingtonpost.com, besoek op 16 Januarie 2015 (en)
  3. Reformatorisch Dagblad: Ledental amish in 16 jaar verdubbeld, 28 Augustus 2008 (nl)