Isambard Kingdom Brunel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

IKBrunelChains.jpg

Isambard Kingdom Brunel

Engelse argitek


Gebore op
9 April 1806
in Portsmouth, Hampshire, Engeland



Oorlede op
15 September 1859
in Westminster, Londen, Engeland


Beduidende projekte

Great Western Railway
Clifton-hangbrug
SS Great Britain


Handtekening

Isambard Kingdom Brunel signature.svg

Isambard Kingdom Brunel (* 9 April 1806, † 15 September 1859) was 'n Engelse meganiese en siviele ingenieur wat dokke, die Great Western Railway, 'n reeks stoomskepe - waaronder die eerste transatlantiese stoomskip wat met skroewe aangedryf is - en 'n groot verskeidenheid brûe en tonnels, waaronder sy befaamde Clifton-hangbrug in Bristol, gebou het. Sy ontwerpe het 'n omwenteling in die openbare vervoerbedryf en die moderne ingenieurswese teweeggebring.

Alhoewel Brunel se projekte nie altyd met sukses geseën was nie, het hy daarmee dikwels die vernaamste kwessies in die ingenieurswese aangespreek en vernuwende oplossings daarvoor gevind. Gedurende sy kort loopbaan het Brunel baie deurbrake verwesenlik en was onder meer betrokke by die bou van die eerste tonnel onder 'n bevaarbare rivier en die ontwikkeling van die SS Great Britain, die eerste skroefaangedrewe oseaanvarende ysterskip. Toe dit in 1843 van stapel geloop het, was dit die grootste seevaartuig wat ooit gebou is.

Brunel het die standaard vir 'n goed ontwerpte en geboude spoorlyn gestel en met noukeurige opmetings verseker dat hellings en kurwes tot 'n minimum beperk is. Hiervoor is ingewikkelde en duur boutegnieke gebruik, net soos nuwe brûe en viadukte, waaronder die Box-tonnel op die spoorlyn tussen Bath en Chippenham wat oor 'n lengte van 2 km onder die bergpiek Box Hill gebou is. Een van die mees omstrede kenmerke van sy spoorprojekte was die breër spoorwydte van 7 voet 14 duim (2 140 mm) teenoor die later algemeen gebruiklike standaardwydte van 4 voet 8 12 duim (1 435 mm). Die breër spoorwydte het treinritte geriefliker gemaak vir passasiers, maar boukoste laat styg en moeilikhede geskep waar die twee spoorwydtes met mekaar verbind moes word. Uiteindelik is die spoorwydte in die hele Great Western Railway-netwerk met die afkondiging van die Regulating the Gauge of Railways Act 1846 na die standaardwydte verander.

Een van sy mees gewaagde voorstelle was om die Great Western Railway se roete "weswaarts" tot Noord-Amerika te verleng met stoomgedrewe ysterrompskepe as vervoermiddel. Brunel het drie skepe ontwerp en gebou wat 'n omwenteling in mariene ingenieurswese teweeggebring het.