Konfusius

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Konfusius
孔子
Confucius 02.png
Gebore 551 v.C.
Zou, Lu-staat
Oorlede 479 v.C. (op 71–72)
Lu-staat
Nasionaliteit Chinees
Vakgebied Morele filosofie, sosiale filosofie, etiek
Bekend vir Stigter van Konfusianisme
Beïnvloed deur I Ching, Boek van Rites
Invloed op Baie Chinese filosowe, veral Mengzi, Xun Zi, die Neotaoiste en die Neokonfusianisme; François Quesnay; Christian Wolff; Robert Cummings Neville; Ezra Pound

Konfusius (Chinees: 孔子, letterlik vertaal: "Heer Kong") (volgens oorlewering 551 v.C. - 479 v.C.) is die bekendste Chinese wysgeer. Hy het maatskaplike en morele beginsels verkondig wat ’n groot invloed op die Chinese samelewing en denke gehad het. Hy het ook 'n groot invloed op lande soos Japan, Korea en Viëtnam uitgeoefen.[1]

Konfusius was 'n denker en sosiale filosoof en het veral persoonlike moraliteit en die moraliteit van die regering beklemtoon, sowel as die korrektheid van sosiale verhoudings, geregtigheid en opregtheid. Sy denke het ontwikkel tot 'n filosofiestelsel bekend as Konfusianisme.

Konfusius se oorspronklike naam was Kong Qiu of Zhong Ni. As kind was hy 'n gretige leerder en hy het baie in rituele belanggestel. Toe hy groot was het hy 'n staatsamptenaar geword wat plase en beeste hanteer het. Daarna het hy 'n onderwyser geword.

Gedurende sy lewe was talle lande in oorloë met China gewikkel. Hierdie tydperk staan as die lente- en herfsperiode van die Zhou-dinastie bekend. Konfusius het nie hiervan gehou nie en wou orde in die samelewing herstel.

Soos Sokrates het Konfusius soms vrae gestel, sonder om dit self te beantwoord. Hy wou eerder hê dat mense daaroor moes nadink, sodat hulle van ander mense en veral uit die geskiedenis kon leer. Hy was van mening dat persone met kennis en vaardighede in hoë posisies aangestel moes word, en nie net persone uit magtige families nie.

Konfusius wou hê dat mense eerder aan ander mense as oor geld en besittings dink. Hy het egter ook gevoel dat daar sterk reëls in die samelewing moet wees en dat mense dit moet gehoorsaam. Hy het gereken dat daar vyf tipiese verhoudings tussen mense bestaan, wat elk sy eie reëls het, naamlik:

  • Prins en onderdaan
  • Pa en seun
  • Man en vrou
  • Ouer en kind
  • Of vriende

Hy het hierdie tradisionele verhoudings die 'vyf prototipes' genoem. Konfusius het gesê dat beide partye aan reëls onderhewig is. Byvoorbeeld, 'n onderdaan moet aan 'n prins gehoorsaam wees, maar 'n prins moet ook na sy onderdane luister en goed en regverdig oor hulle regeer.

Een van Konfusius se leerstellings was dat mense teenoor ander moet doen soos hulle wil hê dat ander teenoor hulle moet optree. Dit word soms die Goue Reël genoem.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]