Maroela Media

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Maroela Media
Tipe webblad Nuus en kuierplek
Taal(e) Afrikaans
Registrasie Geen
Eienaar Maroela Media (Edms) Bpk
Huidige status Aktief
URL maroelamedia.co.za


Maroela Media is 'n digitale mediahuis wat nuus en 'n verskeidenheid ander inligting in Afrikaans publiseer. Maroela Media het in Julie 2019 meer as 2 miljoen unieke besoekers gehad. Maroela Media het in Julie 2019 ook meer as 20 miljoen bladsye in een maand bedien, met meer as 8 miljoen besoeke in een maand, wat dit die grootste Afrikaanse nuusplatform ter wêreld maak.[1]

Maroela Media het op 29 Julie 2011 sy digitale deure vir die publiek geopen. Die mediahuis het ten doel om 'n gemeenskap van Afrikaanssprekendes op die internet te skep.

Volgens Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, onderskei die mediaplatform hom op hierdie wyse:[2]

"Wat ons anders maak, is die ervaring wat ons vir lesers skep: nostalgie, 'n gevoel van behóórt, tuiskom, saam kuier in jou hartstaal. Ons gee nie net nuus nie; ons maak ons lesers deel van wie ons is."

Maroela Media publiseer 24 uur 'n dag nuus, elke dag van die jaar – insluitend naweke en vakansiedae. Nuusberigte is die gewildste van alle inhoud wat op Maroela Media gepubliseer word. Ander inhoud op Maroela Media sluit in sportnuus, resepte, Afrikaanse woorde, Afrikaanse uitdrukkings en taalwenke, nuus uit die vermaakwêreld, goeie nuus, geestelike artikels, tegnologie- en motornuus, rubrieke van meningsvormers in die Suid-Afrikaanse samelewing en lesersbriewe.

Maroela Media het 'n sterk Christelike fondasie en 'n streng redaksionele beleid. Kommentaar op Maroela word streng gemodereer om te voldoen aan die bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname.

Maroela beskik oor 'n gratis toepassing vir Android- en Apple-selfone waardeur gebruikers op hoogte van die jongste nuusgebeure gehou word.

Maroela Media se radioproduksiehuis, Draadloos, verskaf programinhoud gratis aan Afrikaanse gemeenskapstasies, insluitend ʼn jaarlikse radiovervolgverhaal. Maroela Media bied ook opleidingsgeleenthede teen minimale koste en bevorder onderlinge samewerking tussen radiostasies. Vanaf November/Desember 2014 is daar ook twee radiostasies in die buiteland wat van dié programinhoud gebruik maak. Teen 2019 maak meer as 60 gemeenskapsradiostasies gebruik van Maroela Media se programinhoud.

Maroela Media het ook sy eie aanlyn geskenkwinkel, Die Koöperasie, waar Afrikaanse produkte verkoop word.

Maroela Media het in 2013 saam met Etiket Brand Design 'n silwer Pendoring ontvang as Beste Geïntegreerde Veldtog.[3]

Maroela Media en Wikipedia[wysig | wysig bron]

Maroela Media is besig met 'n projek om Afrikaans op Wikipedia uit te brei. Op 20 April 2016 het Maroela 'n artikel hieroor gepubliseer.[4]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Redakteursbrief: Dankie – jy is een van 2 miljoen Maroela-lesers. Maroela Media (1 Augustus 2019). URL besoek op 2 Augustus 2019.
  2. Tait, M. 2014. Maroela Media: kuier in jou hartstaal. DEKAT, November/Desember, pp. 56-57
  3. Pendoring-toekennings: Maroela se Grootste Afrikaner-veldtog vereer. Maroela Media (22 September 2013). URL besoek op 13 Augustus 2019.
  4. "Maroela Media Help bou aan 'n Afrikaanse Wikipedia Adéle Changuio".

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]