Mosfilm
Мосфильм Mosfilm | |
Tipe | Korporasie |
---|---|
Gestig | 30 Januarie 1924 |
Hoofkantoor | Moskou, Russiese Federasie Mosfilmofskaja ul. 1, Metro Kiëfskaja, Moskou 119285 |
Sleutelpersone | Karen Sjachnazarof (voorsitter) |
Industrie | Rolprentbedryf |
Produkte | Rolprente, televisieprogramme, videosnitte |
Werknemers | 1 500 |
Webwerf | Mosfilm |
Mosfilm (Russies: Мосфильм, [məsˈfʲɨlʲm]) is die oudste en grootste rolprentmaatskappy in die Russiese Federasie en word ook as die grootste rolspeler in die Europese rolprentbedryf beskou. Sy hoofkwartier in Ramenki in die Westelike Administratiewe Distrik van Moskou, vlakby die Mossiesheuwels, met 'n totale oppervlakte van 14 000 m² huisves dertien rolprentateljees wat onder die modernstes in Europa gereken word.[1] Hier word steeds sowat tagtig persent van alle Russiese rolprente vir die silwerdoek en televisiekanale asook televisie-advertensies en videosnitte van Russiese popsterre vervaardig.[2] Vir belangstellende besoekers word besigtigingstoere aangebied. 'n Klein hotel, die Mosfilm Hotel, is op die ateljeeterrein geleë en staan eweneens oop vir die publiek.
In die vroeë 21ste eeu het Mosfilm grootskaals belê in die modernisering van sy vervaardigings- en tegniese geriewe. So is ateljees van moderne gesofistikeerde kamera- en ander tegnologieë voorsien. Die mees gevorderde digitale toerusting is in Mosfilm se klankateljee geïnstalleer. Twee van sy heropname-ateljees was die eerstes ter wêreld waaraan die Kaliforniese klankonderneming Dolby Laboratories in 2006 die sertfikaat van Dolby Premier Studio-gehalte toegeken het.[3][4]
In 2017 is die Dolby Premier-ateljees afgebreek om plek te maak vir die nuutste digitale omringklanktegnologie - Dolby Atmos. Die projek is deur die Britse klankkonsultansie White Mark bestuur.[5]
Mosfilm se lang lys van produksies sluit - naas onvermydelike propaganda - sowel befaamde rolprente uit die Sowjet-tydperk in, waaronder die werke van bekende regisseurs soos Andrei Tarkofski en Sergei Eisenstein, asook "Rooi Wilde Weste"-rolprente, Akiro Koerosawa se koproduksie Дерсу Узала (Dersoe Oezala) uit 1975 en die epiese werk Война и Мир ("Oorlog en vrede", 1968, 'n 70 mm-kleurfilm in drie dele[6]). In 2011 het Mosfilm begin om klassieke werke uit sy filmargiewe via 'n eie YouTube-kanaal vir die algemene publiek beskikbaar te stel (in Russies met Engelse onderskrifte), insluitende Andrei Tarkofski se wetenskapsfiksie-meesterwerk Solaris.[7]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Mosfilm in die Russiese markekonomie
[wysig | wysig bron]Nadat die Russiese staat sy subsidies vir rolprentprojekte ingekort het tot dertig persent van die totale begroting, tree Mosfilm nog nouliks selfs as vervaardiger op, maar beperk hom tot 'n nuwe rol as diensverskaffer vir privaat filmmaatskappye. Die Russiese rolprentbedryf ontvang jaaliks subsidies ter waarde van meer as 1,5 miljard ZAR, terwyl orals in die land moderne nuwe rolprentteeaters ontstaan. Opvallend genoeg is patriotiese rolprente net soos in die Sowjettydperk ook vandag nog uiters gewild. So behandel 'n betreklik groot persentasie van Russiese rolprente oorlogstemas - in lyn met president Wladimir Poetin se standpunt dat Rusland nie hoef skaam te voel oor sy verlede nie.[8]
Versamelings
[wysig | wysig bron]Alhoewel Mosfilm se ateljee-besigtigingstoere nie so opspraakwekkend en vol van spesiale effekte kan wees soos 'n besoek aan die Universal Studios in Los Angeles nie, is daar skatte soos Europa se grootste versameling kostuums (waarvan net 'n klein gedeelte uitgestal word), 'n filmstel wat laat 19de eeuse Moskou uitbeeld, historiese filmuitrustings en modelle wat vir spesiale effekte gebruik is. Die laaste deel van die ateljee-toer is aan Mosfilm se unieke versameling van 'n tagtigtal historiese voertuie gewy, waaronder koetse en waens, busse, vragwaens, motorfietse en 'n Rolls Royce van 1913.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Programm.ARD.de: Mosfilm - Russlands legendäre Traumfabrik. Besoek op 13 Junie 2018
- ↑ www.orf.at, 6 Mei 2011: „Du mutiger Kosake!“ Besoek op 13 Junie 2018
- ↑ en.mosfilm.ru: About. Besoek op 30 Januarie 2020
- ↑ Sputnik News Deutschland - Kultur, 11 Julie 2006: Mosfilm - das erste Filmstudio der Welt mit Dolby-Premier-Lizenz. Besoek op 30 Januarie 2020
- ↑ PSN Europe, 12 April 2017: White Mark designs Mosfilm’s first Dolby Atmos dubbing theatre. Besoek op 30 Januarie 2020
- ↑ Gennadi Rosenthal: Camera! on the Mosfilm lot. In: USSR - Soviet life today, Maart 1964, bl. 41
- ↑ The Moscow Times, 3 Mei 2011: Mosfilm Uploads Classics to YouTube. Besoek op 13 Junie 2018
- ↑ (de) stern.de, 10 Augustus 2007: Mosfilm-Studios - Das Hollywood des Ostens. Besoek op 30 Januarie 2020
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wiki-webtuistes
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Mosfilm.
- Media