Piet Hein (wetenskaplike)
- Hierdie artikel handel oor die Deense wetenskaplike en digter, Piet Hein. Sien gerus Piet Hein (seevaarder) vir die artikel oor die seevaarder en Nederlandse volksheld.
Piet Hein | |
Gebore | 16 Desember 1905 Kopenhagen, Denemarke |
---|---|
Oorlede | 17 April 1996 (op 90) Funen, Denemarke |
Nasionaliteit | Denemarke |
Vakgebied | Wiskunde |
Bekend vir | Raaisels, gedigte |
Piet Hein (16 Desember 1905 – 17 April 1996) was 'n Deense veelweter (digter, outeur, uitvinder, wiskundige en wetenskaplike). Hein het die pseudonieme Kumbel, Kumbel Kumbell en Notorius Jubelco (Berugte Opgewekte) gebruik.
Piet Hein het groot geword in 'n geleerde familie wat gereelde kontak gehad het met kunstenaars en wetenskaplikes (onder andere Niels Bohr), en Karen Blixen was sy ma se niggie. Een van Piet Hein se voorvaders was die Nederlandse vlootoffisier en nasionale held Piet Pieterszoon Hein.
Nadat hy 'n hoërskool sertifikaat in wiskunde van die Metropolitanskolen verkry, gaan hy na Stockholm om verder by die Koninklike Sweedse Kunsakademie te studeer. Voordat hy sy studies daar voltooi keer hy egter terug om teoretiese fisika by die Universiteit van Kopenhagen te studeer. Hy voltooi ook nie die kursus nie.
Kumbel se Gruks is wêreldberoemd. Die meeste daarvan is in Deens geskryf, maar sommige is in meer as twintig tale vertaal. Dit is kort vindingryke gedigte, baie keer met tekeninge, wat blydskap met sorg en donkerte met lig kombineer. Tussen sewe- en nege duisend daarvan is geskryf. Die eerste en bekendste was oor die klein katjie op die pad (Deens: lille kat på vejen, der sgu var sin egen).
Hein is ook bekend vir sy meetkundige figure die superellips, (superellipsetafel), superellipsoïed en supereier.
As wiskundige het Hein gefokus op die toepassing van kombinatorika op speletjies. In 1942 vind hy die bordspeletjie Hex, aanvanklik genaamd Polygon, uit.
In 1959 ontwerp hy die Sergels Torg in Stockholm, Swede in die vorm van 'n superellips om 'n oplossing te bied vir die reghoekige vorm waarin die verkeersirkel moes pas.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Piet Hein. |
- Piet Hein Tuisblad
- Notas oor Piet Hein Geargiveer 5 Maart 2005 op Wayback Machine, insluitend 'n paar gruks.
- Superellips (MathWorld)
- Gruks deur Piet Hein Geargiveer 9 Februarie 2006 op Wayback Machine
- Questia A Super-elliptical Moment in the Cultural Form of the Table: A Case Study of a Danish Table
- The "Superellipse": a curve that lies between the ellipse and the rectangle Geargiveer 25 Maart 2006 op Wayback Machine