Puyi

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Puyi
Keiser van China
Puyi as keiser van die Mantsjoe-Qing-dinastie.
Puyi as keiser van die Mantsjoe-Qing-dinastie.
Regeer 2 Desember 1908 – 12 Februarie 1912
1 Julie 1917 – 12 Julie 1917
Volle naam Aisin-Gioro 'Henry' Puyi
Geboortenaam Aìxīnjuéluó Pǔ Yí
Titels Keiser van die Qing-dinastie
Gebore 7 Februarie 1906
Oorlede 17 Oktober 1967
Voorganger Guangxu
Opvolger Geen
Gades Wan Rong
Wen Xiu
Tan Yuling
Li Yuqin
Li Shuxian
Kinders Geen
Adellike huis Qing
Vader Zaifeng, 2de prins Chun
Moeder Youlan, 2de prinses Chun

Puyi (19061967) was die laaste keiser van die Qing-dinastie en dus ook van China. Hy is in 1909 op driejarige ouderdom as keiser gekroon en het onder die naam Xuantong regeer tot sy abdikasie op 12 Februarie 1912. Hy is daarna weer vir 'n kort periode van 1 tot 12 Julie 1917 as keiser uitgeroep. In 1934 word hy deur die Japannese as keiser Kangde oor die vasalstaat Mantsjoekwo (ook Mantsjoerye) aangestel, en regeer tot die einde van die Tweede Chinees-Japannese Oorlog in 1945.

Beknopte biografie[wysig | wysig bron]

Die driejarige Puyi (regs) langs sy vader en jonger broer, Pujie.
Die plakkaat vir The Last Emperor.

Aisin-Gioro 'Henry' Puyi (Sjinees: 愛新覺羅•溥儀 / 爱新觉罗•溥仪 , Aìxīnjuéluó Pǔyí) is op 7 Februarie 1906 in Beijing gebore. Hy word in 1909 op driejarige ouderdom as keiser gekroon nadat beide sy ouers oorlede is. Sy vader was Zaifeng, prins Chun II. Hy het nie sy moeder geken nie en is deur eunugs grootgemaak.

Die Xinhai-rewolusie breek in Oktober 1911 uit en Puyi doen op 12 Februarie 1912 afstand van die troon. Hy bly amptelik tot 1924 die keiser, maar is in der waarheid 'n gevangene in die Verbode Stad.

In 1917 word Puyi opnuut as keiser van China uitgeroep nadat Zhang Xun, een van die krygshere, daarin geslaag het om die Chinese hoofstad, Beijing, te verower. Hy probeer die keiserryk herstel deur Puyi weer op die troon te plaas.

Twaalf dae later word die keiserryk deur 'n ander krygsheer, generaal Duan Qirui, tot 'n val gebring en moet Puyi weer van die troon afstand doen.

Tydens die Japannese besetting stig die Japannese die vasalstaat Mantsjoekwo. Om die bevolking ter wille te wees behou hulle Puyi as kieser, maar hy het weinig mag en is slegs 'n marionet van die Japannese.

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog word Puyi deur die Rooi Leër gevang en na die Sowjetunie geneem. In 1950 word hy deur die Sowjetowerhede aan die kommunistiese regime van Mao Zedong oorgegee en gearresteer omdat hy saam met die Japannese besetters gewerk het. Hy word in 'n "heropvoedingskamp" vir oorlogsmisdadigers in Shenyang en later Harbin geïnterneer.

In Desember 1959 verkry hy amnestie van Mao, waarna hy persoonlik deur premier Zhou Enlai ontvang word.

'n Geruime tyd later word hy die tuinier in die botaniese tuin van Beijing. In 1964 publiseer hy sy outobiografie, Van keiser tot burger (From emperor to citizen).

Hy is op 17 Oktober 1967 as 'n vry man in Beijing aan kanker oorlede. Alhoewel hy vyf keer getrou het, het hy geen kinders gehad nie.

Puyi se lewensverhaal is deur die Italiaanse regisseur Bernardo Bertolucci as L'Ultimo Imperatore (1987) (The Last Emperor) verfilm.

Keiserin Wan Rong saam met Puyi in Tianjin.

Harem[wysig | wysig bron]

  • Wan Rong (1906 - 1946) was Puyi se eerste vrou. Sy was die keiserin, alhoewel nie amptelik nie.
  • Wen Xiu (1909 - 1953).
  • Tan Yuling (1920 - 1942) trou met Puyi tydens sy heerskappy in Mantsjoekwo. Sy sterf onverwags nadat sy deur 'n Japannese dokter geopereer is.
  • Li Yuqin (1927 - 2001).
  • Li Shuxian (1925 - 1997).

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]