Bonn

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Federale Stad Bonn
Bonn Siebengebirge.jpg

Kaart Wapen
Lage der kreisfreien Bundesstadt Bonn in Deutschland.png
Wappen-stadt-bonn.svg
Vlag
Flagge der kreisfreien Stadt Bonn.svg
 Land Flag of Germany.svg Duitsland
 Deelstaat Flag of North Rhine-Westphalia.svg Noordryn-Wesfale
 Koördinate 50° 43' N, 7° 06' O
 Stigting 12 v.C. Romeinse voorpos
 Stadstatus 1243
 Oppervlakte:  
 - Totaal 141,22 vk km
 Hoogte bo seevlak 45,6-194,8 m
 Bevolking:  
 - Totaal (30 Junie 2013) 310 088[1]
 - Bevolkingsdigtheid 2 195,8/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Burgemeester Jürgen Nimptsch (SPD)
 Amptelike webwerf www.bonn.de
'n Oorsig oor die stad Bonn

Die Federale Stad Bonn lê in die suide van die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfalen langs die oewers van die Ryn. Dit is een van die oudste stede van Duitsland, met 'n geskiedenis wat oor meer as 2 000 jaar strek. Tot by die einde van die 18de eeu is Bonn die hoofstad van die Keulense Keurvorste. Tydens die 19de eeu ontwikkel die Universiteit van Bonn tot een van die voorste akademiese instellings in Duitsland. Met tans sowat 30 000 studente is dit een van die grootste Duitse universiteite.

In die tydperk tussen 1949 en 1990 het Bonn as die hoofstad van die Bondsrepubliek Duitsland en daarna, tot by die jaar 1999, as regeringsetel van die herenigde Duitsland gedien. Alhoewel die parlement en dele van die regering na die historiese hoofstad Berlyn verskuif is, is daar nog steeds ses departemente in die stad, wat die amptelike naam Federale Stad Bonn gekry het.

Die voormalige hoofkwartiere van parlement, regering en baie departemente is onder meer deur maatskappye oorgeneem. Twaalf organisasies van die Verenigde Nasies het hulle hoofkwartiere in die stad, en die nuwe VN-Kampus, wat in Julie 2006 geopen is, huisves nou die meeste van hulle.

Geografie[wysig]

Bonn, soos gesien vanuit die Drachenfels

Bonn lê in die suid-weste van die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfalen, sowat 25 kilometer van Keulen af, in die oorgangsgebied tussen die Rynlandse Leisteen-gebergte en die Nederrynse Vlakte. Die stad lê langs die oewers van die Ryn, met drie derdes van die stadsgebied teen die linkeroewer.

Bonn grens in die suide en weste aan die uilopers van die Eifel-gebergte, in die noorde aan die Keulense Bog en in die ooste en suid-ooste aan die Bergiese Land. Weens sy ligging word Bonn ook die "Poort na die romantiese Middelryn" genoem.

Die hoogste bergspits in die stadgebied is die Paffelsberg met 'n hoogte van 194,8 meter. Bonn beskik oor 'n natuurpark in die stadsentrum, die Rheinaue-park, wat met sy oppervlak van 160 hektaar 'n groot deel van die oorstromingsgebied teen die linker- en regteroewer van die Ryn beslaan. Die park is tydens die Federale Tuinskou in 1979 ingewy en word onder meer vir opelugkonserte gebruik.

Geskiedenis[wysig]

Die oudste nedersettings in die gebied dateer uit die tydperk omtrent 14 000 v.C. Ná die nederlaag van die Romeinse veldheer Varus in die slag teen Germaanse krygers onder die bevel van Arminius in 9 n.C. word die stad, wat destyds Bonna genoem is, as 'n militêre voorpos uitgebou. In die noorde van die huidige Bonn is 'n Romeinse legioen gestasioneer. Handelaars en ambagsmanne het hulle vinnig digby die voorpos gevestig.

Die hoofkwartiere van die Duitse Poskantoor (links) en die internasionale Duitse televisiediens Deutsche Welle (regs)
Standbeeld van Ludwig van Beethoven, 'n boorling van Bonn

Met die ondergang van die Romeinse Ryk in die 5de eeu begin ook die agteruitgang van Bonn. In die Frankiese tydperk en veral in die 9de en 10de eeu ontwikkel Bonn tot 'n geestelike sentrum, met die Villa Basilika as sy middelpunt. In die gebied van die huidige mark het 'n Middeleeuse markdorp ontstaan.

Ná hulle neerlaag in die slag naby Worringen in die jaar 1288 het die Keulense Keurvorste Bonn naas Brühl en Poppelsdorf as een van hulle woonplekke gekies. Uiteindelik het Bonn ook hulle hoofsetel geword. Tydens die 17de en 18de eeu het die Keurvoorste 'n aantal pragtige geboue in die barok-styl in Bonn laat opgerig.

In 1794 is Bonn deur Franse troepe beset en in 1815, ná Napoléon Bonaparte se neerlaag, by die Koninkryk Pruise ingelyf. Die stad het in die 19de eeu veral danksy die plaaslike universiteit, wat teen die einde van die 18de eeu gestig en in 1818 heropen is, bekendheid verwerf.

Ná die Eerste Wêreldoorlog is Bonn eers deur Britse en daarna tot by die jaar 1926 deur Franse troepe beset. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is groot dele van Bonn deur geallieerde bomaanvalle verwoes.

Die besluit, om van Bonn eerder as van Frankfurt am Main die voorlopige hoofstad van die nuut gestigte Bondsrepubliek Duitsland te maak, is op 3 November 1949 geneem en het tot 'n vinnige groei van die stad gelei.

Verwysings[wysig]

Eksterne skakels[wysig]

Commons
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Bonn (bladsy)