Osama bin Laden

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Foto van Osama bin Laden.

Usāma ibn Muhammad ibn Awad ibn Lādin, bekend as Osama bin Laden (Arabies: ‏أسامة بن لادن; ‎* 10 Maart, 1957 in Riaad, Saoedi-Arabië; † 2 Mei, 2011 in Abbottabad, Pakistan) was 'n terroris en die geestelike leier van verskillende djihadistiese groepe soos byvoorbeeld al-Kaïda. As moedjahid het bin Laden met Amerikaanse steun teen die Sowjet-inval in Afghanistan geveg. Sedert 1994 was hy stateloos en is in 1999 op die Amerikaanse FBI se Ten Most Wanted Fugitives-lys geplaas.

Verskeie bewyse verbind hom met die terreuraanvalle van 11 September. Bin Laden het byvoorbeeld net vóór 11 September aan kollegas gesê dat hy besig is met 'n groot operasie teen die VSA. Drie van die kapers is vervolgens regstreeks verbind met bin Laden en Al-Kaïda. Een is ook as 'n sleutelfiguur geïdentifiseer in die bomaanvalle op die Amerikaanse ambassades in Nairobi en Dar-es-Salaam in 1998 sowel as die aanval op die Amerikaanse oorlogskip die USS Cole in 2000.

Die mees verdoemende bewyse teen bin Laden, wat volgens die VSA onteenseglik sy aandeel aan die terreurdade bewys, is egter 'n video-opname wat in die Pentagon se besit is. Die video-opname beeld bin Laden uit waar hy 'n uiteensetting lewer van sy beplanning van die terreuraanvalle van 11 September.

Op 1 Mei (VSA tyd) kondig president Barack Obama aan op die Amerikaanse televisie dat bin Laden in 'n Amerikaanse aksie in Pakistan doodgemaak is. [1]

Lewensgeskiedenis[wysig]

Osama (ook bekend as Usama) bin Laden is in 1957 in Riaad, Saoedi-Arabië, gebore. Sy moeder was van Siriese afkoms en sy vader, Mohammed Awad bin Laden, was Jemenities. Osama was die sewende seun uit vyftig broers en susters. Sy vader het in 1930 na Saoedi-Arabië geëmigreer en het as 'n portier begin werk. Met sy dood, toe bin Laden dertien jaar oud was, was hy egter die miljardêr-eienaar van een van die grootste konstruksiemaatskappye in Saoedi-Arabië.

Bin Laden het in Jeddah grootgeword en sy skoolopleiding daar ontvang. In 1975, op sewentienjarige ouderdom, is hy met 'n Siriese familielid van hom getroud.

Toe die voormalige Sowjet-Unie Afganistan in 1979 binnegeval het, het bin Laden dit as sy plig as Moslem beskou om die inval te beveg. Hy het vegters opgelei en ondersteuning aan hulle gebied, en só die Maktab-al-Khidimat-groep tot stand gebring, wat bestaan het uit Moslems van oral oor die wêreld. Hulle het die oorlog beskou as Djihad ('n heilige oorlog), 'n Islamitiese kruistog met die doel om ontslae te raak van die Russe.

In 1989, is die Russe uit die Afgaanse gebied gedwing. Bin Laden en sy groeiende Afgaanse weerstandsbeweging het hulle nou daarop toegespits om alle nie-Moslems in die aangrensende gebiede te beveg. Die Amerikaanse magte wat in Afganistan agtergebly het, tesame met hul Midde-Oosterse bondgenote, het nou bin Laden en sy groep se vyande geword. Intussen het bin Laden — kort nadat die oorlog met die Sowjet-Unie beëindig is — hom weer in Saoedi-Arabië gaan vestig. In 1991, is hy uit Saoedi-Arabië verban weens anti-regeringsbedrywighede. Hy het hom in Soedan gaan vestig, waar hy die volgende vyf jaar woonagtig was. As gevolg van druk wat deur die VSA uitgeoefen is, is bin Laden in 1996 ook uit Soedan verban. Hy het nou teruggekeer na Afganistan, waar hy as gas van die Taliban verwelkom is.

Bin Laden het van sy familiefortuin gebruik gemaak om aanvalle teen die VSA te loods en is al deur die Amerikaanse staatsdepartement beskryf as een van die belangrikste borge wêreldwyd van ekstremistiese Islamitiese aktiwiteite. Sy Al-Kaïda-organisasie is 'n sambreelorganisasie van ongeveer twintig Islamitiese groepe, insluitend die Islamitiese Djihad, Hizboellah en die Bewapende Islamitiese Groep, wat takke in verskeie lande het. Die ledetal van Al-Kaïda is onbekend. Ramings wissel vanaf etlike honderde tot 3 000.

Met die aanvang van 2002 het daar steeds onsekerheid bestaan oor waar bin Laden hom in daardie stadium bevind het. Sommige waarnemers het gespekuleer dat hy hom steeds in die bergagtige Tora-Bora-gebied in Afghanistan skuil hou. Andere het geglo dat hy na Pakistan gevlug het, waar hy in 'n aanval deur Amerikaanse magte op 2 Mei 2011 doodgemaak is.

Verwysings[wysig]

Commons
Wikimedia Commons het meer media verwant aan: