SASOL

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
SASOL
Sasol.jpg
Tipe Openbare maatskappy
Gestig 1950
Hoofkantoor Johannesburg, Gauteng, Suid-Afrika
Sleutelpersone David Constable (voorsitter van die raad)
Gebied bedien Wêreldwyd
Industrie Ru-olie en aardgas
Chemie
Inkomste $129.9 miljard[1]
Bedryfsinkomste $4,72 miljard[2]
Netto inkomste $3,11 miljard[2]
Werknemers 34 000
Webwerf sasol.com
'n Sasol-aanleg in Hamburg (Duitsland).
'n Sasol-petrolstasie in Boksburg.

SASOL (oorspronklik Suid-Afrikaanse Steenkool-, Olie- en Gasmaatskappy) is 'n Suid-Afrikaanse maatskappy met belange in mynbou, energie, chemie en sintetiese brandstowwe. SASOL se hoofkwartier is in Rosebank, Johannesburg en beskik oor sowat 34 000 werknemers dwarsoor die wêreld. Dit is tans die tweede grootste nywerheidsmaatskappy in die land en een van die grootste multinasionale maatskappye wat hulle oorsprong in Suid-Afrika het, met 'n jaarlikse omset van meer as VSA-$ 11 miljard.

Die maatskappy het veral bekendheid verwerf as die enigste onderneming ter wêreld wat op 'n winsgewende basis steenkool volgens die Fischer-Tropsch-sintese na petrol en diesel verwerk het. SASOL se Suid-Afrikaanse aanlegte is in Sasolburg en Secunda geleë, maar die maatskappy het ook belange in buitelandse bouprojekte wat tans in Katar (Oryx GTL), Iran (Arya Polymers) en Nigerië (Escravos GTL) aan die gang is.

SASOL tree in Suid-Afrika op as borg vir sportspanne en sporttoernooie, asook die lugskouspan Sasol Tigers. Hulle is ook betrokke by natuurbewaring en die redding van bedreigde of skaars spesies, bv. baardaasvoëls en renosters.

Geskiedenis[wysig]

SASOL se oorsprong dateer terug na die twintigerjare van die 20ste eeu toe die verwerking van steenkool na vloeibare brandstowwe wêreldwyd ondersoek is. Die regering van Suid-Afrika het die bevindings van 'n sodanige studie in 1927 aan die publiek voorgelê, en die Anglovaal-korporasie het in die dertigerjare met die pionierswerk begin. In 1947 het die regering met 'n wetsontwerp voorsiening gemaak vir die stigting van SASOL wat in 1950 as 'n staatsbeheerde maatskappy in die lewe geroep is.

Die perseel in die noordelike Vrystaat, wat vir die oprigting van die SASOL I-aanleg gekies is, was strategies baie gunstig naby die steenkoolmyne langs die Vaalrivier en die belangrike nywerheidsgebiede van die Witwatersrand rondom Johannesburg geleë. In 1951 is met die bou van SASOL se eie steenkoolmyn Sigma, die dorp Sasolburg en die aanleg SASOL I begin. Vier jaar later is die eerste brandstof vervaardig, en sintetiese petrol was laat in 1955 reeds by die eerste Suid-Afrikaanse petrolstasies beskikbaar.

Die boubedrywighede vir twee nuwe projekte het in 1976 en 1979 naby die dorpe Evander en Trichardt se steenkoolvelde in die destydse provinsie Transvaal begin en is in onderskeidelik 1980 en 1982 voltooi. Net soos in die geval van SASOL I is 'n nuwe dorp, Secunda, vir SASOL se sowat 16 000 plaaslike werknemers en hul gesinne gestig. SASOL se plaaslike steenkoolmyn Bosjesspruit het tot een van die grootstes ter wêreld ontwikkel. Die SASOL II- en III-projekte is destyds ten 'n koste van onderskeidelik 2,5 en 3,3 miljard rand opgerig, maar danksy die besluit om twee soortgelyke projekte digby mekaar te bou kon SASOL II en III voordeel trek uit 'n gemeenskaplike infrastruktuur, personeel en materiaalbasis, en 'n geskatte bedrag van 500 miljoen rand is sodoende bespaar.

Sowat sestig present van die boukoste van SASOL II en III is plaaslik bestee en het werkgeleenthede vir 20 000 bouwerkers geskep. Die projekte is deur lenings, die heffing van 'n toeslag op die petrolprys (2c per liter vanaf 1975 en 4c vanaf 1977 tot en met 1988)[3] en uitvoerkrediete gefinansieer. Vir SASOL III is in Oktober 1979 daarnaas ook andele ter waarde van ZAR 525 miljoen uitgereik, waarvan ZAR 35 miljoen vir die algemene publiek beskikbaar was. Weens die geweldige aanvraag het die aandele se koers op die Johannesburgse effektebeurs binne enkele ure met meer as vyftig persent gestyg, en SASOL het die belangrikste maatskappy op die effektebeurs geword.

Belangrike mylpale van SASOL se aktiwiteite was die bou van 'n raffinadery in 1967, die stigting van die eerste internasionale bemarkingsmaatskappy (Sasol Chemicals Europe) in 1990 en die oorname van die Duitse CONDEA-groep in 2001. SASOL is tans een van die vyf grootste maatskappye op die Johannesburgse effektebeurs, en sy aandele word ook op die New Yorkse effektebeurs genoteer. SASOL het sakebelange in meer as twintig lande en voer sy produkte na meer as honderd lande uit.

Verwysings[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
SASOL (kategorie)
  1. SASOL Internet
  2. 2,0 2,1 "Bloomberg". [dooie skakel]
  3. Report of the Auditor General on the Financial Statements for 1993-1994 of the Central Energy Fund, bl. 11

Bronne[wysig]

  • Crawford, Neta C. en Klotz, Audie: How Sanctions Work. Lessons from South Africa. New York Stad: St. Martin's Press 1999
  • Presse- und Informationsabteilung der Südafrikanischen Botschaft: Energie Spektrum Südafrika. Wene (Oostenryk) 1980, bl. 10-13
  • SASOL Internet: Company profile - History