Bremgarten AG
Bremgarten | |
---|---|
Stad | |
Bremgarten met die houtbrug oor die Reuss-rivier wat die historiese middestad (Altstadt) met die Laer Voorstad (Untere Vorstadt) verbind | |
Kaart wat stedelike nedersettings in Aargau aandui | |
Koördinate: 47°21′02″N 08°20′34″O / 47.35056°N 8.34278°O | |
Land | Switserland |
Kanton | Aargau (AG) |
Distrik (Bezirk) | Bremgarten |
Oppervlak | |
• Totaal | 11,36 km2 (4,39 vk. myl) |
Hoogte | 390 m (1 280 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 8 268 |
• Digtheid | 727,8/km2 (1 885/vk. myl) |
Tydsone | UTC+1:00 (MET) |
• Somertyd | UTC+2:00 (MEST) |
Poskode | 5620, 5626 |
Webwerf | www.bremgarten.ch |
Bremgarten (Switserse Duits: [ˈbræŋˌgɑrtə] is 'n klein stedelike nedersetting en Einwohnergemeinde - 'n munisipaliteit as laagste administratiewe vlak in die drie- of vierledige regeringstelsel van Switserland wat in Alemanniese Switserland uit Bund (federale vlak), Kanton (kanton), Bezirk (administratiewe distrik in bepaalde kantonne) en politische Gemeinde of Einwohnergemeinde (munisipaliteit) bestaan[1]- in die Noord-Switserse kanton Aargau (amptelike afkorting: AG), met 'n bevolking van iets meer as 8 200. Dit is ook die setel van die gelyknamige distrik (Bezirk Bremgarten).[2]
Bremgarten is in die laer Reussvallei geleë, sowat 16 km wes van Zürich, 23 km oos van Aarau, die kantonale hoofstad van Aargau, en 35 km noord van Luzern, in een van die vrugbaarste streke van die Switserse Middelland (Duits: Mittelland). Die Middelland - geologies 'n molassebekken wat met sedimente opgevul en tans op hoogtes tussen 350 en 1408 m bo seevlak geleë is - is een van die land se groot landskappe wat tussen die bergreekse Jura en Alpe geleë is en oor 'n afstand van 300 km vanaf die Meer van Genève in die weste tot die Bodenmeer in die noordooste strek. Die Middelland beslaan sowat dertig persent van die totale oppervlakte van Switserland en huisves twee derdes van sy bevolking.
Die historiese stadskern van Bremgarten, 'n kulturele en argitektoniese erfenis van nasionale belang, is in 'n rivierkronkel geleë en word sodoende aan drie kante van die Reuss omsluit. Motors is grotendeels uit die historiese middestad sowel as dele van die Laer Voorstad verban. Die markdae, wat jaarliks op Paas- en Pinkstermaandag gehou word, is van die grootste in Switserland en gewilde toeristetrekpleisters. Die tradisie van 'n Paasmaandag-markdag strek terug tot in die vroeë 13de eeu.[3]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Politische Gemeinden of munisipaliteite word in die kantonne Aargau, Appenzell Ausserrhoden, Basel-Landschaft, Basel-Stadt, Bern, Obwalden, Solothurn, Uri en Zug amptelik Einwohnergemeinde genoem. Hulle is openbare liggame volgens kantonale reg en het 'n eie regspersoonlikheid.
- ↑ Historisches Lexikon der Schweiz (HLS): Bremgarten (AG). Besoek op 22 Augustus 2020
- ↑ Bremgarten-Tourismus: Oster- und Pfingstmarkt. Besoek op 22 Augustus 2020
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Toerisme