Charlie Chaplin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Charlie Chaplin
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Charlie Chaplin in 1915

Naam Charles Spencer Chaplin
Geboorte 16 April 1889
Londen, Engeland
Nasionaliteit Brits
Sterfte 25 Desember 1977
Vevey, Switserland
Beroep(e) Komediant, akteur, regisseur, komponis en produsent
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Charlie Chaplin was een van die mees buitengewone akteurs en filmmakers van die twintigste eeu. Die "Little Tramp", 'n innemende figuur in 'n groot broek, styfpassende jas, hardebolhoed wat te klein was vir sy kop, bamboeskierie, skroefstrikdas en verspotte klein snorretjie, was in 1913 op die ingewing van die oomblik geskep, maar het 'n internasionaal erkende filmikoon geword.

Meester van die stilfilmgenre, het Charlie Chaplin die hoofrol vertolk in klassieke rolprente soos The Kid (1921), The Gold Rush (1925), City Lights (1931) en Modern Times (1936). Alhoewel hy aanvanklik nie in praatrolprente wou speel nie, het hy The Great Dictator (1940), Monsieur Verdoux (1947) en Limelight (wat in 1952 voltooi is, maar eers twee dekades later vrygestel is weens politiese en regtwis in Koueoorlog-Amerika) gemaak.

Chaplin het daarop aangedring om elke aspek van die films waarin hy gespeel het, van produksie tot die skryf van die musiekpartituur, te beheer. Hierdie ongewone toewyding tot die verfilmingproses as 'n geheel het daartoe gelei dat hy medestigter van United Artists, die eerste moderne filmvervaardigings- en -verspreidingsmaatskappy, geword het. In 1955 het filmkritici van oor die wêreld hom die beste akteur in die geskiedenis van rolprente genoem en in 1975 is Charlie Chaplin deur Koningin Elizabeth II tot ridder geslaan vir sy bydrae tot die filmindustrie.

Lewensgeskiedenis[wysig]

Charles Spencer Chaplin is op 16 April 1889 in Londen gebore. Sy kindertyd was gekenmerk deur nypende armoede. Albei sy ouers was verskeidenheidskunstenaars en die klein seuntjie kon amper dans voor hy kon loop en sing voor hy kon praat. Sy pa was 'n alkoholis wat die gesin verlaat het en aan sy verslawing oorlede is en sy ma se geestesonstabiliteit het haar onbevoeg gemaak om na haar kinders om te sien wat daartoe gelei het dat Charlie en sy broer vir 'n rukkie in 'n weeshuis gebly het.

Op die jeugdige ouderdom van sewe het Charlie vir 'n jaar lank saam met 'n verskeidenheidsstuk, The Eight Lancashire Lads, getoer. Hy het presies twee maande formele opleiding ontvang toe sy ma weereens in 'n geestesinrigting opgeneem is en Charlie gelaat het om vir homself op straat te sorg. Sy eerste vollengte film, The Kid (1921) het sy Dickense bestaan met die eeuwisseling weergegee.

Chaplin het besluit om op dieselfde manier as sy ouers 'n bestaan te voer en het uiteindelik by die bekende Fred Karno geselsskap aangesluit. Terwyl hy saam met die geselsskap in Amerika getoer het, het Mack Sennett van Keystone Films hom raakgesien het die geleentheid gebied om in eenspoelfilms (kort films) in Kalifornië te speel. Sy salaris was 'n beduidende $150 per week en hy het in sy eerste jaar 35 films gemaak. Teen Februarie 1916 was hy so gewild dat Mutual hom $10 000 per week aangebied het. In 1919 het hy United Artists saam met sy goeie vriend Douglas Fairbanks, en twee ander filmlegendes, Mary Pickford en D W Griffith, gestig.

Sy swakheid vir jong vroue het deur sy lewe aansienlike openbare kritiek uitgelok. Hy is twee keer met 16-jarige meisies getroud en van hulle geskei. Die eerste was Mildred Harris met wie hy in 1918 getroud is en die tweede was Lita Grey met wie hy in 1924 getroud is. Sy derde vrou was Paulette Goddard. Met sy vierde vrou, Oona (Eugene O'Neil se dogter) het hy blywende geluk gevind.

Tydens die veertigerjare het hy 'n slagoffer van die Amerikaanse vrees vir Kommunisme geword. The Great Dictator (1940) en Monsieur Verdoux (1947) het onpopulêre sosiale kommentaar gelewer en hy is deur die On-Amerikaanse Komitee ondersoek. 'n FBI-ondersoek wat uiteindelik 'n 2 000-bladsy-dokument oor Chaplin geword het, kon geen bewyse vind dat hy 'n Kommunis is nie. Chaplin wat genoeg gehad het van die Rooivrees-heksejag het besluit om hom in Switserland te vestig. Hy het net een keer in 1972 na Amerika teruggekeer om 'n eretoekenning te ontvang. Hy is op Kersdag 1977 in Corsier-sur-Vevey, Switserland oorlede.

Commons
Wikimedia Commons het meer media verwant aan: