Wes-Sahara

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Ligging van Wes-Sahara
Kaart van Wes-Sahara
Topografiese kaart van Wes-Sahara
Die Verenigde Nasies se kaart van Wes-Sahara toon die deur Marokko besette gebied (wes van die Berm)[1][2] en die gebied wat beheer word deur die Arabiese Demokratiese Republiek Sahara (oos van die Berm).[1][3]

Wes-Sahara (Arabies: الصحراء الغربية, aṣ-Ṣaḥrā’ al-Gharbīyah; Berbers: Taneẓroft Tutrimt; Spaans: Sahara Occidental) is 'n gebied wat voorheen as Spaans-Sahara, 'n kolonie van Spanje bekend gestaan het. Dit is geleë in Noord-Afrika, suid van Marokko, suidwes van Algerië en noordwes van Mauritanië. Die Kanariese Eilande lê noordwes van Wes-Sahara in die Atlantiese Oseaan.

In Julie 2004 het Wes-Sahara 'n bevolking van 267 405 gehad. Dit beslaan 'n oppervlakte van 266 000 km². Wes-Sahara is dus effens kleiner as Nieu-Seeland en net groter as die Verenigde Koninkryk, maar met 'n totale bevolking kleiner as die meeste stede in Suid-Afrika.

Bevolking

Die etniese samestelling van die bevolking is oorwegend Sahrawis, letterlik inwoner van die Sahara of woestyninwoner ('n mengsel van Arabiere en gearabiseerde Imazighen (Berbers)) en Arabiere uit Marokko. Sahara (Arabiese uitspraak: [ˈsˤɑħrɑːʔ]) beteken woestyn in Arabies. Byna die hele bevolking van Wes-Sahara is Moslems.

Politiek

Alhoewel Marokko aanspraak maak op die hele gebied, erken 39 lande, waaronder Suid-Afrika, die Arabiese Demokratiese Republiek Sahara as soewereine owerheid van die gebied en dit is 'n lid van die Afrika-unie. Vanweë die feit dat Marokko Wes-Sahara nie as 'n onafhanklike gebied erken nie was hy nie lid van hierdie organisasie nie. Op 30 Januarie 2017 het Marokko tóg lid van die Afrika-unie geword, ten spyte daarvan dat die Wes-Sahara-konflik nie opgelos is nie.[4] Die setel van die ADRS is tans in Algerië.

In Desember 2020 het die Verenigde State die eerste land ter wêreld geword wat Marokko se soewereiniteit oor die gebied erken het, maar sommige lande, soos Frankryk en Nederland, erken ook nie Wes-Sahara as 'n onafhanklike staat nie. Die VSA het Marokko se eis egter net in verruiling vir Marokko se diplomatieke erkenning van Israel aanvaar.[5] As gevolg hiervan is die situasie van beide Palestyne en Sahrawis aan mekaar geheg.[6]

Die republiek het op die oomblik slegs 'n klein strook van die land onder sy beheer (in die suidooste), die res word deur Marokko bestuur. Die grens tussen die twee lande is die Marokkaanse Muur.

Die hele bestuur van die SADR bestaan uit Polisario-lede. Polisario is 'n guerillaleër wat in 1973 gestig is en veg vir die bevryding van Wes-Sahara van Marokkaanse oorheersing.

Verwysings

  1. 1,0 1,1 (en) "Fighting Is Long Over, but Western Sahara Still Lacks Peace". The New York Times. 23 Februarie 2015. Besoek op 8 Februarie 2021.
  2. (en) "Resolutions adopted on the Reports of the Fourth Committee". Verenigde Nasies. Besoek op 8 Februarie 2021.
  3. (en) Joanna Allan (9 April 2019). Silenced Resistance: Women, Dictatorships, and Genderwashing in Western Sahara and Equatorial Guinea. University of Wisconsin Press. p. 12. ISBN 978-0-299-31840-6.
  4. (en) "Morocco to rejoin African Union despite Western Sahara dispute". BBC. 30 Januarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2020. Besoek op 8 Februarie 2021.
  5. (en) Magid, Jacob (10 Desember 2020). "'Historic decision': Israel and Morocco agree on full ties 'as soon as possible'". Times of Israel. Besoek op 8 Februarie 2021.
  6. (en) "Israel-Morocco deal: Palestinians and Sahrawis hope for renewed solidarity". Middle East Eye. Besoek op 8 Februarie 2021.

Bronnelys

Algemeen

Eksterne skakels