Malaysia Airlines-vlug 17

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Malaysia Airlines-vlug 17
9M-MRD, die vliegtuig in 2010.
9M-MRD, die vliegtuig in 2010.
Datum 17 Julie 2014
Oorsaak Afgeskiet
Plek van ramp Oostelike Oekraïne
Sterftes 298 (almal)
Beserings 0
Vliegtuigtipe Boeing 777-200ER
Vliegtuigstertnommer 9M-MRD
Oorsprong Lughawe Schiphol, Amsterdam, Nederland
Bestemming Kuala Lumpur, Maleisië
Passasiers 283
Bemanning 15
Oorlewendes 0

Malaysia Airlines-vlug 17 (MH17/MAS17) was 'n geskeduleerde vlug van Amsterdam, Nederland na Kuala Lumpur, Maleisië. Op 17 Julie 2014 het die vliegtuig in die ooste van Oekraïne, naby die Russiese grens neergestort. Die vliegtuig is vermoedelik deur 'n lugafweermissiel afgeskiet.[1]

Dit is die tweede passasierstraler van Malaysia Airlines wat binne enkele maande neerstort. Die eerste een, Malaysia Airlines-vlug 370, het op 8 Maart spoorloos verdwyn onderweg van Kuala Lumpur na Beijing. Die vliegtuig het vermoedelik in die Indiese Oseaan neergestort, maar die wrak is nooit gevind nie.[2]

Die ongeluk[wysig | wysig bron]

Roete van MH017

Die Boeing 777-200ER vertrek op 17 Julie 2014 om 12:14 (UTC+2) vanaf Lughawe Schiphol na die Kuala Lumpur Internasionale Lughawe. Omstreeks 15:15 verdwyn dit van die radar oos van die stad Donetsk in die Oekraïne, slegs 50 kilometer van die Russiese grens. Op daai oomblik was die vliegtuig ongeveer 10 000 meter hoog. Die vliegtuig het geen noodroepe gemaak nie en die vlugroete is voor die tyd veilig verklaar. Dit het egter verder noordwaarts as gewoonlik uitgewyk. Oekraïne se lugverkeerbeheer het die bemanning gevra om hoogte te verminder en laer as gewoonlik te vlieg.

Die vliegtuig stort uiteindelik naby die dorp Hrabove in die Donetsk-oblast neer. Wrakstukke is oor 'n oppervlak van 15 km versprei. Die ondersoek word bemoeilik omdat die gebied deur pro-Russiese separatiste beheer word en die infrastruktuur tydens gevegte met regeringsmagte in puin gelê is.

Dit kom later aan die lig dat die vliegtuig waarskynlik deur 'n Buk-missielstelsel afgeskiet is. Die missiel is vermoedelik vanaf 'n gebied wat deur rebelle beheer word gelanseer.

Die vliegtuig[wysig | wysig bron]

'n Buk-missielstelsel, soortgelyk aan die een wat die vliegtuig vermoedelik afgeskiet het.

Die Boeing 777-200ER met registrasienommer 9M-MRD was toegerus met twee Rolls-Royce Trent-800-motors en het sitplek vir 282 passasiers gehad. Sedert sy eerste vlug op 17 Junie 1997 het die vliegtuig altesaam 11 434 vlugte van 75 322 uur gevlieg. Die laaste onderhoud aan die vliegtuig is op 11 Julie 2014 in 'n loods van Malaysia Airlines op die lughawe van Kuala Lumpur uitgevoer.[3]

Bemanning en passasiers[wysig | wysig bron]

Vlug MH17 het 283 passasiers en 15 bemanningslede aan boord gehad. Al 298 van hulle het in die ramp omgekom. Die meeste passasiers was Nederlandse burgers. Slegs een Suid-Afrikaner wat met 'n Britse paspoort gevlieg het is in die voorval oorlede. Aangesien drie babas aan boord was, is daar meer slagoffers as sitplekke op die vliegtuig.

Nasionaliteit Passasiers Bemanning
Vlag van Nederland Nederland 192[nota 1]+1
Vlag van Maleisië Maleisië 29 15
Vlag van Australië Australië 27
Vlag van Indonesië Indonesië 12
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk 10[nota 2]
Vlag van België België 4
Vlag van Duitsland Duitsland 4
Vlag van Filippyne Filippyne 3
Vlag van Kanada Kanada 1
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 1
dubbeltelling -1
Totaal: 283 15
  1. Waarvan een ook Amerikaanse burgerskap gehad het.
  2. Waarvan een ook Suid-Afrikaanse burgerskap gehad het.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. "Malaysia Airlines flight crashes in Ukraine". cnn.com. Besoek op 17 Julie 2014. 
  2. MH370: 17 min. - Dis hoe lank niemand iets agterkom, Beeld, 2 Mei 2014
  3. (en) "Friday, July 18, 08:20 PM GMT +0800 Media Statement 4 : MH17 Incident". Malaysian Airlines. 18 Julie 2014. Besoek op 18 Julie 2014. 

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Koördinate: 48°7′35.21″N 38°37′25.78″O / 48.1264472°N 38.6238278°O / 48.1264472; 38.6238278