NG gemeente Dullstroom
Die NG gemeente Dullstroom was ’n gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Oostelike Sinode met sy middelpunt op die dorp Dullstroom in Mpumalanga. Dit is ingelyf by die NG gemeente Belfast.
Stigting
[wysig | wysig bron]Dullstroom, die hoogste dorp in Suid-Afrika, is tussen Belfast en Lydenburg bo-op die berge van die destydse Oos-Transvaal geleë. Hier is die gemeente Dullstroom op 1 November 1916 gestig. Dadelik ná die afstigting het hierdie klein gemeente aan die werk gespring om fondse in te samel vir 'n kerk en pastorie.
Op 20 Oktober 1917 is ds. J.S. Theron van Pretoria beroep. Hy neem die beroep aan en word op 12 Januarie 1918 bevestig as die eerste leraar van die gemeente. Hy moes hy die werk doen onder baie moeilike omstandighede aangesien die gemeente nog geen kerk of pastorie gehad het nie. Op 2 April 1919 kon 'n mooi, ruim pastorie egter in gebruik geneem word. 18 Oktober 1919 (volgens Ons gemeentelike feesalbum, maar volgens die steen self 17 Oktober) was vir die gemeente 'n heuglike dag toe die hoeksteen van die nuwe kerk gelê is deur ds. Paul Nel, voorsitter van die Ring van Lydenburg. Die inwyding van die nuwe kerkgebou geskied op 13 November 1920. Die wydingsrede by die geleentheid is uitgespreek deur die Moderator van die Transvaalse Kerk, ds. A.J. Louw.
Nadat ds. Theron deeglike aanvoorwerk gedoen het, neem hy 'n beroep na Pretoria aan en ontvang op 6 Julie 1921 demissie. Ds. J. Le Roux Retief word nou beroep en op 18 Februarie 1922 bevestig. Hy vind die finansies van die gemeente in 'n onbevredigende toestand en sorg dat dit deeglik gereorganiseer word. Ná ses jaar van geseënde arbeid gee sy gesondheid so in dat die kerkraad verplig is om hom op 30 Junie 1928 demissie te verleen.
Op 10 November 1928 word ds. C.B. Brink as leraar van die gemeente bevestig. Nou het die worsteljare van die depressie gekom, wat gedreig het om die gemeente te laat onder gaan. Met harde arbeid en opoffering is hierdie tydperk oorbrug. Die tweede beroep van Witbank neem ds. Brink aan en vertrek op 28 April 1934.
Prop. W.H.B. Ebersohn word nou beroep en op 25 Augustus 1934 bevestig. Ook hy, soos die vorige leraars, het gedurig met die groot kerkskuld te worstel gehad. Hy bearbei die gemeente met seën tot 8 Mei 1937. Na 'n eerste beroep bedank is, neem prop. W.H.S. Barnard die beroep aan. Op 30 Oktober 1937 word hy georden en bevestig. In hierdie tyd was daar veral 'n moeilike stryd teen buitekerklike bewegings. Onder sy leiding wend die gemeente 'n kragtige poging aan en slaag daarin om die kerkskuld baie te verminder. Op 2 Oktober 1943 vertrek hy na die gemeente Vorentoe.
Prop. J.P. Grobler van Turffontein word op 26 Augustus 1944 georden en bevestig in die gemeente. Onder die besef dat 'n langdurige skuldelas die gemeente geestelik dood maak, pak hy hierdie probleem met erns aan, en op 1 April 1945 kon die gemeente die skulddelging feestelik vier. Op 25 Augustus 1946 neem ds. Grobler afskeid van die gemeente en vertrek na Grootfontein.
Ná 'n vakature van sewe maande neem ds. B.J.M. Britz van Koedoesrand die beroep aan en word op 5 April 1947 as leraar van die gemeente bevestig.
Enkele leraars
[wysig | wysig bron]- Johannes Stefanus Theron, 12 Januarie 1918 – 6 Julie 1921
- Johannes Le Roux Retief, 18 Februarie 1922 – 30 Junie 1928 (oorlede in 1936)
- C.B. Brink, 10 November 1928 – 28 April 1934
- Willem Hendrik Stefanus Barnard, 30 Oktober 1937 – 2 Oktober 1943
- W.H.B. Ebersohn, 25 Augustus 1934 – 8 Mei 1937
- Jacob Francois de Vos, 1940–1943 (waarna Bothaville tot hy in 1944 uit die NG Kerk tree)
- Johannes Petrus Grobler, 26 Augustus 1944 – 25 Augustus 1946
- B.J.M. Britz, 5 April 1947 – ? (minstens 1960)
- Dirk Cornelis Hendrik Human, 1949–? (ná 1960)
- Carl Wilhelm Jacobus Botha, 1966 – 5 Junie 1982 (aanvaar sy emeritaat)
Bronne
[wysig | wysig bron]- Olivier, ds. P.L. (samesteller). 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
- Small, Mario (samesteller). 2013. Jaarboek van die NG Kerke. Wellington: Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk NPC – 'n divisie van Bybel-Media.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (af) (en) Foto's van die kerkgebou Geargiveer 4 April 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 16 September 2015.