Siena

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Comune di Siena
Stadsprofiel van Comune di Siena
Wapen van Comune di Siena
Wapen
Map - IT - Siena - Siena.svg
Regering
 - Burgemeester Luigi De Mossi
Oppervlakte
 - Totaal 118 km² (45,6 myl²)
Bevolking (31 Desember 2017[1])
 - Totaal 53 901
Areakode(s) 0577
Webwerf: Amptelike webwerf
Siena5.jpg

Siena (Italiaanse fonetiese uitspraak: ˈsjɛːna)[2] is 'n stad wat geleë is in Toskane, Italië. Dit is die hoofstad van die provinsie van Siena.

Die historiese sentrum van Siena is deur UNESCO as wêrelderfenisgebied geïdentifiseer.[3] Dit is een van die land se gesogste toerismestede, met meer as 163,000 internasionale besoekers in 2008.[4] Siena is bekend om sy kookkuns, kuns, museums, middeleeuse karakter en die Palio di Siena, 'n tweejaarlikse perdewedren.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die Kapitool-wolf by die Siena-Duomo. Volgens 'n legende is Siena gestig deur Senius en Aschius, twee seuns van Remus. Toe hulle uit Rome gevlug het, het hulle die standbeeld van die wolf na Siena geneem, wat 'n simbool van die stad geword het.

Siena, soos ander Toskaanse dorpe, is die eerste keer gevestig in die tyd van die Etruskiese beskawing (ongeveer 900–400 v.C.) toe dit bewoon is deur 'n stam genaamd die Saina. Die Etruskers was 'n gevorderde stam wat die aard van sentraal-Italië verander het deur gebruik te maak van besproeiing om grond wat voorheen onbewerkbaar was te herwin en deur hulle gebruik om hul nedersettings in goed verdedigde heuwelforte in te bou. 'n Romeinse stad genaamd "Saena Julia" is op die terrein gestig in die tyd van Keiser Augustus. Sommige argeoloë beweer dat Siena vir 'n tydperk beheer is deur 'n Galliese stam genaamd die Senones.

Volgens die plaaslike legende is Siena gestig deur Senius en Aschius, twee seuns van Remus en dus neefs van Romulus, na wie Rome vernoem is. Blykbaar het hulle na die moord op hul vader deur Romulus uit Rome gevlug en die standbeeld van die wolf wat die babas speen (Kapitool-Wolf) saamgeneem en sodoende die simbool vir die stad toegeëien. Ook het hulle op wit en swart perde gery, wat aanleiding gegee het tot die Balzana of wapen van Siena, met 'n wit band bo-op 'n donker band. Sommige beweer dat die naam Siena afgeleie is van Senius. Ander etimoloë ontleen die naam aan die Etruskiese familienaam Saina, die Romeinse familienaam Saenii, of die Latynse woord senex- "oud"- of die afgeleide vorm daarvan- "seneo" -om oud te wees.

Siena het nie onder Romeinse heerskappy gedy nie. Dit was nie naby groot paaie geleë nie, en het nie geleenthede vir handel gehad nie. Die stad se ingeslote status het beteken dat die Christendom eers in die 4de eeu n.C. gearriveer het. Dit was eers toe die Lombarde Siena en die omliggende gebied binnegeval het dat welvaart geskep is. Na die Lombardiese besetting het die ou Romeinse paaie van Via Aurelia en die Via Cassia deur gebiede geloop wat blootgestel is aan Bisantynse strooptogte, sodat die Lombarde 'n groot deel van hul handel tussen die Lombarde se noordelike besittings en Rome langs 'n veiliger pad deur Siena herlei het. Siena het gedy as 'n handelspos, en die voortdurende instroming van pelgrims wat na en van Rome vertrek, het 'n waardevolle bron van inkomste in die komende eeue geword.

Die oudste aristokratiese families in Siena se herkoms kan terug herlei word na die oorgawe van die Lombarde in 774 aan Karel die Grote. Op daardie tydstip is die stad oorstroom met Franke wat in die bestaande Sienese adel ingetrou het en 'n nalatenskap agtergelaat het wat gesien kan word in die abdye wat hulle in die hele Sienese gebied gestig het. Die feodale mag het egter afgeneem, en deur die dood van Matilda van Toskane in 1115 is die grensgebied wat onder beheer van die Canossa-familie was in verskeie outonome streke opgebreek. Dit het uiteindelik gelei tot die totstandkoming van die Republiek van Siena.

Die Republiek het meer as vierhonderd jaar bestaan, vanaf die 12de eeu tot 1555. Gedurende die goue era van Siena voor die koms van die Swart Dood in 1348 was die stad die tuiste van 50,000 siele. [5]

Tydens die Italiaanse oorlog van 1551–59 is die republiek verslaan deur die mededingende Hertogdom van Florence in bondgenootskap met die Spaanse kroon. Na 18 maande van weerstand het Siena op 17 April 1555 oorgegee aan Spanje, [6] wat die einde van die republiek beteken het.

Die nuwe Spaanse koning, Koning Filippus II, wat groot bedrae aan die Medici geskuld het, het Siena afgestaan (afgesien van 'n reeks kusvestings wat deel was van die Staat van Presidi) aan die Groothertogdom van Toskane, waaraan dit tot die eenwording van Italië in die 19de eeu behoort het.

'n Republikeinse regering van 700 Sienese families in Montalcino het tot 1559 weerstand gebied.

Geografie[wysig | wysig bron]

Siena is geleë in die sentrale deel van Toskane in die middel van 'n uitgestrekte heuwelagtige landskap tussen die Arbia-riviervallei (suid), die Merse-vallei (suid-wes), die Elsa-vallei (noord), die Chianti-heuwels (noord-oos), die Montagnola Senese (wes) en die Crete Senesi (suid-oos). Die stad lê 322 meter bo seespieël.

Klimaat[wysig | wysig bron]

Siena beskik oor 'n tipiese binnelandse Mediterreense klimaat. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 750 mm, met die maksimum reënval van 206 mm wat in November voorkom en die minimum in Julie op 41 mm. [7] Julie is die warmste maand, met 'n gemiddelde temperatuur van 22.2 °C, met Januarie die koudste maand op gemiddeld 2 °C.[8]

Lys van susterstede[wysig | wysig bron]

  • Vlag van Frankryk Avignon, Frankryk[9][10]
  • Vlag van Verenigde State van Amerika Concord, Noord-Carolina, Verenigde State, sedert 2016
  • Vlag van Duitsland Weimar, Duitsland, sedert 1994
  • Vlag van Duitsland Wetzlar, Duitsland, sedert 1987

Galery[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Data van die Nasionale Instituut van Statistiek van Italië (Istat)
  2. Luciano Canepari. "Siena". DiPI Online (in Italiaans). Besoek op 28 Oktober 2018.
  3. "Historic Centre of Siena". UNESCO World Heritage Centre. 3 Desember 2009. Besoek op 19 Junie 2012.
  4. "Euromonitor Internationals Top City Destinations Ranking > Euromonitor archive". Euromonitor.com. 12 Desember 2008. Besoek op 9 April 2010.
  5. Smith, TB; Steinhoff, JB (2012). Art as Politics in Late Medieval and Renaissance Siena. Ashgate Publishing Company. p. 77. ISBN 9781409400660. Besoek op 14 September 2015.
  6. Caravale, Giorgio, author. (2016). Preaching and inquisition in Renaissance Italy: words on trial. ISBN 978-90-04-32545-6. OCLC 1030563659.AS1-onderhoud: meer as een naam: authors list (link)
  7. "NASA Earth Observations: Rainfall (1 month - TRMM)". NASA/Tropical Rainfall Monitoring Mission. Besoek op 30 Januarie 2016.
  8. "NASA Earth Observations Data Set Index". NASA. Besoek op 30 Januarie 2016.
  9. "Jumelages et Relations Internationales – Avignon". Avignon.fr (in Frans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Julie 2013. Besoek op 13 Julie 2013.
  10. "Atlas français de la coopération décentralisée et des autres actions extérieures". Ministère des affaires étrangères (in Frans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 February 2013. Besoek op 13 July 2013.

Bronne[wysig | wysig bron]