Luciano Pavarotti

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Luciano Pavarotti
Luciano Pavarotti 15.06.02 cropped.jpg
Luciano Pavarotti tydens 'n konsert in die Stade Vélodrome van Marseille (Frankryk) in Junie 2002.
Geboorte 12 Oktober 1935
Modena, Italië
Afsterwe 6 September 2007
Modena, Italië
Beroep(e) Operatenoor
Luciano Pavarotti Signature.svg
Portal.svg Musiekportaal

Luciano Pavarotti (* 12 Oktober 1935, † 6 September 2007 in Modena) was 'n gevierde Italiaanse tenoor wat naas die operabedryf ook 'n suksesvolle loopbaan in die populêr-klassieke musiekgenre begin het waar hy met sy buitengewone sangvermoëns miljoene mense bekoor het. Sy konserte is op televisie uitgesaai, en as een van The Three Tenors ("Die Drie Tenore") het Luciano Pavarotti verskeie kere fondse vir vlugtelinge, die Rooi Kruis en ander ingesamel.

Pavarotti het sy Italiaanse tenoorloopbaan in 1961 begin en later in verskeie Europese operateaters soos dié van Wene en Londen opgetree. Met sy debuut in die Verenigde State saam met die sopraan Joan Sutherland, wat hom in Miami uitgenooi het om haar op 'n konserttoer te begelei, het hy in 1965 waardevolle ervarings opgedoen en ook erkenning gekry. In die tydperk tussen 1966 en 1972 het hy sy reputasie as 'n eersterangse operasanger in die Milanese Scala-operateater en ander groot Europese konserthuise gevestig. Sy debuut op 23 November 1968 in die New Yorkse Metropolitan Opera-huis as Rodolfo in La Traviata het groot byval gevind.

In die laat 1970's het Pavarotti wêreldwyd bekendheid verwerf en was befaamd vir die buitengewone kwaliteit van sy helder tenoorstem wat met sy stralende en natuurlike bo-tone uitgeblink het. Hy het gevolglik die bynaam "Koning van die hoë C's" gekry. In die 1970's en 1980's het Pavarotti in die wêreld se beduidenste operateaters opgetree en hom as een van die grootste moderne sangerkunstenaars bekwaam.

Met sy opvoering van Nessun Dorma uit die opera Turandot tydens die 1990 Sokker Wêreldkampioenskap in Italië, wat onder meer deur die Britse BBC uitgesaai is, het hy internasionale sterstatus bereik. Ter geleentheid van die laaste wydstryd van die kampioenskap het hy saam met sy bekende opera-kollega's Plácido Domingo en José Carreras opgetree en treffers wat tot dusver tot die operawêreld beperk was by 'n groter gehoor gewild gemaak. Pavarotti het sy invloed op die populêre musiekmark met popkonserte en televisie-advertensies verder uitgebrei, maar alhoewel hy verskeie kere saam met popsterre opgetree het, het hy nograns nooit sy identiteit as operasanger kwytgeraak.

In sy laaste jare het sy groot gewig sy vermoëen om op opera- en konserttonele op te tree duidelik beperk, en sy laaste opvoering het in Maart 2004 in die Metropolitan Opera-huis in New York plaasgevind. Sy laaste konsert was by die openingsplegtigheid van die Olimpiese Winterspele van 2006 in Turyn (Italië) waar hy Il principe ignoto uit Nessun Dorma gesing het, terwyl die stadiongehoor die koorrefrein bygedra het.

Eksterne skakels[wysig]