Sint Petersburg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf St. Petersburg)
Jump to navigation Jump to search
Sint Petersburg
Санкт-Петербург
(Federale stad)
Kloksgewys van links bo: Sint Isak-katedraal troon bo die stad uit; die Fort van Petrus en Paulus; Paleisplein; Peterhof; Nefski-prospekt; die Winterpaleis.
Kloksgewys van links bo: Sint Isak-katedraal troon bo die stad uit; die Fort van Petrus en Paulus; Paleisplein; Peterhof; Nefski-prospekt; die Winterpaleis.
Politieke status
Land Flag of Russia.svg Russiese Federasie
Federale distrik Noordwestelike
Ekonomiese streek Noordwestelike
Stigting 27 Mei 1703
Regering
Leier Georgi Poltawtsjenko
Amp Goewerneur
Wetgewer Wetgewende Raad
Bevolking
Sensus 2020
Totaal 5 392 992[1]
Volgorde 4de
Digtheid 3 843,9/km2
Statistiek
Oppervlakte 1 439 km2
Volgorde 82ste
Tydsone UTC+04:00
Registrasienommer 78, 98, 178
Amptelike tale Russies
Webtuiste http://eng.gov.spb.ru/
Wapen en vlag
Coat of Arms of Saint Petersburg (2003).svg

Flag of Saint Petersburg Russia.svg
Portaal  Portaalicoon   Rusland

Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербург) is ’n federale stad van Rusland. Dis geleë in die Noordwestelike Federale Distrik aan die Newarivier oos van die Golf van Finland. Die stad se vorige name was Petrograd (Russies: Петроград) en Leningrad (Russies: Ленинград).

Sint Petersburg is op 27 Mei 1703 gestig deur Pieter die Grote van die Russiese Ryk en was langer as tweehonderd jaar (1712-1728, 1732-1918) die land se hoofstad. Met 'n bevolking van 5,39 miljoen (soos op 1 Januarie 2020) is dit die tweede grootste stad in Rusland na Moskou, asook die vierde grootste in Europa na Londen en Parys. Dis een van Europa se vernaamste wetenskap-, kultuur- en nywerheidsentrums en ’n belangrike hawe aan die Baltiese See. Daarnaas is dit die wêreld se noordelikste miljoenestad.

Lugaansig van die Peterhof-paleis
Wit Nagte gedurende midsomer in Junie en Julie
Sint Petersburgse hoërskoolleerders vier hul matriekeksamen sedert die 1950's met 'n vrolike en kleurryke fees in Junie waarin die hele stad deel - Alje Paroesa of die "Fees van skarlaken seile"

Die "Venesië van die Noorde", soos Sint Petersburg - 'n stad wat op 'n honderdtal eilande in die Newa-delta ontstaan wat deur meer as 400 brûe en talle kanale met mekaar verbind word - dikwels genoem word (volgens oorlewering is hierdie bynaam deur die Duitse digte en skrywer Johann Wolfgang von Goethe aan die stad gegee), was die resultaat van 'n grootskaalse stedelike bouprojek wat in 1703 onder tsaar Pieter die Grote begin is en slegs danksy die grootskaalse gebruik van dwangarbeiders - onder wie Russiese soldate, Sweedse en Ottomaanse krygsgevangenes - en Finse en Estniese werkers verwesenlik kon word. Hierdie mense het in minder as twintig jaar 'n stad voltooi wat, volgens die ontwerp van die Franse boumeester en tuinontwerper Jean-Baptiste Alexandre Leblond (1679−1719), wat in 1716 as hoofargitek vir die Sint Petersburg-projek aangestel is, 'n onherbergsame kusgebied in 'n eersterangse Europese metropool met paleise, kerke en kloosters asook tweeverdiepingwoonhuise omgeskep het.

Tsaar Pieter die Grote se visie was om vir Rusland - destyds 'n uitgestrekte, maar agtergeblewe ryk - 'n "venster na die weste" te open om sy land toeganklik te maak vir die ontwikkelde Europa se ambagte, kuns en beskawing. As timmerman in Amsterdam het hy self onder die indruk van 'n moderne stad gestaan wat as voorbeeld vir sy nuwe regeringsetel sou dien - 'n vooruitstrewende metropool met seehawe, kanale en brûe.

Sint Petersburg se pragstraat, die Nefskij-prospekt met sy indrukwekkende Jugendstilfasades, die Russiese Museum en die Grand Hotel Europa, ding mee met Parys se Champs-Élysées en die Kurfürstendamm in Berlyn - en vir die digter Nikolai Gogol was hierdie laan die grootste aantreklikheid in Rusland se Oosseemetropool.

Sint Petersburg se argitektoniese erfenis verenig 'n verskeidenheid uiteenlopende boustyle soos barok-, rokoko- en suiwer neoklassieke boustyle met geboue soos die Admiraliteits-, Winter- en Marmerpaleis en die Hermitage. So is die historiese middestad tot Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.

Sint Petersburg was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, 'n dinamiese periode van ontwikkeling in die Russiese Ryk, die spilpunt van Russiese kapitalisme en globalisering, waar sosiale klasse gevorm en maatskaplike mobiliteit begin het, die bakermat van nuwe strominge in literatuur, argitektuur, musiek en skilderkuns, van Russiese massakultuur en van 'n lewendige burgerlike samelewing - prosesse wat van die stad omstreeks 1900 een van die sentra van Europese modernisme gemaak het en eers deur die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, waarin die stad 'n sleutelrol gespeel het, skielik tot stilstand gedwing is.[2]

Stadsnaam en bynaam[wysig | wysig bron]

Pieter die Grote het die stad, wat hy laat bou het, genoem na sy beskermheilige, die apostel Petrus. Aanvanklik is - na gelang van sy verblyf in Nederland - die Nederlandse toponimie Sankt-Pieterburch gekies, maar dit is kort na die stad se stigting na die Duitse Sankt-Peterburg verander. Ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog is die stad herdoop tot Petrograd. Ná Wladimir Lenin se afsterwe is dit ter ere van die Sowjetleier hernoem as Leningrad. Met die verbrokkeling van die Sowjetunie en die ontbinding van die kommunistiese regeringstelsel het die stad op 6 September 1991 weer sy historiese naam teruggekry. Die omliggende distrik se naam is nogtans nie aangetas nie - dit staan steeds bekend as die Leningrad-oblast.

Naas "Venesië van die Noorde" word na Sint Petersburg ook verwys as die "Palmyra van die Noorde", die "Noordelike Hoofstad van Rusland" (na gelang van sy mededinging met Moskou, Rusland sxe ander groot metropool en huidige hoofstad) en "Stad op 101 Eilande" ('n sinspeling op die stad se ligging in die Newarivierdelta met sy talle eilande).[3]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die Bronsruiter, ’n monument ter ere van Pieter die Grote, op Sint Petersburg se Senaatsplein
Die Lachta-sentrum in die gelyknamige stadsdeel, met 462 m die hoogste wolkekrabber in die Russiese Federasie, dien onder meer as hoofkwartier vir die energie-onderneming Gazprom

Pieter die Grote het Sint Petersburg op 27 Mei 1703 gestig nadat hy die grondgebied van Swede verower het. Hy het dit beskou as sy "venster op die Weste.

Die weer, geografie en haglike omstandighede het hul tol geëis met die bou van die stad. Duisende dwangarbeiders is jaarliks na die gebied vervoer, dikwels onder bewaking en selfs vasgeketting om ontsnapping te voorkom. Baie het egter ontsnap en talle ander is aan siektes en weens blootstelling aan die elemente dood. Die dodetal tydens die boutydperk van 18 jaar word op tot 100 000 geskat.

In 1712 het Pieter Sint Petersburg sy nuwe hoofstad gemaak. Die stad het veral floreer onder die bewind van twee van die magtigste vroue in die Russiese geskiedenis – Pieter se dogter keiserin Elisabeth (1740-1762) en keiserin Katharina die Grote (1762-1796). Talle paleise en ander indrukwekkende geboue is in hul tyd laat bou.

Beleg van Leningrad[wysig | wysig bron]

In die Tweede Wêreldoorlog is die stad byna 900 dae lank deur Duitse troepe onder bevel van generaal-veldmaarskalk Wilhelm Ritter beleër. Tydens die beleg van Leningrad tussen 8 September 1941 en 27 Januarie 1944 het die Duitse Weermag op bevel van Adolf Hitler geen poging aangewend om die stad in te neem nie, maar dit van die res van die land afgesny. In die koudste wintermaande kon kosvoorraad oor die bevrore Ladogameer ingesmokkel word, maar die res van die tyd was daar ’n groot hongersnood, en tot 'n miljoen mense is na raming in hierdie tyd dood.

Op 23 September 1941 het die Opperkommando van die Duitse Weermag 'n geheime bevel ontvang: „Der Führer ist entschlossen, die Stadt Petersburg vom Erdboden verschwinden zu lassen. Es besteht nach der Niederwerfung Sowjetrusslands keinerlei Interesse am Fortbestand dieser Großsiedlung.“ ("Die Führer is vasbeslote om die stad Petersburg van die aardbodem te verdelg. Ná die oorwinning oor Sowjetrusland is daar geen behoefte meer om hierdie groot nedersetting te laat voortbestaan nie.")[4]

Vanaf die lente van 1942 was die NS-bewind van plan om die historiese gewes Ingermanland, waarvan Leningrad deel uitgemaak het, volgens die Generalplan Ost te annekseer en Duitse setlaars in die gebied te vestig. Hierdie plan sou op die volksmoord aan sowat drie miljoen inwoners van Leningrad uitgeloop het vir wie by hierdie Neuordnung des Ostraums ("Herordening van gebiede in die Ooste") geen plek meer was nie. Vir sy heldhaftige verdediging het die stad later die eretitel Heldestad van die Sowjetunie gekry.

Moderne geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die nuwe gebou van Rusland se Nasionale Biblioteek het langs die Moskou-prospekt ontstaan
Krestofski-stadion op die gelyknamige eiland

Volgens 'n besluit van Wladimir Lenin het Sint Petersburg in 1918 sy status as regeringsetel kwytgeraak; Russiese departemente en ander regeringsinstellings het vervolgens na Moskou teruggekeer. Vandag is Sint Petersburg - naas Moskou en die Goue Ring van Rusland een van drie hoofbestemmings in die Russiese Federasie vir buitelandse toerisme. Met sy argitektuur uit die agttiende en negentiende eeu, sy talle kanale, lang reguit strate, tuine, parke en paleise beskik die stad oor unieke argitektoniese ensembles. In 2018 het die stad 3,9 miljoen buitelandse ontvang. Ná die invoering van elektroniese visa vir toeriste uit 53 lande op 1 Oktober 2019 sal besoekergetalle in Sint Petersburg en die Leningrad-oblast na verwagting merkbaar toeneem.[5]

Daar is ook talle nywerhede, onder meer staal, chemie en masjienbou. Sint Petersburg is die setel van die Russiese Akademie vir Wetenskappe en het drie universiteite en ’n konservatorium. Daar is sowat 120 museums, waaronder die enorme Hermitage, en 18 teaters, waaronder die Marinskiteater. Sedert 1955 is daar ook ’n moltreinstelsel.

Bekende boorlinge[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. gks.ru: Bevolking soos op 1 Januarie 2020
  2. Karl Schlögel, Frithjof Benjamin Schenk en Markus Ackeret (reds.): Sankt Petersburg. Schauplatz einer Stadtgeschichte. Frankfurt am Main: Campus 2007, bl. 29
  3. (en) saint-petersburg.com: Quick Facts. Besoek op 7 Februarie 2020
  4. Jörg Ganzenmüller: Das belagerte Leningrad 1941–1944. Eine Stadt in den Strategien von Angreifern und Verteidigern. Schöningh, Paderborn 2005, bl. 13–82, Zitate bl. 17 en 20; das Joachim Hoffmanns Position betreffende Zitat bezieht sich auf dessen Beitrag: Joachim Hoffmann, Die Kriegführung aus der Sicht der Sowjetunion. In: Das Deutsche Reich und der Zweite Weltkrieg, hrsg. v. Militärgeschichtlichen Forschungsamt. Band 4. Der Angriff auf die Sowjetunion. DVA, Stuttgart 1983, ISBN 3-421-06098-3, S. 713–809, hier bl. 741.
  5. (en) Visit Petersburg - Official St. Petersburg City Guide: E-visa. Besoek op 14 Januarie 2020

Koördinate: 59°57′N 30°18′O / 59.950°N 30.300°O / 59.950; 30.300

Literatuur[wysig | wysig bron]

Peterhof
Die Katharina-paleis
Die Moskouse treinstasie van Sint Petersburg
  • Edward Acton: Rethinking the Russian Revolution. Oxford University Press 1990
  • Edward Acton, Vladimir Cherniaev en William G. Rosenberg (reds.): A Critical Companion to the Russian Revolution, 1914-1921. Bloomington 1997
  • John Barber: BBC History - Stalin and the Betrayal of Leningrad
  • Orlando Figes: A People's Tragedy: The Russian Revolution 1891-1924
  • Oleg Kobtzeff: "Espaces et cultures du Bassin de la Neva: représentations mythiques et réalités géopolitiques", in:Saint-Petersbourg: 1703-2003, Actes du Colloque international, Université de Nantes, Mai 2003, ouvrage coordonné par Walter Zidaric, CRINI, Nantes 2004
  • Р. А. Нежиховский: Река Нева и Невская губа. Leningrad: Гидрометеоиздат 1981
  • Richard Pipes: The Russian Revolution. New York 1990
  • Edvard Radzinsky: Stalin. The First In-depth Biography Based on Explosive New Documents from Russia's Secret Archives 1997
  • John Reed: Ten Days that Shook the World. Eerste uitgawe 1919, uitgegee deur BONI & Liveright, Inc. vir International Publishers. Transkripsie en aanmerkings deur David Walters vir John Reed Internet Archive. Penguin Books, eerste uitgawe 1980
  • Karl Schlögel: Petersburg. Das Laboratorium der Moderne 1909-1921. München en Berlyn: Carl Hanser 2002
  • Voline: The Unknown Revolution. Black Rose Books
  • Dmitri Volkogonov Stalin: Triumph and Tragedy 1996

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Wiki-webtuistes

Amptelike webtuistes

Algemene inligting

Media

Fotogalerye

Boukuns


|}