George Bernard Shaw

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

George Bernard Shaw 1925.jpg

George Bernard Shaw

Ierse toneelskrywer en politieke aktivis


Literêre genres
Satire, swart komedie


Literêre stroming
Ibsenisme, naturalisme


Beduidende werke

William Bruce Ellis Ranken Pygmalion.jpg
Pygmalion (1912)

George Bernard Shaw (* 26 Julie 1856 in Dublin, Ierland; † 2 November 1950 in Ayot Saint Lawrence, Engeland) was 'n Ierse dramaturg en medestigter van die London School of Economics. Hoewel hy hom aanvanklik as musiekresensent en literêre kritikus onderskei het, het hy sy ware talent as toneelskrywer getoon. Meer as sestig toneelstukke het uit sy pen gevloei, benewens essays, romans en kortverhale. Ofskoon hy in byna al sy geskrifte die maatskaplike vraagstukke van sy tyd aanspreek, het die werke gewoonlik 'n komiese inslag waardeur Shaw hul strak temas meer verteerbaar maak. Hy het hom onder meer toegespits op kwessies rondom opvoeding, die getroude lewe, godsdiens, regeringsake, gesondheidsorg en klassebevoorregting.

Wat veral sy toorn ontsteek het, was ekonomiese toestande wat hy as uitbuiting van die werkersklas beskou het. As vurige sosialis het Shaw talle brosjures en toesprake vir die Fabian Society geskryf. Hy het 'n bekwame redenaar geword om sy saak te bevorder en vir gelyke regte vir mans en vroue, verbeterde werk- en lewensomstandighede vir die werkersklas, die opheffing van private eienaarskap van produktiewe grond en gesonde leefstyle gepleit. Vir 'n kort tyd het hy as lid van die London County Council ook aktief aan die plaaslike politieke lewe deelgeneem.

In 1898 het Shaw met Charlotte Payne-Townshend, 'n medelid van die Fabian Society, getrou en haar later oorleef. Die egpaar het hulle in Ayot St. Lawrence gevestig en daar 'n huis bewoon wat tans as Shaw's Corner bekend staan. Hier is Shaw in 1950 in die ouderdom van 94 oorlede nadat beserings, wat hy opgedoen het toe hy van 'n leer geval het, tot chroniese gesondheidsprobleme gelei het.

Shaw is die enigste skrywer wat sowel met die Nobelprys vir Letterkunde (in 1925) asook die Akademieprys (Oscar) bekroon is - vir sy bydraes tot die letterkunde en die rolprent Pygmalion wat in 1938 ontstaan het. Shaw was oorspronklik van voorneme om die Nobelprys vir Letterkunde van die hand te wys omdat hy geen belang in openbare verering gestel het nie, maar het dit uiteindelik op versoek van sy vrou aanvaar aangesien sy die prys as 'n huldeblyk vir Ierland beskou het. Op versoek van Shaw is die prysgeld aangewend vir die vertaling van Sweedse boeke na Engels.[1]

Verwysings[wysig]

  1. A.M. Gibbs: Bernard Shaw: A Life. Gainesville, FL: University Press of Florida 2005, bl. 375-376

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan: