Krugerhuis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Krugerhuis
'n Beeld van die museum.
Krugerhuis

Plek Pretoria
Land Suid-Afrika
Openingsjaar 1934
Tipe museum Geskiedkundige huis
Webtuiste Ditsong: Kruger Museum

Die Krugerhuis is die historiese Pretoriase woning van die Afrikanerleier en president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Paul Kruger. Die Krugerhuis is tans 'n biografiese huismuseum wat die tydperk waarin Paul Kruger geleef het, weerspieël. Die huis is in Kerkstraat 60, naby Kerkplein en die standbeeld van Paul Kruger geleë. Die museum bestaan uit die oorspronklike woning, twee uitstalsale en Kruger se amptelike treinwa.[1]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Oom Paul Kruger en tannie Sanna voor hulle huis.

Die huis is ontwerp in 1884 deur die argitek Tom Claridge en gebou deur Charles Clark. Melk, in plaas van water, is gebruik om die sement te meng aangesien die sement wat beskikbaar was toe die huis gebou is, van 'n lae gehalte was.

Die huis was ook onder die eerste in Pretoria wat oor elektrisiteit en 'n telefoon beskik het.

In die huis word oorspronklike meubels, items van dieselfde periode, verskeie geskenke wat aan Paul Kruger gegee is en ander memorabilia uitgestal. Op die huis se stoep is twee klipleeus wat op 10 Oktober 1896 aan president Kruger as verjaarsdaggeskenk gegee is deur die mynmagnaat, Barney Barnato.

Ampstreinwa van die ZAR wat agter die Krugerhuis staan.

Agter die huis word die ampstreinwa van die ZAR bewaar. Die treinwa is in 1894 deur die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) by die maatskappy J.J. Beijnes in Nederland bestel. Dit is van ongeveer 1894 tot 1900 as 'n mobiele Volksraadsetel ter velde gebruik toe die Britse leër Pretoria ingeneem het. Kruger het ook daarin na die destydse Lourenco Marques gereis voordat hy in ballingskap na Europa vertrek het.[2]

Die Kruger-museum is in 1934 vir die publiek geopen en in 1937 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Krugerhuis in Clarens (Switserland)[wysig | wysig bron]

Die President van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Paul Kruger, het enkele weke in die huis, wat nou as Krugerhuis bekend staan, gewoon en is hier op 14 Julie 1904 oorlede. Die Krugerhuis, wat in 1873 opgerig is, lê langs die Meer van Genève en is in 1910 as 'n museum ingerig en vir die publiek toeganklik gemaak. President Kruger se sterfkamerbed en ander meubels is reeds in 1932 deur Suid-Afrika aangekoop en na die Krugerhuis in Pretoria gebring. Die museum het replikas ontvang.

In 1949 is die sterfhuis van President Kruger aan die Suid-Afrikaanse regering te koop aangebied. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is versoek om geld in te samel, en nadat Suid-Afrikaners landswyd hulle bydraes tot die koste gemaak het, is die huis op 27 Februarie 1950 gekoop. Die museum is namens die regering deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Switserland in stand gehou.

In die negentigerjare kon die regering die onderhoud nie meer bekostig nie, en die FAK het die museum in 1994 weer oorgeneem. Danksy die bydrae van die Uitvoerende Voorsitter van die maatskappy Genfood, Johann Roode, is die Krugerhuis in Clarens gerestoureer en as 'n gastehuis onder die naam "Villa Kruger" bedryf.

In 2005 is die Krugerhuis aan 'n Switserse privaateienaar verkoop. Die FAK het egter 'n servituut oor die sterftekamer van President Kruger behou, en die huis staan ook oop vir die publiek. Tans stel veral besoekers uit Nederland, Duitsland en Rusland belang in die Krugerhuis.

Krugerhuis in Maputo (Mosambiek)[wysig | wysig bron]

Kruger het op 19 Oktober 1900 met die skip Gelderland na Europa vertrek. In die vyf weke wat hy in die destydse Lourenco Marques vir sy vertrek moes wag, het hy in 'n huis gewoon wat later as Krugerhuis bekend geword het. Die huis is blykbaar op 1967 tot gedenkwaardigheid verklaar op inisiatief van dr. Francisco Velozo, 'n regter van die Portugese hooggeregshof.

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Koördinate: 25°44′48.19″S 28°10′52.96″O / 25.7467194°S 28.1813778°O / -25.7467194; 28.1813778