Brasília

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Brasilia)
Spring na: navigasie, soek

Brasília
Montagem Brasília.jpg

Kaart Wapen
Br-map.gif
Brasão do Distrito Federal (Brasil).svg
Vlag
Bandeira do Distrito Federal (Brasil).svg
 Land Flag of Brazil.svg Brasilië
 Koördinate 15°47′S 47°53′W Koördinate: 15°47′S 47°53′W
 Stigting 21 April 1960
 Oppervlakte:  
 - Totaal 472,12 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 050-1 200 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2005) 199 062
 - Bevolkingsdigtheid 422/vk km
 - Metropolitaanse gebied 2 333 108
 Tydsone UTC -3
 Burgemeester Maria da Lourdes Abadia
 Amptelike Webwerf brasilia.df.gov.br

Brasília (die diakritiese teken word in Afrikaans dikwels weggelaat, dus ook Brasilia) is die hoofstad van Brasilië. Die stad lê in die Federale Distrik van Brasilië (Portugees: Distrito Federal do Brasil, amptelike afkorting: DF) en strek oor 'n oppervlak van 472,12 vierkante kilometer. Die stadsgebied het sowat 200 000 inwoners (2005), terwyl die metropolitaanse gebied van Brasília met 'n oppervlak van 5 822 vierkante kilometer 'n bevolking van 2,3 miljoen het. Die stad is omring deur satellietstede.

Die Federale Distrik lyk met sy uitgestrekte landbougebiede en 'n lae bevolkingsdigtheid eerder op 'n klein deelstaat. Met die oprigting van die kunsmatige hoofstad Brasília, wat op die sentrale plato van Brasilië lê en dieselfde afstand van die mees noordelike groot stad, Belém, en die mees suidelike, Porto Alegre, het, het die Brasiliaanse staatspresident Juscelino Kubitschek in die vyftigerjare van die 20ste eeu 'n ou droom verwesenlik.

Brasília, wat in April 1960 amptelik ingewy is, versinnebeeld die inbesitneming van die Brasiliaanse binneland en is tegelykertyd een van die mees ambisieuse argitektoniese projekte van die 20ste eeu. Brasília is deur UNESCO later as 'n wêrelderfenisgebied gelys.

Geografie[wysig]

Brasília maak deel uit van die Federale Distrik van Brasilië, wat deur President Kubitschek binne die grense van die deelstaat Goiás geskep is. Die distrik word in die weste deur die Descoberto- en in die ooste deur die Pretorivier begrens. Die stad lê in die hoogland van die Planalto Central, die sentrale plato van Brasilië met 'n hoogte van sowat 1 000 meter bo seevlak, naby die waterskeiding tussen die Amazonas- en die Rio de la Plata-gebiede.

Brasília lê sowat 1 015 kilometer van São Paulo, 1 130 kilometer van Rio de Janeiro, 2 280 kilometer van Recife, 2 120 kilometer van Belém en 207 kilometer van Goiânia (die hoofstad van die omliggende deelstaat Goiás) af. Brasília vorm saam met die stede en dorpe in sy omgewing in administratiewe opsig 'n selfstandige gebied.

Geskiedenis[wysig]

Rio de Janeiro het sedert 1763 as die administratiewe hoofstad van Brasilië gedien, en die suid-ooste van die land het eeue lank die kerngebied van die land se ekonomiese ontwikkeling gebly. Die Brasiliaanse vryheidsvegter Tiradentes het reeds in die jaar 1789 vir 'n hoofstad in Sentraal-Brasilië gepleit, aangesien die destydse owerhede in die kusgebied min omgegee het vir die belange van die gewone mense. In 1821 het 'n Brasiliaanse afgevaardigde in die Portugese hoofstad Lissabon 'n voorstel vir die oprigting van 'n sentraal geleë hoofstad gemaak, en vanaf 1890 is ondersoeke ingestel om 'n geskikte terrein in die binneland vir die beplande stad te vind. In die volgende jaar is die besluit om die Brasiliaanse hoofstad na die sentrum van die land te verskuif in die Brasiliaanse grondwet vasgeskryf, en in 1893 is 'n gebied van 14 400 vierkante kilometer vir die oprigting van die nuwe hoofstad afgebaken. Die hoeksteen is op 7 September 1922 naby die stad Planaltina gelê.

Maar eers in 1946 het die voorneme om die die hoofstad op te rig gestalte gekry. President Getúlio Vargas het die projek weens ander vraagstukke nie self aangepak nie, sodat die oprigting van Brasília eers gedurende die ampstermyn van sy opvolger, Juscelino Kubitschek, begin het.

Die eerste boumateriaal en gereedskappe is met valskerms in 'n gebied afgewerp, wat aanvanklik net deur 'n aantal inheemse stamme bewoon is. Daarna is die stad vinnig ontwerp en gebou, en naas President Kubitschek was dit veral die bekende Brasiliaanse argitek Oscar Niemeyer en die stadsbeplanner Lucio Costa, wat 'n belangrike rol by die totstandkoming van die nuwe hoofstad gespeel het. Uiteindelik was 60 000 werkers drie jaar lank by die boubedrywighede betrokke en is een miljoen kubieke meter beton en 100 000 metriese ton staal vir die projek gebruik. Sement is per vliegtuig na die gebied vervoer aangesien daar nog geen paaie was nie.

Die oorspronklike plan van Brasília, die plano piloto
Die Palácio da Alvorada, ampswoning van die president

Oscar Niemeyer is as die amptelike projekleier benoem en het die openbare geboue ontwerp. Lucio Costa het die plattegrond van die projek ontwerp, wat op 'n vliegtuig of 'n voël met gespreide vlerke gelyk het en vervolgens as die Plano Piloto bekend gestaan het. In argitektoniese opsig is die katedraal en die parlementsgebou as die belangrikste bakens van die nuwe stad beplan. Die Palácio da Alvorada, die ampswoning van die Staatspresident van Brasilië, is as die eerste openbare gebou reeds in 1958 voltooi, terwyl sy amptelike werkplek, die Palácio do Planalto, in 1960 ingewy is.

Brasília is uiteindelik op 21 April 1960, die 168ste verjaardag van die vryheidsvegter Tiradentes, ingewy. Anders as sy voorganger Rio de Janeiro was die nuwe hoofstad vry van enige koloniale en boukundige erfenis, sonder barok- en klassieke geboue, en ook sonder krotbuurte. Dit was 'n rasionaal beplande stad met suiwer lyne en groot oop ruimtes, in 'n landskap van eindelose vlaktes wat tot die gesigseinder strek.[1]

As 'n uitgestrekte stad was Brasilia allesbehalwe vir voetgangers ontwerp, en so het motors van begin af 'n sentrale rol as vervoermiddel gespeel. Die meerderheid van die politici en afgevaardigdes, wat na Brasília moes verhuis, was aanvanklik nie gaande oor die nuwe stad in die wildernis nie en het oor naweke teruggevlieg na Rio de Janeiro.

Die Universiteit van Brasília is op 21 April 1962 geopen. Sowat een maand later, op 31 Mei, is ná tien jaar se boutyd ook die katedraal van Brasília ingewy. Ander belangrike geboue, wat later voltooi is, sluit die televisietoring (1967), die poskantoor (1977), die stadspark (1978) en die Sentraalbank (1981) in.

Sedert 1987 word Brasília deur UNESCO as 'n wêrelderfenisgebied gelys. Die eerste lyn van die stad se moltreinnetwerk is ná nege jaar se boutyd op 31 Maart 2001 amptelik ingewy.

Woonsituasie[wysig]

Esplanada dos Ministérios

Brasília word tans veral deur mense uit die middel- en hoëklas bewoon. Die oorspronklike bouplan het geen voorsiening gemaak vir die groot getalle werkers wat veral uit die noordooste van die land na die hoofstad gestroom het nie. Hulle word merendeels in die satellietstede rondom Brasília gehuisves. Alhoewel groot gebiede in die federale distrik vir die vestiging van nywerhede gereserveer was, het min industriële maatskappye hulle hier gevestig.

Terwyl die satellietstede deur hoë werkloosheidsyfers en gepaardgaande verskynsels soos drank- en dwelmmiddelmisbruik en hoë misdaadvlakke gekenmerk word, geniet die bewoners van Brasília danksy talle parke en 'n uitstekende infrastruktuur in vergelyking met ander Brasiliaanse stede 'n relatief hoë lewensgehalte.

Nogtans beskik die stad vanweë die gebrek aan sosiokulturele instellings nie oor die polsende lewe en fasiliteite vir kulturele aktiwiteite wat algemeen aan 'n hoofstad of metropool verbind word nie. Baie politici, afgevaardigdes en amptenare spandeer naweke dan ook liewer in ander stede. Nogtans bly Brasília met sy hipermoderne argitektuur, aangename klimaat, hoë lewensgehalte, landskapsbeplanning, ryk flora en doeltreffende verkeerstelsel 'n simbool vir die vooruitgang van Brasilië waarin nog groot potensiaal vir ontwikkeling opgesluit lê.

Verwysings[wysig]

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Brasília (kategorie)
Vlag van Brasilië Hoofstede van Brasilië Wapen van Brasilië
Hoofstede AracajuBelémBelo HorizonteBoa VistaBrasíliaCampo GrandeCuiabáCuritibaFlorianópolisFortalezaGoiâniaJoão PessoaMacapáMaceióManausNatalPalmasPorto AlegrePorto VelhoRecifeRio BrancoRio de JaneiroSalvador da BahiaSão PauloSão LuísTeresinaVitória