Dullstroom

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Dullstroom
'n Hengeldam naby Dullstroom
'n Hengeldam naby Dullstroom
Ligging van Dullstroom op 'n kaart (Mpumalanga)
Dullstroom
Dullstroom
 Dullstroom se ligging in Mpumalanga
Koördinate: 25°25′S 30°7′O Koördinate: 25°25′S 30°7′O
Land Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Provinsie Mpumalanga
Distrik Nkangala
Munisipaliteit Emakhazeni
Stigting 1883
Oppervlak[1]
 - Dorp 30,40 km²  (11,7 vk m)
Hoogte 2 100 m (6 890 vt)
Bevolking (2011)[1]
 - Dorp 558
 - Digtheid 18/km² (46,6/myl2)
Ras (2011)[1]
 • Swart 8.1%
 • Indiër/Asiër 7.3%
 • Blank 84.2%
 • Ander 0.4%
Taal (2011)[1]
 • Engels 50.7%
 • Afrikaans 42.1%
 • Ndebele 2.0%
 • Sotho 2.0%
 • Ander 3.2%
Poskode (straat) 1110
Poskode (posbus) 1110
Skakelkode(s) 013
Webwerf: http://www.dullstroom.co.za/

Dullstroom is 'n dorp op die oostelike platorand van die provinsie Mpumalanga (Suid-Afrika) en vanweë sy ligging teen 'n hoogte van 2 100 meter bo seevlak een van die koelste plekke in die provinsie. Saam met Barkly-Oos en Underberg is Dullstroom danksy 'n groot aantal bergriviere en damme met forelle die belangrikste bestemming vir vliegvis-hengelsport in die land. Die dorp lê teen die voet van Die Berg, die hoogste bergspits in die provinsie (2 332 meter), wat deel uitmaak van die Steenkampsbergreeks, en pronk daarnaas ook met die hoogste spoorwegstasie in Suid-Afrika (2 076 meter bo seevlak) in die nabygeleë Nederhorst.

Dullstroom is in 1883 deur 'n groep Nederlandse immigrante onder die leiding van Wolterus Doll aangelê. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is die dorp verwoes, en die meeste setlaars het na Nederland teruggekeer.

Die gebied van Dullstroom is op 1 Augustus 2006 deur 'n tornadoagtige storm verwoes.

Klimaat[wysig]

Dullstroom het 'n koel klimaat, en weerstoestande verander baie vinnig in die gebied. Die dorp lê in die somerreëngebied van Suid-Afrika, maar kry soms ook in die winter een of twee reënbuie. Die hoogste maandelikse reënval van 212 millimeter is in Januarie 1998 aangeteken. Daar is 'n moontlikheid van sneeuvalle in die winter, met 'n rekord van 12 millimeter op 16 Julie 1996 en 10 millimeter op 28 Mei 1997.

Die gemiddelde minimum-temperature in winter wissel tussen 2,4 °C in Julie en 9,2 °C in September. Die temperatuur daal gereeld tot onder vriespunt op winternagte. Die maksimum-temperature in winter wissel tussen 14,0 °C in Julie en 19,7 °C in September.

Die gemiddelde minimumtemperature wissel in die lente- en somermaande tussen 8,9 °C in April en 12,6 °C in Januarie. Die gemiddelde maksimum-temperature wissel tussen 17,8 °C in April en 21,0 °C in Februarie.

Geskiedenis[wysig]

Die gebied is teen die middel van die 19de eeu deur 'n Ndebele-stam onder die leiding van hoof Mapoch oorheers. Hy het net soos later ook sy seun Njabel, wat Mapoch se Grotte as 'n skuilplek gebruik het, verskeie kere teen troepe van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek geveg. Die hewigste gevegte het in 1882 en 1883 uitgebreek. Die grotte is tot nasionale monument verklaar. Die nabygeleë Fort Mapoch en 'n standbeeld van Njabel is nog steeds besienswaardighede in Dullstroom.

Die staatshoof van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), president Paul Kruger, het in die 1880's Nederlandse immigrasie bevorder. In 1883 is 'n maatskappy onder die leiding van Wolterus Dull gestig, om nouer bande tussen die ZAR en Nederland op te bou. Die maatskappy het uiteindelik die plase Groot Suikerboschkop en Elandslaagte gekoop om hier 'n nedersetting te stig.

Die eerste Nederlandse setlaars het tussen 1884 en 1887 in Suid-Afrika aangekom. Wolterus Dull het in 1890 'n besoek by die klein nedersetting afgelê, wat deur die immigrante op die plaas Groot Suikerboschkop opgerig is. Die nedersetting is in 1892 deur Paul Kruger tot 'n dorp verklaar en aanvanklik Dull's-stroom genoem. Die naam, wat afgelei is van Wolterus Dull en die nabygeleë Krokodilrivier, is later vereenvoudig en gewysig tot Dullstroom. In 1893 het die bevolking op 48 mense te staan gekom, wat oor agt huise, drie stalle, tien beestekrale en hul eie klein handelsmaatskappy en winkel beskik het.

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog is die dorp in Mei 1900 deur Britse troepe beset en volledig verwoes. Terwyl baie mans teen die Britte geveg het, is vroue en kinders na 'n Britse konsentrasiekamp in Belfast geneem. Ná die Slag van Dalmanutha in Augustus 1900 het die stryd teen die Britte in 'n guerillaoorlog ontwikkel, en in die Dullstroomgebied was Boerevegters in sporadiese gevegte met die Britse troepe betrokke.

Ná die oorlog het sommige van die immigrante teruggekeer en die dorp herbou. In die jaar 1921 het Dullstroom sy eerste dorpsraad gekry. Nadat die vliegvis-hengelsport, wat oorspronklik in Nieu-Engeland uitgevind is, ook by welvarende Johannesburgers gewild geraak het, is eiendomme met foreldamme aangekoop, waar stadsmense steeds dié sport beoefen.

Sien ook[wysig]

Eksterne skakels[wysig]

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Hoofplek Dullstroom”. Sensus 2011.