Frederik V van Denemarke
Frederik V | |
---|---|
Koning van Denemarke en Noorweë | |
Portret deur Carl Gustav Pilo.
| |
Tydperk | 6 Augustus 1746 – 14 Januarie 1766 |
Voorganger | Christiaan VI |
Opvolger | Christiaan VII |
Huis | Oldenburg |
Vrou | Louise van Groot-Brittanje Juliana Maria van Brunswyk-Wolfenbüttel |
Vader | Christiaan VI |
Moeder | Sophia Magdalene van Brandenburg-Kulmbach |
Gebore | Kopenhagen | 31 Maart 1723,
Oorlede | 14 Januarie 1766 (op 42), Kopenhagen |
Frederik V (31 Maart 1723 - 14 Januarie 1766) was van 1746 tot met sy dood koning van Denemarke en Noorweë en Hertog van Sleeswyk-Holstein. Hy was die seun van koning Christiaan VI en Sophia Magdalene van Brandenburg-Kulmbach.
Lewe
[wysig | wysig bron]Christiaan VI en sy vrou was diep gelowig en Frederik het ’n streng godsdienstige opvoeding gehad. Hoewel hy nie ongevoelig teenoor godsdiens was nie, het hy ’n hedonis geword wat die plesiere van die lewe soos wyn en vroue geniet het.
Frederik se plesierige lewe het die onderhandelings vir ’n huweliksmaat bespoedig; hy is op 11 Desember 1743 getroud met Louise, dogter van koning George II van Groot-Brittanje. Hulle het ses kinders gehad, waarvan een doodgebore is. Hy het egter vele verhoudings gehad en by een ander vrou nog vyf kinders gehad.
Op 6 Augustus 1746 is sy pa dood en hy het die troon bestyg. Frederik se persoonlike invloed was beperk. Sy lewe is deur alkoholisme gekenmerk en die grootste deel van sy regering is deur bekwame ministers waargeneem. Hulle het gesorg vir die vooruitgang van die handel en het Denemarke uit die Europese oorloë gehou. In dieselfde tyd is ’n skool vir arm seuns gestig en die land se eerste lotery begin. Albei bestaan vandag nog. Kuns en wetenskap het ook tydens Frederik se bewind gedy en hoewel hy nie self in kultuursake belanggestel het nie, het die publiek vryheid van uitdrukking geniet wat onbekend was onder Christiaan VI se bewind.
Louise is skielik op 19 Desember 1751 oorlede en dit het ’n groot impak op die hoflewe gehad omdat sy so gelief was. Sy was in dié tyd swanger met haar sesde kind, wat saam met haar dood is. Op 8 Julie 1752 is Fredrik weer getroud, met Juliana Maria van Brunswyk-Wolfenbüttel. Sy was nie baie gewild nie weens haar rigiede Duitse etiket, wat heeltemal verskil het van dié van die Engelse Louise.
Hul bekendste kind was prins Frederik, wat weer die pa was van koning Christiaan VIII van Denemarke en die oupa van Louise van Hesse, die toekomstige koningin van Denemarke.
In 1760 het Frederik sy been in ’n dronkenskapvoorval gebreek en dit het hom verswak. Hy is in die ouderdom van 42 oorlede, ná ’n bewind van 20 jaar.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Die Koninklike Stamboek Geargiveer 14 Maart 2015 op Wayback Machine op die webtuiste van die Deense Monargie
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Frederik V van Denemarke.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia