Armeens
- Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Armeniërs.
Armeens հայերէն of հայերեն, hayeren | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [hɑjɛˈɾɛn] | |
Gepraat in: | Armenië Azerbeidjan Frankryk Georgië Rusland Verenigde State | |
Gebied: | Kaukasus | |
Totale sprekers: | 5,3 miljoen[1] | |
Rang: | 94 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Armeens | |
Skrifstelsel: | Armeense alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Armenië Republiek Artsach | |
Gereguleer deur: | Instituut van Armeens | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | hy | |
ISO 639-2: | hye | |
ISO 639-3: | hye | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Armeens (հայերէն/հայերեն, hayeren, [hɑjɛˈɾɛn]) is 'n Indo-Europese taal wat deur sowat 6,7 miljoen mense in Armenië, Georgië, Azerbeidjan en Rusland gepraat word. Armeens is die amptelike taal van Armenië en beskik oor sy eie unieke alfabet, die Armeense alfabet, wat in 406 n.C. deur Mesrob Mashtots, 'n monnik, teoloog en taalkundige, ontwikkel is.
Armeens word in altesaam vier taalvorme verdeel:
- Oud-Armeens (Գրաբար – ook Grabar genoem, 5de tot 11de eeu), waarvan die oudste geskrewe dokumente uit die 5de eeu n.C. dateer. As literêre taal was Oud-Armeens nog tot in die 19de eeu in gebruik en vervul steeds godsdienstige funksies. Oud-Armeens is in 'n veelsydige literatuur oor teologiese onderwerpe, historiese gebeurtenisse, as taal van digkuns en epiese literatuur oorgelewer.
- Middel-Armeens (11de tot 17de eeu) en Nieu-Armeens (Asjcharabar, vanaf die 17de eeu) met
- Oos-Armeens (Արևելյան հայերեն – Areweljan Hajeren), die huidige ampstaal van die Republiek van Armenië en die (internasionaal nie-erkende) Republiek van Nagorno-Karabach wat ook deur Armeense gemeenskappe in Iran, Georgië, Rusland en voormalige deelgebiede van die Sowjetunie gepraat word.
- Wes-Armeens (Արևմտեան հայերէն – Arewmtjan Hajeren), oorspronklik die omgangstaal van Wes-Armenië (tans Anatolië in Turkye), wat ná die Armeense Volksmoord in die Ottomaanse Ryk nog deur baie Armeniërs in die diaspora gepraat word, veral in Libanon en in die Verenigde State. Wes- en Oos-Armeens verskil van mekaar ten opsigte van woordeskat, grammatikale besonderhede en uitspraak.
Ten opsigte van sy woordeskat toon Armeens baie ooreenkomste met die Griekse taal, soos uit parallele etimologiese wortels blyk. Taalkundiges neem dan ook aan dat daar 'n nou verwantskap tussen dié twee tale bestaan. Armeens het daarnaas ook woorde uit Irannese tale, Parthies, Middel-Persies, Persies, Frans, Latyn en veral Russies (veral tegniese vakterme en woorde uit die omgangstaal) ontleen.
Weens die groot aantal leenwoorde uit Irannese tale is Armeens vroeër valslik as 'n Irannese dialek beskou. Ná die onafhanklikwording van Armenië geniet taalsuiwering en taalkultuur steeds meer aandag.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Armenian". Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Junie 2019. Besoek op 28 Augustus 2020.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Armeens.
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir Armeens.
- (en) "Armenian language". Encyclopædia Britannica. Besoek op 28 Augustus 2020.