Insek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Insekte
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk: Animalia
Filum: Arthropoda
Subfilum: Mandibulata
Klas: Insecta
Linnaeus, 1758

Insekte (Insecta) is 'n klas van die geleedpotiges (Arthropoda). Die klas bevat ongeveer 950 000 soorte en is verreweg die grootste klas van alle diere: ongeveer 70% van die byna 1 miljoen ontdekte diersoorte hoort tot die insekte.

Insekte het, nes ander geleedpotiges, gesegmenteerde liggame en gelede pote (vandaar die naam "geleedpotige") en haal asem deur middel van 'n trageëstelsel. Kenmerkend van insekte is hulle ses pote en sommige insekte het ook 'n duidelike eksoskelet. Die liggaam van 'n insek is in drie verdeel: die kop, borsstuk en agterlyf, alhoewel die verdeling nie altyd duidelik is nie. By sommige insekte is die dele saamgesmelt of is van die dele gesplete.

Insekte ontwikkel uit 'n eier en gaan deur verskillende stadiums voor hulle volwassenheid bereik, waaronder 'n papiestadium.

Insekte lewe op land en in varswater, alhoewel daar 'n paar soorte is wat ook in seewater woon. Die vakgebied wat hom besig met die bestudering van insekte heet insektekunde, oftewel entomologie.

Sommige insekte is van groot nut vir die mens en word op groot skaal gekweek, soos bye (vir hul heuning) en sywurms (vir sy). Ander bestuif plante, beheer pesinsekte en dien as voedsel vir ander diere. Daar is ook insekte wat 'n plaag beskou word, soos dié wat gewasse beskadig of siektes oordra. Insekte speel ook 'n kosbare rol in biologie: navorsing oor die vrugtevlieg het 'n onskatbare bydrae tot genetika gelewer.

Kommunikasie tussen insekte vind plaas deur middel van geurstowwe of liggaamsgedrag.

Die volwasse moderne insekte wissel in grootte van 0,139 mm ('n dwerperdeby, Dicopomorpha echmepterygis) tot 56,7 cm (lang stokkieduiwel, Phobaeticus chani). Die uitgestorwe Meganeura, wat 300 miljoen jaar gelede gelewe het, was die grootste insek ooit, met 'n vlerkspan van 75 cm.

Taksonomie[wysig]

Die klas van die insekte is onderverdeel in sowat dertig ordes:

Baie taksonome beskou nie die groepe primitiewer sespotige hierbo as binne die klas van die insekte nie, en beskou net die volgende ordes as 'regte' insekte.

Bronnelys[wysig]

  • Insekte in Wêreldspektrum, volume 12. 1983 Ensiklopedie Afrikana: (EDMS) BPK.