Wakkerstroom
Wakkerstroom | |
---|---|
Koördinate: 27°21′S 30°08′O / 27.350°S 30.133°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Mpumalanga |
Distrik | Gert Sibande |
Munisipaliteit | Pixley ka Seme |
Stigting | 1859 |
Oppervlak | |
• Totaal | 87,68 km2 (33,85 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 6 852 |
• Digtheid | 78/km2 (200/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 10.2% |
• Indiërs/Asiërs | 1.3% |
• Bruin mense | 0.3% |
• Swart mense | 87.8% |
• Ander | 0.4% |
Taal (2011) | |
• Zoeloe | 86.2% |
• Engels | 4.2% |
• Afrikaans | 3.7% |
• Ndebele | 1.6% |
• Ander | 4.2% |
Poskode (strate) | 2480 |
Poskode (posbusse) | 2480 |
Skakelkode | 017 |
Webwerf | http://www.wakkerstroom.info |
Wakkerstroom is die tweede oudste dorp in Mpumalanga in Suid-Afrika. Dit is in 1859 gevestig en die dorp se naam is 'n Afrikaanse vertaling van die Zoeloenaam vir die rivier wat naby die dorp verby vloei, die uThaka, (Wakker). Die R543-streeksroete gaan deur die dorp.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die dorp is deur Dirk Cornelius Uys (Swart Dirk) gestig wat die gebied opgemeet het op die plaas Gryshoek. Hy het al die erwe uitgelê met 'n 50-jaart lang riempie wat van 'n elandbulvel gemaak is wat hy geskiet het tydens sy aankoms in Wakkerstroom. Die dorp en distrik is in November 1859 geproklameer en die eerste erwe in 1864 verkoop.
St Marks kerk, die hofgebou en die ou brug oor die Wakkerstroom is as nasionale monumente verklaar. Die roman She is deur H. Ryder Haggard geskryf terwyl hy in Hoogstraat in Wakkerstroom gebly het. Die dorp spog met 'n straatbrug wat in 1893 deur die regering van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek opgerig is. Die staalkonstruksie vir die brug is uit Duitsland ingevoer. Naby die brug vloei die Marthinus Wesselstroom. Hier is Suid-Afrika se eerste Swart lede van die Zionistebeweging in 1904 deur D. Bryant van die American Christian Catholic Church in Zion gedoop.
Eerste Vryheidsoorlog
[wysig | wysig bron]Wakkerstroom is deur die 58th Regiment North Staffordshires, die 80th Regiment of Foot (Staffordshire Volunteers) en die 1st King's Dragoon Guards beset in 1880/81 tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Oorblyfsels van die South Staffordshires Regiment en die Dragoon Guards se teenwoordigheid kan gesien word op die spits van die Ossewakop en Voortrekkerkop suid van Wakkerstroom.
Tweede Vryheidsoorlog
[wysig | wysig bron]Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het die Britte 'n lyn van een-en-twintig blokhuise tussen Volksrust en Wakkerstroom gebou en een honderd tussen Wakkerstroom en Piet Retief. Die blokhuise is gebou om die Britse toevoerroete van Durban af te beskerm.
Distrik
[wysig | wysig bron]Die distrik is 2 323 km2 groot. Skaap- en beesboerdery is die hoof ekonomiese aktiwiteite. Daar is verskeie San-rotstekeninge te vinde in die gebied om Wakkerstroom. Die gebied is heuwelagtig met klowe, bergfonteine, vleigebiede en damme. Dit is wêreldbekend as 'n voëlkykparadys.
Boorlinge van Wakkerstroom
[wysig | wysig bron]- Wena Naudé, Afrikaans aktrise.
Sien ook
[wysig | wysig bron]- NG gemeente Wakkerstroom
- Wakkerstroom (kiesafdeling)
- Vrou Soek Boer, rolprent wat hier verfilm is
- Lys van dorpe in Suid-Afrika
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 "Hoofplek Wakkerstroom". Sensus 2011.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4
- Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
- Olivier, ds. P.L. (samesteller), 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.